deur Wilna Myburgh




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend
Trakteer jou vriende op 'n teepartytjie so reg uit die boonste rakke.

'n Dekadente teepartytjie is die tyd wanneer jy jou fyn teeservies uit die kas haal, afstof en blinkvryf. Dis 'n tyd om al jou fyn eetgerei en tafelversierings uit te kry en 'n keurige feesmaal voor te berei. 
Middagtee het reeds in 1661 in Engeland ontstaan toe Catherine van Braganza met Charles II getroud is en dié gebruik saam met haar van Portugal af gebring het. Soos die tye verander het, het die teedrink-gebruik ook verander. Deesdae word dit tot spoggeleenthede en spesiale vieringe beperk. Teepartytjies word byvoorbeeld met 'n ooievaarstee en kombuistee geassosieer.

Die spyskaart bestaan gewoonlik uit fyn, keurige toebroodjies, tert, koek en klein koekies.

Hier is jouwêreld se teespyskaart:
* Biltongdriehoeke
* Camembert- en vytertjies
* Komkommerbroodjies
* Gebakte aarbeikaaskoek
* Suurlemoenmeringuetertjies
* Petit fours

Biltongdriehoeke Camembert- en vytertjies Komkommertoebroodjies Gebakte kaaskoek Suurlemoenmeringuetertjies Petit fours

Oorspronklik sou daar skons met konfyt en room ook saam bedien word – indien jy dié gebruik wil volg, volg die resep vir Soete plesier: skons en aarbeie

Wat keer jou om van vandag of môre 'n spesiale geleentheid te maak? Haal jou mooiste teeservies uit, nooi jou vriende en dek jou tafel in fyn tafeldoeke.



Biltongdriehoeke

Daar is min eetgoed wat so gewild soos biltongbroodjies is. Afhangend van die driehoeke se grootte sal jy uit elke dubbel sny brood 4 of 8 driehoeke kry en kan dus maklik soveel maak soos benodig.

Biltongdriehoeke

1 witbrood, gesny
smeermargarien
fyn biltong
'n paar snytjies biltong

Maak toebroodjies met twee snye brood net gesmeer met margarien. Sny dan die korsies af. Afhangend van die grootte van jou brood en hoe groot jy die driehoekies wil maak, kan jy of dit nou in vier driehoeke sny, of dit in vier kwarte sny en dan ui elke kwart twee driehoekies maak.

Smeer nou al die kante van elke driehoek en druk dit in die fyn biltong sodat dit heeltemal bedek is. Doen so voort tot almal klaar is. Rangskik dit op 'n bord en garneer met die gesnyde biltong.


Camembert- en vytertjies

Maak 20

Hierdie is my gunsteling tipe tertjies om te maak; jy maak eenvoudig 'n koppie witsous, voeg 'n eier by en enige geurmiddels waarvan jy hou. Gebraaide spek en sampioen, kaas en gekarameliseerde uie, geroomde spinasie en feta of hierdie tertjies met camembertkaas en 'n ingelegde vy bo-op.


Camembert- en vytertjies

Vir die deeg:
1 rol blaardeeg, ontvries
of shortcrust, ontvries
of maak jou eie deeg*:
* 250 ml meel
* bakpoeier
* knippie sout
*  g margarien / botter
* 1 eier
* 15 ml asyn

Meng al die bestanddele saam in die voedselverwerker.
Of meng die droë bestanddele, vryf die botter / margarien in en voeg dan die eier en asyn by.

Bedek die deeg en laat minstens 'n halfuur in die yskas staan voordat jy dit gebruik.

Vir die vulsel:
* 30 ml botter / margarien
* 50 ml koekmeel
* 1 koppie (250 ml) melk
* sout en varsgemaalde swartpeper
* 1 eier
* ½ camembert (gebruik meer indien verkies)
* ingelegde vye, in repies gesny

Smelt die margarien in 'n kastrol. Voeg die meel by en roer totdat dit goed gemeng is.
Voeg die meel geleidelik by, terwyl jy aanhoudend met 'n klitser roer sodat daar nie klonte vorm nie.
Bring tot kookpunt en kook vir 5 – 8 minute. Die witsous moet gaar proe en wegtrek van die kante. Geur met sout en peper.

