Een sappige steak, asseblief!

Met die dat dit weer ordentlik braaityd word, kan ons nou begin braai dat die biesies bewe. Sonder om self te bewe van die koue – want erken dit nou maar, dis eintlik altyd braaityd in sonnige Suid-Afrika!
Maar om die regte braaiseisoen af te skop is hier 'n paar resepte om jou gebraaide steak nóg smaakliker te maak.
Monkey gland-sous
Geurige mosterdbotter
Dubbelsampioensteak met mozzarella
Smelt-sampioensteak
Voor jy begin braai

As jy eers hiérdie sous as jou steakmarinade gebruik het, sal jy nooit weer iets anders wil probeer nie – en dit is 'n feit soos 'n koei.
Die sous is lekker vinnig om te maak, en jy kan van dit as marinade gebruik en die res as sous bedien. Onthou net as jy die sous waarin die vleis gemarineer het ook wil eet, moet jy dit eers kook.
1 ui, in dun skyfies gesny
50 ml tamatiesous
50 ml blatjang
25 ml balsemiekasyn
25 ml Worcestersous
25 ml sjerrie / soetwyn
Braai die ui in 'n bietjie olie tot sag en deurskynend.
Voeg die res van die bestanddele by en kook ongeveer 5 minute lank.
Laat die sous afkoel voordat jy jou gesout- en peperde steak daarmee bedek. Die steak moet net so halfuurtjie in die sous baai voordat jy dit gaarmaak. Terug na bo
Na jy gebraai het

Wanneer jy gegeurde botter maak, moet jou steak so reg van die vuur af geëet word, sodat die botter dadelik begin smelt. Jy kan rondspeel met verskillende geure, enige vars, gekapte kruie is lekker. So ook, kan jy gekrummelde feta- of bloukaas byvoeg.
50 g sagte botter / margarien
15 ml fyngekapte Italiaanse pietersielie
10 ml Worcestersous
5 ml aangemaakte Engelse mosterd
Indien jy nie jou botter op die kombuiskas vergeet het nie, en dit nou te hard is om mee te werk, kan jy dit vir 10 sekonde-intervalle in die mikrogolfoond plaas om dit sag te kry. Moet net nie dat dit smelt nie.
Voeg dan eenvoudig al die ander bestanddele by en roer om dit deeglik en eweredig te versprei.
Kry 'n stuk kleefplastiek. Skep die gegeurde botter daarop en maak dit mooi toe in die plastiek. Rol dit dan liggies op jou werkoppervlak om 'n rol te vorm. Jy kan ook 'n reghoekvorm maak, as dit makliker is. Plaas dan in die yskas om hard te word. Terug na bo
Dubbelsampioensteak met mozzarella

Vir die steak benodig jy 'n vuur en 'n oond. Wanneer die steak van die vuur af kom, sit jy gebraaide sampioene bo-op, skep romerige sampioensous oor, sprinkel alles met mozzarellakaas en plaas dit vinnig in die oond om die kaas te smelt.
* Wenk: Die is sommer ekstra-lekker as jy dit met 'n monkey gland-steak maak.
Voorverhit die oond tot 220 °C.
Wanneer die steak amper gereed is, moet jy gou die sampioene braai. Die sampioensous* kan jy voor die tyd maak, en net gou verhit.
Braai twee groot, bruin sampioene (stele verwyder) vir elke steak in 'n mengsel van botter en olie, eers met die steelkant na bo. Sprinkel goed met sout en varsgemaalde swartpeper. Draai die sampioene om wanneer hulle begin sag word en geur die kant ook met sout en peper.
Plaas dan twee sampioene op elke steak, skep sampioensous oor en sprinkel dit met mozzarellakaas. Plaas gou in die oond vir 2 – 3 minute om die kaas te smelt.
* Om die sampioensous te maak:
Sny 125 g wit knopiesampioene in skyfies en braai dit in 'n pan met 'n bietjie olie tot sag en bruin. Voeg dan 15 ml botter / margarien by, sodra dit gesmelt is voeg jy 15 ml meel by en roer dit deur. Gooi dan 125 ml melk by en roer vinnig om klonte te voorkom. Bring tot kookpunt en laat ongeveer 5 minute liggies prut. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Terug na bo

Vir dié steak het mens skaars aanwysings nodig. Jy benodig wel groot, bruin sampioene en Cheddarkaas. Weereens is die sampioene en kaas vreeslik lekker as jou steak in monkey gland-sous gemarineer het.
Braai jou steak. Voorverhit die oond tot 220 °C.
In 'n braaipan, braai jy gou twee groot, bruin sampioene, waarvan die stele verwyder is, per steak in 'n bietjie olie en 'n klont botter. Plaas hulle eers in die pan met die steelkant na bo, totdat hulle begin sag word en omgedraai kan word. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper.
Plaas die sampioene op die steak, sprinkel baie vrygewig met Cheddarkaas. Jy kan ook vrygewig raak met fetakaas onder die Cheddarkaas. Plaas gou in die oond – net totdat die kaas gesmelt het.
Terug na bo
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na joutafel volgende artikel vorige artikel |
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?

