Medewerkers
Welkom by
jouwêreld – en dankie vir jou belangstelling om as medewerker
betrokke te raak en jou skryfwerk of bydraes voor te lê vir plasing!
Hierdie afdeling bevat al die inligting wat jy sal benodig. Indien jy nie 'n antwoord
op jou vraag hier vind nie, stuur 'n navraag aan
redaksie@jouwereld.co.zaOns sien baie
uit daarna om jou bydraes te ontvang!
Wie kan 'n medewerker raak?
Kan ek my skryfwerk op meer as een webwerf publiseer?
Stuur jou bydrae, artikel of storie só.
Stuur jou illustrerende foto’s só.
Hoe weet ek of my bydrae ontvang is en wel gepubliseer gaan word?
Wat is my verantwoordelikheid as medewerker na my bydrae gepubliseer is?
Watter tipe bydraes, artikels en stories kan ek lewer?
Hoe kan ek my vriende in kennis stel van my stories wat gepubliseer is?
Wie kan 'n medewerker raak?
jouwêreld het 'n oopdeur-beleid vir almal wat hul werk as medewerkers in die tydskrif wil publiseer.
Dit kan jou die geleentheid gee om dit waarvoor jy 'n groot passie het te doen: om in Afrikaans te kan skryf, én om jou werk gepubliseer te sien. Mét die gepaardgaande genoegdoening dat ander mense regoor die wêreld, wat jou passie vir die Afrikaanse media deel, jóú werk gaan lees en daarop kommentaar gaan lewer.
Nog 'n lekker gedagte is dat jý dan ook deel van die Afrikaanse mediageskiedenis gaan word – om deel te wees van die eerste Afrikaanse e-gesinstydskrif! Jy kry ook internasionale blootstelling vir jou skryfwerk. Anders as die gedrukte tydskrif-media wat net in Suid-Afrika versprei, word jouwêreld deur Afrikaanssprekendes regoor die wêreld gelees.
Almal is dus welkom om deel van die medewerkersgroep te raak en hul skryfwerk voor te lê vir moontlike plasing. Dié bydraes moet egter inpas by een van die afdelings in die tydskrif, en word deur 'n paneel van vier mense gekeur voordat dit geplaas word. Om te verseker dat die inhoud van die tydskrif aan 'n joernalistieke standaard voldoen, word alle bydraes eers deur kenners op hul gebied taalversorg en publikasiegereed gekry voordat dit gepubliseer word.
jouwêreld is by die wêreldleier op soekenjins, Google, geregistreer. Dit beteken dat wanneer iemand jou naam op dié kragtige soekenjin sou soek, hy jou onmiddellik gaan identifiseer.
terug na bo
Kan ek my skryfwerk op meer as een webwerf publiseer?
Ja, beslis. Bydraes van medewerkers hoef nie spesiaal en uitsluitlik vir jouwêreld geskryf te word nie. Medewerkers kan werk wat hulle reeds op ander webtuistes geplaas het, of wat deur ander publikasies gepubliseer is, ook by jouwêreld vir moontlike publisering indien. Onthou net om die nodige creds by jou storie aan te bring, indien die ander werf of publikasie waarin jou bydrae reeds verskyn het, dit vereis.
Ons sien dit nie as duplisering nie, maar eerder as “networking” tussen ons, die Afrikaanse leser, die medewerker en ander webwerwe en gedrukte media – met die uitsluitlike doel dat Afrikaanse artikels en stories van Afrikaanse medewerkers maksimale blootstelling op alle platforms ontvang.
Dit kan tog nie geredeneer word dat wanneer 'n storie in die gedrukte media in Tydskrif A verskyn, of 'n rubriek wat op Webwerf B geplaas is, reeds deur alle Afrikaanse lesers wêreldwyd in A of B gelees is nie!
jouwêreld bring dus groter en internasionale blootstelling vir medewerkers se werk.
jouwêreld sien homself nie as “kompetisie, opposisie of vyand” van enige ander Afrikaanse gedrukte- of elektroniese media nie, en dié media word ook nie deur jouwêreld as“kompetisie, opposisie of vyand” gesien nie. Elkeen vervul 'n unieke rol om inligting, kennis en vermaak aan soveel as moontlik Afrikaanse lesers oor te dra.
terug na bo
Stuur jou bydrae, artikel of storie só
Wanneer jy jou bydrae as medewerker instuur vir moontlike plasing, maak seker dat jy die volgende riglyne volg:
1. Die tema van jou artikel, storie of bydrae moet inpas in een van die onderskeie onderafdelings van die tydskrif.
2. Werk moet in Afrikaans gelewer word en as 'n aparte aanhangsel in 'n WORD-dokument gestuur word.
3. Stuur jou bydrae aan redaksie@jouwereld.co.za voor die 20ste van elke maand vir moontlike plasing in die volgende maand se uitgawe. Bydraes wat na die 20ste ontvang word, sal heel moontlik oorstaan en eers 'n maand later gebruik word.