Laat effens afkoel – ongeveer 10 minute. Voeg die eier by en meng deeglik.
Sny die camembert in klein blokkies. Voeg by die witsous en meng liggies.

Kry klein muffinpannetjies of tertpannetjies gereed deur dit te smeer.

Verhit oond tot 190 °C.

Rol die deeg uit, indien nodig, en druk sirkels uit. Druk die deeg in die pannetjies.
Gebruik 'n teelepel om hoogvol lepels camembert-vulsel in die holtes te skep.

Bak vir 18 – 20 minute tot goudbruin en opgepof.
Sny die vy in repe en sit 'n repie op elke tertjie.


Komkommerbroodjies
Komkommerbroodjies

* 1 wit-, bruin- of volgraanbrood
* 1 komkommer, in sirkels gesny
* smeermargarien
* mayonnaise
* klein, vars mentblare

Gebruik 'n sirkeldrukker, met 'n deursnee van ongeveer 5 cm en druk sirkels uit die broodsnye.
Smeer die een helfte van die sirkels met margarien en die ander helfte met mayonnaise.
Plaas 'n komkommerskyf op elke mayonnaise-broodjies. Sit 'n mentblaartjie op elke komkommer.

Gebruik nou 'n sirkeldrukker van ongeveer 1.5 cm deursnee en druk 'n gaatjie in die middel van elke margarien-gesmeerde sirkel. Plaas die sirkel bo-op die komkommer, sodat die mentblaar deurloer.

Gebakte aarbeikaaskoek


Gebakte aarbeikaaskoek

Voorverhit oond tot 190 °C.
Smeer 'n springform-pan met 'n deursnee van 21 cm.
Vir die basis:
* 1 koppie (250 ml) meel
* ¼ koppie (60 ml) suiker
* ½ koppie (125 ml) botter / margarien, sag

Meng die meel, suiker en margarien in 'n voedselverwerker. Druk dit in die bodem van die pan vas.
Bak vir 15 minute.

Vir die aarbeie:
* 200 g aarbeie
* 1 teelepel meel
* 25 ml suiker

Sny die aarbeie in dun skyfies. Meng dit met die meel en suiker. As die aarbeie baie suur is, kan jy meer suiker byvoeg.
Skep die aarbeie bo-op die basis wanneer dit uit die oond kom.

Verlaag die oondtemperatuur tot 175 °C.

Vir die vulsel:
* 2 bakkies geroomde maaskaas, of roomkaas
* 2 eiers
* ½ koppie suiker
* 5 ml vanieljegeursel

Meng die geroomde maaskaas, eiers, suiker en vanielje. Skep dit bo-op die aarbeie en bak vir 30 – 45 minute, tot ferm. Haal uit die oond en laat vir ongeveer 10 minute staan voordat jy die pan losmaak.

Strooi versiersuiker oor, en versier met vars aarbeie, indien verkies.

Suurlemoenmeringuetertjies
Suurlemoenmeringuetertjies

Vir die deeg:
Gebruik gekoopte shortcrust-deeg, of maak jou eie soet tertdeeg*.

125 ml meel
30 ml strooisuiker
30 g koue botter / margarien. in klein blokkies gesny
1 eiergeel
1 teelepel water

Gooi al die bestanddele in 'n voedselverwerker, en meng tot dit 'n bal vorm. Voeg nog water by indien nodig.
of gooi die meel in 'n mengbak. Maak 'n holte in die middel en gooi botter en eiergeel in. Meng dit met jou vingerpunte en voeg dan water by om 'n deeg te vorm.
Hou in die yskas vir ten minste 'n halfuur.

Verhit oond tot 180 °C.
Rol die deeg op 'n meelbestrooide oppervlak uit.

