WIE IS ONS? | GRATIS NUUSBRIEF | MEDEWERKERS | ADVERTEER
jou gesinstydskrif – maandeliks, gratis en wêreldwyd

Net reg vir die koue
Wilna Myburgh

deur Wilna Myburgh




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend







Niks keer jou om tydens die wintermaande slaai te geniet nie – en beslis nie hiérdie hoofgeregslaaie wat jou warm en versadig sal laat nie.

Dit voel vir my altyd so 'n onmoontlikheid om slaai in die winter te eet – dis net te koud en krakerig.
Maar hiérdie slaaie kan jy egter maklik eet, elk met 'n warm komponent wat jou nie koud van binne sal laat nie – beslis die moeite werd om te probeer. Wanneer daardie wintersonnetjie probeer deurskyn, sal jy hom dalk net hiermee kan nader lok!
Die grootste voordeel is dat al drie hiérdie slaaie vinnig en maklik is om te maak.

Slaai met haloumi, avokado en 'n warm tamatieslaaisous
Spinasieslaai met bokmelkkaas en pere met 'n poppiesaadslaaisous
Brokkoli- en aartappelslaai met songedroogde tamatie-slaaisous

Vir slaaie kan 'n mens nie werklik hoeveelhede gee nie, dis meer 'n gevoel. In hierdie geval is al die slaaie vir twee mense bedoel, maar die hoeveelheid blaarslaai en/of spinasie kan jy self rofweg bepaal soos jy daarvan hou.

Slaai met haloumi, avokado en ‘n warm tamatieslaaisous

Slaai met haloumi, avokado en ‘n warm tamatieslaaisousEk is 'n groot haloumi-aanhanger, ondanks die feit dat dit altyd 'n waagstuk is om in restaurante te bestel waar dit soms daai aaklige rubberkwaliteit het. Dit kan egter maklik voorkom word – 'n mens moet dit net nie te lank gaarmaak nie, en dit moet dadelik bedien word.
Hierdie slaai kan vinnig en maklik voorgesit word:  binne 'n halfuur kan jy sit en smul.

20 kersietamaties (rooi en geel, indien verkrygbaar)
1 teelepel suiker
2 eetlepels rooiwynasyn
sout en varsgemaalde swartpeper
1 eetlepel olyfolie
haloumikaas
meel, opsioneel
olie, om te braai
blaarslaai
1 avokado

Begin deur die kersietamaties in kwarte te sny. Sprinkel dan die suiker, rooiwynasyn, 'n groot knippie sout en varsgemaalde swartpeper oor. Roer deur en laat dit eenkant staan.

Sny dan die haloumikaas in repies – 'n 1 cm-deursnee werk goed.
Sprinkel dit met 'n hoogvol dessertlepel meel en meng goed. Dit gee 'n ekstra crispy laag, maar jy kan dit ook daarsonder braai.

Rangskik nou blaarslaai van jou keuse op 'n opdienbord. Sny die avokado in dun repies en rangskik dit oor die blaarslaai.

Nou kan jy die haloumi braai. Verhit 'n dun lagie olie in 'n braaipan.
Braai die haloumivingers tot goudbruin aan die een kant voor jy dit omdraai. Dit hoef maar tussen 1 en 2 minute aan 'n kant te braai. Toets dit deur daarop te druk, die kaas moet regdeur sag voel.

Rangskik die kaas op die slaai en kry die tamaties reg – gooi die hele tamatiemengsel in 'n vlak kastrol, of in 'n pan en laat dit net tot kookpunt kom. Laat dit 'n halwe minuut kook, voeg die olyfolie by en skep dit oor die slaai. Skep veral van die sous oor die haloumi – dit trek in.

Eet onmiddellik.