4. Lengte van werk moet so tussen 500 en 1 300 woorde wees. Die slim mense het te vertelle dat wanneer 'n internet-artikel die 1 000-woordmerk verbysteek, die moontlikheid ontstaan dat lesers nie verder gaan lees nie en sommer die bladsy sal toemaak. Indien jou bydrae langer as 1 300 woorde is, sal dit deur die jouwêreld-taalversorgers gesny word.
5. Beskrywende en illustrerende foto’s wat saam met jou bydrae gepubliseer gaan word, mag nie in die WORD-dokument geplaas word nie, maar moet as aparte files in 'n JPEG-formaat, nie groter as 200kb, gestuur word.
6. Binne die WORD-dokument saam met jou bydrae, moet die volgende ook verskyn, in die volgende volgorde:
a) Die moontlike afdeling waarin jy jou bydrae wil publiseer (nie verpligtend)
b) 'n Moontlike kop vir jou bydrae (nie verpligtend, maar verkieslik)
c) 'n Prikkel vir jou bydrae bestaande uit een sin of kort paragraaf (nie verpligtend, maar verkieslik)
d) Jou skrywersnaam (verpligtend, al is jy 'n gereelde medewerker)
e) Jou e-posadres (verpligtend, al is jy 'n gereelde medewerker)
f) Dan volg jou storie of artikel van tussen 500 en 1 300 woorde.
g) Alle creds, verwysings en internetskakels wat jy verlang (indien enige) moet jy aan die onderkant van jou storie aanbring.
h) Daarna volg die onderskrifte van jou foto’s. Gee ook die korrekte ID-naam van die foto’s, sodat ons kan weet watter foto pas by watter onderskrif.
7. Medewerkers wat vir die eerste keer 'n bydrae lewer, moet 'n klein kop-en-skouer-foto van hulself saam met die eerste bydrae instuur. Dié foto word by die storie geplaas. (Verpligtend). Dit is nie nodig om die foto weer te stuur saam met volgende bydraes nie.
8. Kwaliteit van skryfwerk is verder ook baie belangrik. Goeie taalgebruik en sinskonstruksie, korrekte joernalistieke inslag en foutlose spelling in die finale produk is belangrik en sal help dat bydraes vinniger geplaas kan word.
Medewerkers se bydraes sal altyd deur die tydskrif se subredakteurs taalkundig versorg en gekorrigeer word. Dit sal egter gedoen word sonder om net voor die voet die bydrae te herskryf, of om aan die inhoud daarvan te verander.
Al die bogenoemde klink miskien baie moeilik en ingewikkeld, maar dit is inderwaarheid nie – so, nou wag ons net vir jou bydraes vir plasing en dan kan die hele wêreld jou werk lees in jouwêreld!
terug na bo
Stuur jou illustrerende foto’s só
Dit is altyd lekker as foto’s wat jou artikel kan illustreer, saam met jou bydrae geplaas word.
Die foto’s mag egter onder geen omstandighede binne die WORD-dokument saam met jou bydrae geplaas word nie.
Stuur dit in 'n aparte e-pos, in 'n JPEG-formaat.
Onthou dat die ID-name van jou foto’s ooreen moet stem met die spesifieke onderskrif van die foto soos in die WORD-dokument aangedui.
Foto’s word ook aan redaksie@jouwereld gestuur.
terug na bo
Hoe weet ek of my bydrae ontvang is en wel gepubliseer gaan word?
Bevestiging van ontvanging van bydraes sal binne drie dae gedoen word. Indien jy nie 'n ontvangs-erkenning ontvang nie, bestaan die moontlikheid dat jou bydrae in die kuberruim verlore geraak het – stuur dan gerus weer.
As jy ingeteken is op die jouwêreld-nuusbrief, sal jy aan die begin van elke maand die nuusbrief ontvang waarin jy dadelik sal sien of jou bydrae gebruik is, al dan nie.
Daar kan verskeie redes wees hoekom jou storie nie onmiddellik in die volgende uitgawe verskyn nie, wat insluit:
1. Jou storie is na die spertyd van die 20ste van die maand, vir plasing in die volgende maand se uitgawe, ontvang. In die geval sal jou storie oorstaan vir die maand daarna.
2. Die inhoud van jou storie pas nie in een van die afdelings nie, en is dus onbruikbaar.
3. Die kwaliteit van jou skryfwerk is nie op standaard nie, wat veroorsaak dat die taalversorgers langer tyd benodig om dit publiseerbaar te kry.
4. Die afdeling waarvoor jy jou storie geskryf het, is reeds vol vir die spesifieke maand. Dan sal hy in die volgende maand se uitgawe gebruik word.
terug na bo
Wat is my verantwoordelikheid as medewerker na my bydrae gepubliseer is?
Jou grootste verantwoordelikheid na jou storie gepubliseer is, is om jou bladsy te kontroleer en seker te maak alles is korrek. Dit sal help dat jou storie nie sy trefkrag gaan verloor nie.
