|
My ma het net twee ernstige versoeke as dit by huissoekery kom – daar moet 'n groot kombuis met 'n aparte opwas en 'n suurlemoenboom wees. Ons laaste huis se kombuis was egter so perfek, dat die suurlemoenboom-klousule maar laat staan is. Nou is dit maar 'n gewag totdat die jong boom sy eerste tekens van 'n vrug wys.
Intussen is daar darem goeie vriende, met 'n nog gawer suurlemoenboom, wat ons van suurlemoene voorsien. Hul boom is egter so gaaf, en hulle so vrygewig, dat daar 'n heerlike suurlemoen-oorvloed heers.
Die dat mens begin wonder wat om met hulle te doen – geen suurlemoen sal weggegooi word nie!
Hier is 'n paar idees hoe jy 'n oorvloed suurlemoene kan begin gebruik:
Klapper-suurlemoenstroopkoek
Suurlemoen-, poppiesaad- en hawermoutmuffins
Suurlemoenmarmelade
Gevulde suurlemoenskywe
Suurlemoen-spaghetti
Indien die suurlemoene egter nog lyk of dit van die boom gaan af val sonder 'n doel in die lewe, kan jy altyd nog resepte soek. Probeer suurlemoenbotter (lemon curd), suurlemoen-meringuetert, suurlemoenvodka of suurlemoenolie.
Onthou ook jy kan altyd asyn met suurlemoensap vervang, veral in slaaisouse. Gebruik dit in pons en mengeldrankies. Maak suurlemoenstroop vir lemonade. Maak vis en ander seekos gaar. Drink Savanna. Maak nog marmelade.
Dan is daar nog tonne huishoudelike gebruike: Jy kan suurlemoenskille in jou ketel gooi, water ingooi en dit laat kook, en dan oornag laat staan om jou ketel te ontkalk. Onthou net die briefie op die ketel, wat sê: "Nie vir koffie-doeleindes!"
Indien jy in 'n gebied bly waar die water hard is – dus baie minerale bevat – kan jy jou hare met suurlemoensap en water uitspoel om dit blink en glad te kry. Dit kan ook as ontsmettingsmiddel vir jou kaste dien.
Wanneer jy al dié idees uitgeput het, maar die oorvloed suurlemoene steeds in 'n volskaalse krisis wil raak, druk die sap uit en vries dit in ysbakkies. Dan het jy altyd suurlemoensap. Jy kan ook die heel suurlemoene in die vrieskas sit en dit vir 'n paar sekondes in die mikrogolfoond verwarm as jy dit wil gebruik!
Maar dis nog haas sulke tyd – probeer eers die resepte.

Stroopkoeke is altyd lekker klam. Klappermelk help dat die koek ook lekker sag is. Dit is by meeste supermarkte beskikbaar – gewoonlik in dieselfde ry as die ingedampte melk.
125 g botter / margarien (by kamertemperatuur)
¾ k (180 ml) strooisuiker
3 eiers
425 ml (1½ k + 50 ml) koekmeel
12. 5 ml bakpoeier
250 ml (1 k) klapper
125 ml (½ k) klappermelk
125 ml (½ k) melk
25 ml suurlemoensap
Vir die suurlemoenstroop:
60 ml (¼ k) suurlemoensap
60 ml (¼ k) strooisuiker
60 ml (¼ k) water
Vir die versiersuiker:
150 g versiersuiker
15 ml melk
10 ml suurlemoensap
Smeer 'n 23 cm-ringkoekpan deeglik, sodat jou koek nie later vassit nie.
Voorverhit dan die oond tot 180 ˚C.
Verroom die botter / margarien en suiker totdat dit lig en romerig is.
Voeg die eiers een vir een by, meng deeglik voor jy die volgende een byvoeg.*
Gooi dan die res van die bestanddele - die meel, bakpoeier, klapper, klappermelk, melk en suurlemoensap - by. Klits vinnig totdat alles gemeng is.
Skep in die gesmeerde pan en bak vir 40 minute tot die koek wegtrek van die kante en ferm en goudbruin is.
Laat die koek so 10 minute nog in die pan staan om af te koel, voordat jy dit op 'n afkoelrakkie uitgooi. Sit nou die koek en afkoelrakkie bo-op 'n bord en skep die suurlemoenstroop met 'n lepel oor.
Maak seker dat jy die stroop eweredig versprei.
Jy kan die stroop wat in die bord afgeloop het, weer oor die koek gooi.
Laat nou die koek heeltemal afkoel voordat jy die versiersuiker oorgooi. Gebruik maar net 'n lepel en skep die versiersuiker so al in die rondte op die koek. Dit kort net 'n bietjie aanmoediging om so verleidelik langs die kante van die koek af te loop.
Vir die suurlemoenstroop:
Wanneer die koek so halfuur in die oond was, kan jy met die suurlemoenstroop begin.
Meng die drie bestanddele in 'n klein kastrol en smelt die suiker oor 'n lae hitte.
Sodra die suiker gesmelt is, kan jy die hitte hoër stel, en die stroop vir 5 minute vinnig laat kook.
Vir die versiersuiker:
Meng al die bestanddele saam.
Gebruik 'n draadklitser – dit help om enige klonte op te breek. As dit te styf lyk, gooi nog 'n druppel of twee water of suurlemoensap by. Jy kan ook nog versiersuiker byvoeg as jy dalk te veel vloeistof bygevoeg het.
Wanneer dit te loperig is, trek dit heeltemal in die koek in.
Jy moet die versiersuiker gebruik direk nadat jy dit gemaak het, anders word dit hard.
*Wenk: In die winter sukkel mens dikwels om die botter / margarien en suiker tot lig en romerig te klits. Voeg dan een van die eiers by – en klits dan tot dit lig en romerig word - voordat jy die ander twee eiers ook byvoeg.
terug na bo


Hierdie is my gunsteling tipe resep – jy meng die droë goed in een bak, meng die nat in 'n ander en meng dan die twee tesame. Dis so lekker vinnig!
375 ml (1½ k) koekmeel
180 ml (¾ k) hawermout
150 ml suiker
2 ml sout
30 ml (2 eetl) poppiesaad
10 ml bakpoeier
2.5 ml koeksoda
150 ml melk
60 ml (¼ k) olie
1 eier
60 ml (¼ k) suurlemoensap
Vir die versiersuiker:
50 ml versiersuiker
5 ml suurlemoensap
Voorverhit die oond tot 190 ˚C. Smeer 15 muffinholtes of kry muffinhouertjies gereed.
Meng al die droë bestanddele in 'n groot mengbak.
Klits dan al die nat bestanddele saam en gebruik 'n groot draadklitser of 'n houtlepel om die nat by die droë bestanddele te meng.
Verdeel nou die mengsel tussen die muffinholtes.
Bak vir 20 minute – tot ferm en goudbruin.
Om die versiersuiker te maak, meng jy doodeenvoudig die versiersuiker en suurlemoensap saam en drizzle dit oor die muffins. terug na bo


Dis net 'n brawe siel, of ernstige suurlemoenliefhebber, wat dié eet! Dis eintlik 'n kruising tussen 'n marmelade en 'n sagte jellie. Dit werk so mooi uit dat die wat nie van die suurlemoenskil hou nie, net die jellie hoef te eet, terwyl die ander weer al die skille kan uitsoek!
Jy hoef regtig nie die bure se vrugteflesse te gaan leen om marmelade te maak nie! Ek het die resep met net 3 suurlemoene gemaak. Dan kry mens drie mooi hanteerbare botteltjies marmelade, wat beteken dat jy nogtans daarvan kan weggee, maar ook nie te veel het nie. Dit kook ieder geval net 'n halfuur, so jy kan amper die brood begin toast nadat dit begin kook het!
Die resep werk met verhoudings:
1 deel suurlemoen : 1 deel suiker : ½ deel water; of te wel
1 kg suurlemoene : 1 kg suiker : 500 ml water
Hier volg dan die resep, gebaseer op 3 medium suurlemoene, met 'n gewig van 600 g.
* Weeg die suurlemoene voordat jy enigiets anders doen, menende, voordat jy begin wegsny.
* Vat dan een-derde van die suurlemoene – in die geval – een.
Gebruik 'n zester om lang repies van die skil (geen wit dele) daarvan te sny. Jy kan ook 'n rasper gebruik as jy nie 'n zester het nie.
Bring water tot kookpunt in 'n klein kastrol en kook die skil vir een minuut. Verwyder en hou eenkant.
* Druk die sap, van die suurlemoene sonder skil, uit.
* Sny die ander suurlemoene in dun skyfies.
Sny eers die punte af en gooi weg. Dan kan jy die res in dun snytjies, van so 1 – 2 mm sny.
Verwyder die pitte.
Moet glad nie gepla wees oor hoe dit lyk nie – dis juis lekker as daar koeëlronde, heel skywe is en kleiner, dunner dele wat gebreek het.
* Gooi nou die skywe en die suurlemoensap in 'n kastrol.
Bring tot kookpunt en kook vir 5 minute, terwyl jy voortdurend met 'n houtlepel roer om die hitte te versprei. Dit word so witterig en dik as gevolg van die pektien.
* Voeg nou die suiker en water by.
Vir die 600 g suurlemoene, het ek 600 g suiker en 300 ml water bygevoeg.
* Roer oor 'n lae hitte totdat die suiker opgelos is.
Bring tot kookpunt wanneer die suiker heeltemal opgelos is. Kook vir 30 minute – vinnig. Dit moet so lekker vinnig borrel – gaan loer net nou en dan dat dit nie oorborrel nie. Dis nogal 'n taai spul!
* Verwyder van die hitte en skep 'n teelepelvol op 'n piering uit. Plaas dit in die vrieskas.
As dit afgekoel het kan jy sien hoe jou marmelade gaan lyk wanneer jy dit eet.
Persoonlike voorkeure speel hier 'n rol – ek hou van 'n sagte, loperige jellie. Indien jy dit dikker wil hê, kook dit vir nog 5 minute en toets dit dan weer.
* Omdat hierdie so min maak, is ek gewoonlik nie te gepla oor korrekte botteleringmetodes nie. Ek kook net water en spoel die glasbottels en hul deksels daarmee uit. Skep marmelade in, en hou in die yskas vir veiligheid.
* Die is veral genotvol saam met 'n warm croissant en roereier, met 'n stukkie beleë cheddar. Moenie die beker sterk koffie vergeet nie!
terug na bo


Suurlemoenskil-wiele word met mozzarellakaas en ander geurgewende bestanddele gevul, voor dit bruingebak, en saam met brood opgedien word. Die is 'n resep van Jamie Oliver, maar 'n mens maak dit maar soos dit kom! Die oorspronklike het kersietamaties, ansjovis en basiliekruid in. Ek hou nogal daarvan om net 'n skyfie swart of kalamata-olyf in te sit.
* suurlemoene – daar kom so 2 – 3 mooi skywe uit 'n medium suurlemoen
* mozzarellakaas, 'n groot blok
* enige van die volgende bestanddele: olywe, basiliekruid, kersietamaties, ansjovisfilette,
songedroogde tamatie of net waaraan jy kan dink
Begin deur die oond op 200 °C te skakel.
Dan kan jy die suurlemoene begin sny: Sny die bo- en onderpunt van elke suurlemoen af. Probeer om eerder 'n kleiner as 'n groot suurlemoen te gebruik – jy sal sien as jy die ringe begin maak.
Sny dan in skywe van ongeveer 1 cm.
Vat 'n skerp, klein mes en sny al in die rondte om die vlees uit te sny. Al wat jy benodig is die skil.
Plaas nou die skil-ringe op 'n gesmeerde bakplaat.
Sny of skeur stukke mozzarella af, afhangend van hoe styf die kaas is. Pak of druk dan 'n dun lagie onder in elke suurlemoenskil, sit twee skyfies olyf en 'n klein basiliekruidblaartjie bo-op, of een van die ander bestanddele, en bedek dit dan met nog mozzarella.
Plaas in die oond vir 10 – 15 minute. Dit moet begin bruin word en heeltemal gesmelt wees.
Kry nou 'n snytjie brood – 'n Franse brood werk goed – gereed.
Verwyder die suurlemoenskil van die mozzarella en skep die gesmelte, suurlemoengegeurde kaas op jou broodjie. Mmmm . . . mmm . . . my mond water al klaar weer!
terug na bo


Die het 'n heerlike suurlemoen-smaak en is lekker & vinnig vir 'n ligte ete. Dis een van daardie lekker basis-resepte wat jy vir jouself kan verander en vervolmaak. Voeg olywe by, of songedroogde tamaties, fetakaas, verskillende vars kruie, soos basiliekruid of oreganum, net wat jou hart begeer! Die hoeveelhede is gebaseer op die 100 g spaghetti, wat 'n groot porsie vir een persoon is, of te klein porsies vir twee is – pas maar aan soos nodig!
100 g spaghetti
15 ml botter / margarien
5 ml olie
1 ml roosmaryn, fyngekap
1 ml Engelse mosterd (nie poeier)
2 ml fyngekapte of fyngerasperde suurlemoenskil
sap van 1 suurlemoen
handvol gerasperde mozzarella- of parmesaankaas
Kook die spaghetti volgens die pakkie se aanwysings.
As jy lui is vir skottelgoed kan jy die spaghetti in die vergiettes hou, terwyl jy dieselfde kastrol vir die sous gebruik. As jy egter honger is, kan jou sous heeltemal klaar wees voor jou spaghetti nog klaar gekook is!
Dus – kry 'n kastrol of 'n pan. Smelt die botter / margarien saam met die olie daarin.
Voeg die roosmaryn, mosterd en suurlemoenskil by en braai vir 'n minuut.
Voeg nou die suurlemoensap by. Begin deur net 'n halwe suurlemoen se sap by te voeg en dan te proe. Dikwels gebruik ek egter die hele suurlemoen se sap op die ou ent.
Indien jy egter dink dis 'n bietjie te veel, voeg nog botter / margarien by.
Dit hoef net 'n sekonde of wat te kook, dan is dit reg. Het ek genoem dat dit vinnig is?
Voeg nou die spaghetti by die sous – onthou om genoeg sout by te voeg – en roer totdat alles deeglik met die sous bedek is.
Nou kan jy so handvol (of twee) kaas byvoeg. Begin slurp in 3 . . . 2 . . . 1 . . . nou!
terug na bo
|