Spinasieslaai met bokmelkkaas en pere met ‘n poppiesaadslaaisous

Spinasieslaai met bokmelkkaas en pere met ‘n poppiesaadslaaisousHierdie slaai maak 'n heerlike ete saam met geroosterde broodjies, asook 'n wonderlike ligte voorgereg..
Indien jy die slaai nog vinniger wil maak kan jy bokmelkkaas koop wat reeds in geurmiddels gerol is. By hierdie slaai sal bokmelkkaas in swartpeper of in paprika en swartpeper veral heerlik smaak.

100 g Chevin of ander bokmelkkaas
50 ml pekanneute
5 ml sesamsaad
5 ml sonneblomsaad
baba-spinasieblare
waterkers
1 peer
Vir die poppiesaadslaaisous:
1 teelepel poppiesaad
15 ml heuning
15 ml olyfolie
5 ml suurlemoensap
'n knippie sout en 'n draai of twee swartpeper

Voorverhit die oond tot 190 °C.
Meng die pekanneute, sesamsaad en sonneblomsaad. Kap dit fyn met 'n skerp mes of met 'n stamper en vysel.
Rol die kaas daarin. Indien baie van die neutmengsel afval, moet jy dit fyner kap.
Sny dan die kaasrol in skywe. Daar kom ongeveer 8 skywe uit een 100 g kaasrol. Druk die onderkant in die neutmengsel wat afgeval het om as basis vir die kaas te dien.

Plaas die kaas in die oond – dit moet ongeveer 5 minute bak. Net totdat dit sag is.
Dit beteken jy kan gou spring om die res van die slaaibestanddele gereed te kry.

Rangskik die spinasie- en waterkersblare op 'n opdienbord.
Sny 'n peer in dun skyfies en rangskik dit daarop.
Om die slaaisous te maak, meng jy eenvoudig al die bestanddele saam en toets dit na smaak.

Sprinkel van die slaaisous oor die slaai en die pere en rangskik dan die kaas daarop.
Hierdie slaai is heerlik saam met vars brood of bruschettas. Jy kan die brood gou met olyfolie besprinkel en saam met die kaas in die oond plaas.

Brokkoli- en aartappelslaai met spek en songedroogde tamatie-slaaisous

Brokkoli- en aartappelslaai met spek en songedroogde tamatie-slaaisousDie slaai is werklik vullend. Die spek kan jy eenvoudig weglaat, indien jy so verkies. Veral as jy die pekorinokaas byvoeg. Hierdie slaai is net so vinnig en neem net so lank dit vir die gehalveerde aartappeltjies neem om sag te kook.

12 baba-aartappels
4 spekrepies
175 g brokkoli
handvol waterkersblare of baba-spinasieblare
pekorinokaas (opsioneel)
Vir die slaaisous:
4 songedroogde tamaties in olie
45 ml mayonnaise
15 ml olyfolie
15 ml suurlemoensap
knippie sout en suiker

Halveer die baba-aartappels, gooi in 'n kastrol met koue water en sout en kook tot sag ongeveer 15 minute.
Terwyl die aartappels kook kan jy die res van die bestanddele regkry en net alles meng wanneer dít reg is.

Braai die spek tot goudbruin en sny in stukke.
Bring 'n kastrol met water tot kookpunt, voeg sout by en kook die brokkoli vir vyf minute. Dreineer.

Maak die slaaisous deur die tamaties met 'n teelepel fyn te druk en al die ander bestanddele by te voeg. Indien jy gewetensbesware teen mayonnaise het, kan jy dit weglaat en net die olyfolie en suurlemoensap verdubbel. Voeg suiker en sout na smaak by.

Wanneer die aartappels sag is, kan jy dit met die slaaisous meng en genoeg sout na smaak byvoeg.  Voeg dan die brokkoli, spekstukkies en waterkersblare by. Skep in 'n opdienbak en - as jy wil - rasper pekorinokaas oor of sny 'n paar dun repies daarvan met 'n groenteskiller.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joutafel
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke |
gratis nuusbrief | medewerkers | adverteer | wie is ons?

Kopiereg © 2008-2010