Bestry die Dinsdag-blues
Het jy al ooit 'n blou Dinsdag beleef? Kyk, 'n blou Maandag is een ding – dis darem te wagte dat dié dag half gekleurd kan wees – maar 'n Dinsdag? Nee, dit mag eenvoudig nie.
Daarom is hier 'n oplossing. In die vorm van kos, natuurlik!
Hiervoor het jy net twee kastrolle nodig, 'n gesonde eetlus en 'n glasie wyn. Statistiek kon nog nie bewys of dit die wyn of die Spaghetti Bolognese is wat die deurslag gee om die dag te verbeter nie,
maar ons sal aanhou toets tot die antwoord vanself te voorskyn kom.
* 1 ui
* 2 wortels
* 1 selderystingel
* olie, om te braai
* 10 ml tamatiepasta of tamatiesous
* 500 g maalvleis
* 1 blik gekapte tamaties
* 5 ml suiker
* 5 ml Worcestershiresous
* 5 ml gedroogde, gemengde kruie
* sout en varsgemaalde swartpeper
* 250 g spaghetti
Om mee te begin moet jy die groente gereed kry. As jy nie seldery het nie, of selfs net uie het, is dit nie 'n te groot probleem, hoewel meer groente meer geur gee.
Sny die ui in klein blokkies, rasper die wortels grof en sny die seldery ook in blokkies. Probeer om alles so min of meer dieselfde grootte te hou.
Verhit 'n dun lagie olie in 'n kastrol en braai die groente vir ongeveer 5 minute totdat dit begin verbruin.
Intussen kan jy solank nog water in 'n groot kastrol tot kookpunt bring, en wanneer dit kook jou spaghetti byvoeg en kook volgens die vervaardiger se instruksies.
Wanneer jou groente begin verbruin, kan jy die tamatiepasta byvoeg en dit vir 'n minuut braai.
Voeg dan die maalvleis by en roerbraai totdat dit begin verbruin, voordat jy die gekapte tamaties, suiker, Worcestershiresous en kruie byvoeg. Voeg ook sout en peper na smaak by.
Laat dit prut vir ongeveer 10 minute.
As die spaghetti gaar is, kan jy dit in 'n vergiettes uitgooi om die water af te gooi en dan teruggooi in die pot, en dit met sout en swartpeper geur. Voeg ook 'n paar druppels olyfolie by en meng dit deur die spaghetti.
En dan het die tyd aangebreek om te begin eet . . .
Om die ete nog beter vir 'n blou Dinsdag te laat werk, strooi ruim gerasperde Cheddarkaas bo-oor.
Die hoeveelheid maak genoeg vir 4 goed-honger mense.
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na joutafel volgende artikel vorige artikel |
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?