Alle foute en korreksies moet dadelik aan webmeester@jouwereld.co.za gestuur word.
Kyk na die volgende:
1. Verskyn jou foto en skrywersnaam as een van die maand se medewerkers onder die inhoud op die tuisbladsy, en werk jou e-posskakel daaronder korrek? Klik op die skakel en stuur vir jouself 'n e-pos om dit te toets.
2. Volg die skakels vanaf die inhoudsbladsy en die subbladsye na jou artikel en maak seker hulle lei jou na die bladsy waarop jou artikel verskyn.
3. Proeflees jou gepubliseerde storie en wees op die uitkyk vir spelfoute wat moontlik kon ingesluip het.
4. Verskyn jou foto en skrywersnaam by jou artikel, en is al die skakels direk onder jou foto lewendig en korrek? Klik op al dié skakels om te kontroleer. Stuur ook vir jouself 'n e-pos vanaf die e-posskakel.
5. Indien jy aan die onderkant van jou storie enige webverwysings aangebring het, klik op die skakels en kontroleer of hulle reg werk.
6. Tevrede met alles? Mooi! Nou kan jy jou familie en vriende uitnooi om ook jou storie te gaan lees. Doen dit só.
terug na bo
Watter tipe bydraes, artikels en stories kan ek lewer?
Die tydskrif is in verskillende afdelings opgedeel, en die inhoud van die bydraes moet in een van dié afdelings kan inpas. Die afdelings, met beskrywings van die tipe stories wat daarin gepubliseer word, is:
jouhoofstories
Algemene en aktuele nuus. Skryf byvoorbeeld oor die jongste doen en late van 'n internasionale celeb, 'n opspraakwekkende nuusgebeurtenis in jou omgewing of doen 'n indiepte onderhoud met 'n baie bekende persoon wat in jou dorp woon.
joumenswees
Die afdeling fokus op die fisieke- en geestesgesondheid van die mens.
Dit sluit fasette in soos medies, verhoudings, godsdiens, kinders, selfontwikkeling, sielkunde, berading, seks, die huwelik, opvoeding, fiksheid, die gesin, persoonlike groei, geesteskwale, gesondheid en algemene advies wat tot jou menswees spreek.
joupolitiek
Alle politieke partye, kommentators en ontleders, asook burgerregte-organisasies en vakbonde, is welkom om hul sienings in dié afdeling te plaas.
jouleefstyl
In dié afdeling word daar op die mens se verskillende leefstyl-belangstellings gefokus.
Dit bestaan uit onderwerpe soos stokperdjies, tegnologie, vakansies, motors, tuinmaak, herstelwerk, handwerk, modes, selfversorging, dekor, naaldwerk, finansies, versiering, troeteldiere, klerepatrone, breiwerk, grimering, skoonheid, rekenaargebruik en algemene huiswenke in.
joutafel
Die aansitplek met heerlike resepte, vars idees vir tafelversierings en nuttige kombuis- en kookwenke.
jouapplous
Inligting en bydraes oor die Suid-Afrikaanse vermaaklikheid-, kuns- en literêrewêreld verskyn in die afdeling.
Skakelbeamptes en promotors van platemaatskappye, kunstenaars, skrywers, teaters en galerye is welkom om hul persvrystellings hier te plaas.
Medewerkers kan ook nuwe CD’s, boeke, flieks of uitstallings hier resenseer.
joukontrei
Skrywers oor kontrei-dinge, asook lesers en inwoners van 'n spesifieke omgewing, kan hul bydraes in dié afdeling plaas.
Hier word gefokus op interessante dinge wat in die verskillende kontreie gebeur of plaasgevind het, nuuswaardige inwoners, besienswaardige besoekpunte, lekker restaurante, uitstappies, toere, ens.
jourubrieke en joufiksie
Die afdeling vir skrywers van fiksie of ware verhale in die vorm van storierubrieke, vertellings, kort- of vervolgverhale en kinderstories.
terug na bo
Hoe kan ek my vriende in kennis stel van my stories wat gepubliseer is?
Natuurlik wil jy almal laat weet van jou skryfwerk! Jy kan dit op een van twee maniere doen:
1. Vanaf die bladsy waar jou storie gepubliseer is, klik op die “E-pos dié artikel”-skakel wat jy direk onder jou foto gaan vind. Tik jou vriend se naam en adres in, voltooi die vormpie en stuur.
2. As jy vir jou hele adresboek wil laat weet, sal dit beter wees om sommer van jou eie e-pos sagteware gebruik te maak. “Copy” die onderstaande teks, doen die nodige verpersoonlike veranderings indien jy wil, plaas dit in jou “new message”-venster en stuur aan al die kontakte in jou adresboek.
Hallo daar! Ek het jouwêreld, die eerste volledige e-gesinstydskrif in Afrikaans, op die internet ontdek – en een van my stories verskyn in die maand se uitgawe. Gaan loer na dié lekker gesinstydskrif by www.jouwereld.co.za
terug na bo