Smeer klein muffinholtes, druk sirkels van 5 cm-deursnee af, en druk dit in die pannetjies vas.
Wanneer genoeg holtes gevul is, kan jy 'n stukkie waspapier in elk sit, met bone in. So kan jy die tertkorse blind bak. Bak vir 10 minute. Verwyder dan die waspapier en bone en plaas dit terug in die oond vir nog 5 minute.

Laat afkoel voordat jy dit vul.

Vir die suurlemoenbotter:
40 ml mielieblom
80 ml strooisuiker
45 ml suurlemoensap
110 ml water
1 eiergeel (hou die eierwit vir die meringue)
20 g margarien / botter

Meng die mielieblom en suiker saam in 'n klein kastrol. Voeg geleidelik die sap en water by, meng tot dit glad is.
Verhit dit totdat dit begin kook en dik word.
Prut vir 30 sekondes, terwyl jy roer.

Verwyder van die hitte en voeg die eiergeel en die margarien / botter.
Laat eenkant om af te koel.

Vir die meringue:
1 eierwit, gebruik die eierwit wat oorgebly het van die suurlemoenbotter
knippie kremetart
2 eetlepels (30 ml) strooisuiker

Klits die eierwit totdat dit sagte punte vorm.
Gooi die kremetart by en dan geleidelik die strooisuiker, klits deeglik terwyl jy dit byvoeg.

Om die suurlemoenmeringuetertjies klaar te maak:
Skep 'n teelepelvol suurlemoenbotter in elke tertjie, klits die eierwit (sien bo) en gebruik 'n versierbuis om die meringue op te sit.
Plaas in die oond vir 3 minute by 200 °C, of gebruik 'n blowtorch om die meringue te verbruin.


Petit fours

Hierdie petit fours is die manier om kleur in jou teeparty te kry. Gebruik 'n gekoopte koek, of maak jou eie. Maak dan die fondantversiersel, versier jou koek met gekleude versiersel en draai dit dan in crêpe-papier toe.

Petit fours

1 koek, 'n standaard ronde koek sal ongeveer 8 ronde petit fours maak
eetlepel appelkooskonfyt, smelt in die mikrogolfoond

Druk sirkels uit die koek met 'n drukker van ongeveer 5 cm in deursnee – jy kan groter of kleiner uitdruk soos jy wil.
Indien die koek baie hoog is kan jy ook die boonste ronding afsny, dat dit net so 4 – 5 cm hoog is, sny in die helfte.

Smeer appelkooskonfyt op die onderste helfte en plak die twee helftes op mekaar.

Om die fondantversiersel te maak:

As jy nie jou eie versiersuiker wil maak nie, kan jy plastiek- of fondantversiersel aankoop.

* 450 g versiersuiker
* 1 eierwit
* 10 ml glukosestroop (opsioneel)

Sif die versiersuiker.
Klits die eierwit liggies met 'n vurk.

Voeg die versiersuiker bietjie vir bietjie by die eierwit en meng met 'n houtlepel, om 'n sagte deeg te vorm. Knie deeglik met jou vingers, tot dit glad is. Voeg nou die glukose by, indien gebruik.

Strooi bietjie versiersuiker op die werkblad, knie nog tot die fondant werkbaar is.
Hou in 'n lugdigte houer sodat dit nie uitdroog nie.

Strooi nog bietjie versiersuiker op die werkblad en rol die fondantversiersel met 'n koekroller uit, wat ook met versiersuiker gestrooi is.

Druk sirkels uit die versiersuiker, wat effens groter is as die koek.

Jy kan ook die versiersuiker kleur met enige koekkleursel, veral as jy kleiner vorms wil uitdruk om die petit fours te versier.

Om met crêpe-papier toe te maak:
Sny die crêpe in lang repe, draai om die petit fours en bind dit met 'n bypassende lintjie vas.

* Om meer te leer van hoe om jou eie tertdeeg te maak, lees Pastei-party in die Augustus 2009-uitgawe van jouwêreld.
Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joutafel
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend