deur Wilna Myburgh




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Kweek 'n gesonde leefstyl met dié dieet wat slegte stysel uitsny om plek te maak vir meer voedsame groente en vrugte.

Januarie is nét die maand om met 'n gesonde eetplan te begin: Jy voel nog vars vir nuwe verwikkelinge, maar ook sleg oor dit wat jy in Desember aan jou liggaam gedoen het. Dit is die beste kombinasie van skuldgevoel en motivering.
Volg jouwêreld se lae koolhidraat-eetplan om nuwe lewe in jou liggaam te blaas.
Nie net kan jy hier 'n volledige 7 dae-eetplan, met resepte, kry nie – ons bied ook 10 riglyne om die eetplan aan jou te verduidelik met 'n volledige lys wat jou sal leer watter vrugte en groente goed vir jou is. Met honderde wenke tussenin.
Laat ons begin met die stappe tot 'n nuwe jy!

Die woorde “sonder stysel” en “lae koolhidrate” beteken nie dat jy geen koolhidrate inkry nie. Dit beteken ook glad nie dat jy skielik baie proteïene, en spesifiek vleis, gaan begin eet nie. Die koolhidrate is in die geval hoofsaaklik van vrugte en groente afkomstig.
Daar is 'n paar bekende diëte wat op die beginsel van min koolhidrate werk. Dit sluit South Beach, Atkins, Sureslim en Dr Cohen in. Sureslim en Dr Cohen gebruik bloedtoetse om vir elke persoon sy eie, spesifieke dieet uit te werk. Daarmee saam kry jy dan 'n volledig uitgewerkte eetplan, wat ook presiese hoeveelhede vir elke ete gee. Wanneer jy jou ideale gewig bereik het, kry jy 'n nuwe eetplan wat meer kosse toelaat.

Hierdie lae koolhidraat-diëte het nou wel verskillende metodes, maar almal sny in 'n meerdere of mindere mate koolhidrate uit voordat jy dit later stadig maar seker weer mag vermeerder. Wanneer jy koolhidrate weer by jou dieet voeg, word verfynde meel en suiker en geprosesseerde kos egter nie weer toegelaat nie. Die idee is om jou eers totaal onafhanklik van stysel te maak, om dan later net slegte stysel uit te sny. Jou liggaam sal dan die vlak kan bereik waar jy genoeg stysel inneem vir jou voorgeskrewe daaglikse inname, maar nie te veel sodat jy cravings kry vir nog stysel nie.

Die diëte stel almal een proteiën met baie slaai of groente voor, met crackerbread, ryvita of provita. Vrugte word egter in sommige diëte eers uitgesny, en dan later weer toegevoeg as gevolg van die groot hoeveelhede suiker wat dit bevat. Kyk dus op die lys van vrugte, en eet net die met die minste suiker.
Sommige groente, soos avokado, word ook dikwels uitgelaat, as gevolg van hul hoë natuurlike vetinhoud, maar dit bevat ook “goeie” vet.

Lees ook 10 riglyne vir 'n gesonde lae stysel-leefstyl om 'n beter begrip van dié tipe dieet te hê en hoe om dit te volg.

Voordele

Daar is vele voordele aan die voorgestelde eetplan verbonde. Die meeste is wetenskaplik bewys, maar meesal word dit deur mense wat 'n lae koolhidraat-eetplan volg waargeneem. Die eetplanne het resultate getoon, sonder dat dit 'n kilojoule-gekontroleerde dieet is.

As jy 'n lae koolhidraat-eetplan volg kan jy die volgende verwag:
* Gewigsverlies
* Meer “goeie” cholesterol
* Verminderde bloeddruk
* Laer bloedsuikervlakke
* Verbetering van insulien-sensitiwiteit
* Meer energie
* Minder cravings vir soet goed
* Verbeterde konsentrasie
* Geen kompulsiewe of emosionele eetsessies nie
* Minder hoofpyn
* Simptome van 'n ongelukkige spysverteringstelsel (soos sooibrand) verbeter
* Gesonder vel

Hier is jou volledig-uitgewerkte eetplan vir die volgende 7 dae:


Dag 1

Jogurt met bloubessie- en gemmersousOntbyt
Jogurt met bloubessie- en gemmersous




Feta-, nektarien- en aspersieslaaiMiddagete
Feta-, nektarien- en aspersieslaai




Thaise hoenderkerrieAandete
Thaise hoenderkerrie

Dag 2

Roereier met robotsoetrissies en sampioeneOntbyt
Roereier met robotsoetrissies en sampioene



Pizza on TupperwareMiddagete
Pizza on Tupperware





Stokvis- en groentepakkieAandete
Stokvis- en groentepakkie

Dag 3

Ontbyt
Smoothie met papaja en frambose

Tikka-hoenderslaaiMiddagete
Tikka-hoenderslaai





Geroosterde groente met fetakaasAandete
Geroosterde groente met fetakaas


Dag 4

Jogurt met appelmoes en kaneelOntbyt
Jogurt met appelmoes en kaneel




Caprese-slaaiMiddagete
Caprese-slaai






Gebraaide biefstuk met gestoofde groenboontjies, tamatie en sampioen Aandete
Gebraaide biefstuk met gestoofde groenboontjies, tamatie en sampioen


Dag 5

Ontbyt
Omelet met groente van jou keuse

Waatlemoen-, feta- en komkommerslaaiMiddagete
Waatlemoen-, feta- en komkommerslaai




Basiliekruid-roerbraaihoender met sampioene, kersietamaties en mangetoutAandete
Basiliekruid-roerbraaihoender met sampioene, kersietamaties en mangetout

 

Dag 6

Jogurt met geroosterde spanspekOntbyt
Jogurt met geroosterde spanspek




Hoender- en koolslaai met gemmerMiddagete
Hoender- en koolslaai met gemmer




Aandete
Braaivleis, oor die kole, met groentepakkies in foelie

Dag 7

Ontbyt
Eiers florentine

Cajun-pangebraaide stokvis met avokado- tamatie- en papajasalsaMiddagete
Cajun-pangebraaide stokvis met avokado- tamatie- en papajasalsa



Sampioene met maalvleisvulselAandete
Sampioene met maalvleisvulsel

 

ONTBYT

Ontbyt is dikwels die moeilikste ete om sonder stysel klaar te kom. Weg is hawermout, weg is graankos en weg is toast.
Dus bly daar vir jou onversoete jogurt en eiers oor om die dag mee te begin.
Jy kan natuurlik kaas met slaai of groente ook vir ontbyt eet.
terug na bo

Jogurt

Een porsie jogurt is 175 ml. Eet jou jogurt saam met 'n vrug en gebruik versoeter as jy van dit soeter hou. Dit neem nogal 'n tydjie om gewoond te raak aan onversoete jogurt, maar mens leer naderhand jouself om aan minder suiker gewoond te raak.
Om jou jogurt en vrug minder saai te maak, kan jy een van dié resepte volg. As jy die vrug in Sprite Zero kook, sal jy 'n soet sousie kry om jou jogurt lekker te maak. Jy kan egter water en versoeter ook gebruik.

Jogurt met bloubessie- en gemmersous

Jogurt met bloubessie- en gemmersous175 ml jogurt
60 g bloubessies, vars of gevries
60 ml Sprite Zero
2 cm gemmer, gerasper of baie fyn gekap

Meng die bloubessies, Sprite en gemmer in 'n klein kastrol. Bring tot kookpunt en kook vinnig vir 5 - 8 minute. Druk ongeveer die helfte van die bloubessies fyn terwyl dit besig is om te kook.
Laat dit effens afkoel voordat jy dit met die jogurt meng.

Die bloubessiesous is ook heerlik saam met die geroosterde spanspek.
terug na bo

Jogurt met geroosterde spanspek

175 ml jogurt
180 g spanspek, in skywe gesny met die skil in
versoeter

Sprinkel die gesnyde kante van elke spanspekskyf ligweg met versoeter en braai dan in 'n kleefvrye pan totdat dit mooi verbruin.

Dien dit op met die jogurt. terug na bo

Smoothies

Smoothies is een van die wonderlikste goed wat die wêreld getref het. Enige vrugte, jogurt en ys word gemeng vir 'n verkoelende drankie.

Meng vrugte, soos papaja, aarbeie en ander bessies, perskes, nektarien of 'n vrug van jou keuse in 'n versapper of verwerker saam met 175 ml jogurt, versoeter na smaak, en ys, as jy wil. Die ys maak dit heerlik koud, maar is nie noodsaaklik nie. terug na bo

Jogurt met appelmoes en kaneel

Jogurt met appelmoes en kaneel1 appel, geskil en in blokkies gesny
50 ml Sprite Zero
175 ml jogurt
kaneel, om oor te sprinkel

Kook die appel in die Sprite totdat dit sag is.
Jy kan dit in die mikrogolfoond of in 'n kastrol op die stoof maak.

Skep dit bo-op die jogurt en sprinkel met kaneel. terug na bo

Eiers

Eiers is dikwels in die moeilikheid, so dat mense al skoon sku is daarvoor. Maar twee tot drie eiers per week kan nie skadelik wees nie. 1 eier is een porsie. terug na bo

Omelet

Omelette is vullend, en 'n goeie manier om groente in die oggend in te kry.
Om 'n een eier-omelet te maak is redelik moeilik. Die enigste raad wat ek het, is om aan te beveel dat jy of 'n lekker klein pannetjie aanskaf, of 'n twee eier-omelet maak en dit met iemand deel.

Meng 15 ml water by vir elke eier wat jy gebruik.
Begin altyd deur eers die groente te braai, sodat jy die omelet dadelik kan eet wanneer dit gereed is.

Geroosterde groente, en gebraaide groente is heerlik in 'n omelet, terwyl 'n koue vulsel van avokado en tamatie net so lekker kan wees. Onthou dat die eier reeds die proteïen is, en jy daarom liefs nie nog kaas of vleis by moet eet nie. terug na bo

Roereier met robotsoetrissies en sampioene

Roereier met robotsoetrissies en sampioene120 g gemengde groente, soos sampioene en geel, rooi en groen soetrissie
1 eier
15 ml water
5 ml vars, of 1 ml gedroogde origanum
sout en varsgemaalde swartpeper
30 ml vars, gekapte Italiaanse pietersielie

 

Braai die groente in 'n non-stick-pan totdat dit net begin versag.
Meng die eier, water en origanum.

Wanneer die groente net reg lyk, gooi die eiermengsel oor. Sprinkel met sout en varsgemaalde swartpeper en roerbraai dit totdat die eier gaar is.

Sprinkel met die vars pietersielie en eet.


terug na bo




Eiers florentine

Florentine verwys na geregte met spinasie in. Gesoteerde spinasie word hier met 'n geposjeerde eier bedien.
Geposjeerde eiers is baie gesond omdat dit werklik geen olie benodig om gaar gemaak te word nie.

2 groot, bruin sampioene
agste van 'n medium ui, in skyfies gesny
100 g spinasie, dun blare, in growwe stukke geskeur
sout en varsgemaalde swartpeper
1 eier
10 ml witasyn

Braai eers die sampioene in jou kleefvrye pan, sprinkel met sout en peper, en hou eenkant wanneer dit gaar is.

Braai dan in dieselfde pan die ui, totdat dit sag en deurskynend lyk, voeg die spinasie by en braai tot dit verlep.

Om die eier te posjeer: Kry 'n klein kastrol en maak dit halfvol met water, voeg die asyn daarby.
Laat dit tot kookpunt kom.

Breek die eier in 'n klein bakkie oop.
Gebruik 'n groot lepel om 'n whirlpool in die water te maak, deur die lepel om en om in die rondte, in dieselfde rigting, te draai. Gooi dan versigtig die eier daarin. Gebruik die lepel om hom bymekaar te hou.
Kook vir 3 – 5 minute, afhangend van hoe jy van jou eier hou.

Plaas dan die sampioene en spinasie op crackerbread en skep die eier bo-op. Sprinkel met sout.terug na bo

MIDDAGETE EN AANDETE

Slaai en roerbraai is beide vinnige en maklike geregte om vir middagete voor te berei. Indien jy van 'n ligte aandete hou, sal dit egter dan ook die trick doen.

Die slaai- en groente-gedeelte van elke ete kan tot 130 g per persoon uitmaak. Maak dus seker dat jy genoeg daarvan eet.
Die vleisporsie kan so groot soos die palm van jou hand wees. Wanneer jy meer vleis of kaas eet, verminder jou groente en vice versa.
Moet ook nie skroom om crackerbread, ryvita, of provita, saam met jou ete te geniet nie.

Rek jou brein om aan vrugte te dink wat by jou slaai pas. Probeer die Waatlemoen-, feta- en komkommerslaai of Feta-, nektarien- en aspersieslaai om jou vrug saam met jou slaai te geniet. Die Cajun-pangebraaide stokvis met avokado-, tamatie- en papajasalsa gee net so lekker gebruik vir 'n vrug.

Sien die onderafdelings vir meer idees:
* Geregte met kaas
* 5 ml mayo-hoender
* Roerbraai
* Vullende etes
* Geur-inspirasieterug na bo

Geregte met kaas

Hier is 'n paar disse wat net met slaai of groente en kaas gemaak word. Probeer om sover as moontlik laevetkaas te gebruik. Sagte kase, soos Brie en Camembert, en roomkaas het meesal meer vet. Cheddar, Tussers, mozzarella, fetakaas, maaskaas en ricotta - almal laevet, natuurlik – is wat jy moet eet.

Vervang enige van die kase wat by die onderstaande slaaie genoem word, om die slaai te verander. Maaskaas kan heerlik in 'n slaai word as jy dit met baie, gekapte, vars kruie, slaai-, of sprietuie, 'n skeut suurlemoensap en sout en varsgemaalde swartpeper meng.
terug na bo
Caprese-slaai

CapreseslaaiCaprese-slaai is sekerlik die eenvoudigste ding op aarde, maar in die eenvoud lê daar die bekende en heerlike smaaksensasie van tamatie en basiliekruid. Jy kan ook laevet maaskaas in plaas van mozzarella gebruik.

1 tamatie
60 g mozzarellakaas
vars basiliekruidblare
balsemieke asyn
swartpeper

Sny die tamatie en mozzarella in skywe.
Pak die tamatie, mozzarella en basiliekruid opeenvolgend op 'n opdienbord. Sprinkel balsemieke asyn en swartpeper oor en dien op met crackerbread.










terug na bo

“Pizza on Tupperware”


“Pizza on Tupperware”Tegnies staan die as pizza op crackerbread bekend, maar die eerste maal wat ek dit geëet het, het dit vir my so taai soos tupperware geproe. Dis belangrik om dit, as jy dit in die mikrogolfoond sit, net vinnig in te sit. Die oond werk eintlik beter. En die rye crackerbread werk baie beter as die gewone een – dit gee 'n meer stabiele basis. Jy kan selfs die mozzarellakaas op die groente in die pan sit en dit daar laat smelt voordat jy dit op die crackerbread sit.

2 crackerbreads
130 g gemengde groente (robotsoetrissies, sampioene, murgpampoentjies en tamatie)
5 ml olyfolie
10 ml balsemieke asyn
sout en varsgemaalde swartpeper
5 ml gemengde, gedroogde kruie of 15 ml vars
65 g mozzarellakaas, gerasper

Braai die groente in 5 ml olie. Wanneer dit net begin gaar word, gooi die asyn, sout en peper en kruie by. Laat al die asyn wegkook.

Skep die groente op die crackerbread, sprinkel die kaas oor en smelt dit vinnig in die mikrogolf, of rooster dit in die oond totdat die kaas gesmelt het. terug na bo

Feta-, nektarien- en aspersieslaai

Feta-, nektarien- en aspersieslaai1 ring fetakaas
1 nektarien, gehalveer
12 aspersies, onderpunte afgebreek
'n paar dik repe rooi soetrissie
blaarslaai; gemengde, klein blare
vars suurlemoensap
balsemieke asyn
sout en varsgemaalde swartpeper

Hiervoor kan jy een, groot pan gebruik en elke item in sy eie hoekie gelyk braai.

Braai die nektarien, aspersies, soetrissie en fetakaas – elk in sy hoekie.
Plaas die aspersies op 'n bordjie waarop jy sous sal kan opvang. Sprinkel dit dan met suurlemoensap, balsemieke asyn en sout en varsgemaalde swartpeper. Dit maak 'n heerlike slaaisous.

Pak die slaaiblare op 'n bord en rangskik eers die aspersies daarop met al hul sous. Rangskik dan die res van die bestanddele bo-op en geniet.terug na bo



Waatlemoen-, feta- en komkommerslaai


WaatlemoenfetaenkomkommerslaaiDie slaai is nie die maklikste om voor hoeveelhede te gee nie – mens maak dit maar net en soos hy kom, kom hy en dis altyd genoeg! Soms is dit te veel, maar ek geniet dit so dat dit dan eintlik genoeg word. Die is 'n heerlike, knarsvars somerslaai.

waatlemoen, in blokkies gesny
komkommer, in lang repe gesny met 'n groenteskillertjie
groen soetrissie, in dun repies gesny
fetakaas, in wiggies gesny
vars kruisementblare
varsgemaalde swartpeper

Meng die waatlemoen, komkommer, soetrissie en fetakaas. Skeur vars kruisementblare oor en sprinkel met swartpeper.

terug na bo








Geroosterde groente met gesmelte kaas

Geroosterdegroentemetgesmeltekaasgroot, bruin sampioene, in kwarte gesny
murgpampoentjies, in 2 cm-stukke gesny
aspersies, onderpunte afgebreek waar dit knak
robotsoetrissies, in blokkies van 2 cm gesny
'n eetlepel of twee balsemieke asyn
5 ml gedroogde origanum of basiliekruid, of 15 ml vars
sout en varsgemaalde peper
fetakaas, of mozzarellakaas

Voorverhit die oond tot 200 °C. Kry 'n oondpan.
Gooi al die groente daarin en rooster vir 10 minute.

Geur met asyn, kruie en sout en peper.
Breek fetakaas in blokkies of gebruik stukkies, of gerasperde mozzarellakaas.
Spasieer die kaas mooi op die groente, dan sal jou pan nie so vuil word nie!

Bak dan vir nog 5 -8 minute tot die kaas gesmelt het.

5 ml mayo-hoender

Sommige diëte laat jou 5 ml laevet-mayonnaise toe. Die 5 ml, letterlik, kan jy geur en dan 'n hoenderborsie daarmee bedek, voordat jy dit braai. Onthou om die hoenderborsie met sout en peper te sprinkel voor jy dit verder geur.
Geur die mayonnaise so:
* Vir tikka-hoender: voeg 2,5 ml kerriepoeier, en 1 ml elk paprika en borrie by.
* Vir Mediterreense hoender: voeg 'n skeut suurlemoensap en 15 ml vars, of 5 ml gedroogde oreganum by.
* Vir hoenderschnitzel: slaan 'n crackerbread in krummels; bedek die hoender in mayonnaise en bedek dit dan in die krummels. terug na bo

Tikka-hoenderslaai
Tikka-hoenderslaai
1 tikka-hoenderborsie (sien bo)
130 g slaai-bestanddele, soos:
blaarslaai
kersietamaties
mange tout-ertjies, halveer
sprietuie, gekap

Sny die gebraaide hoenderborsie in skyfies.
Maak 'n gemengde slaai en lê die hoenderstukkies daarop neer.

Vir 'n vinnige slaaisous: Meng 15 ml jogurt, 5 ml asyn en twee gekapte slaai-uie.terug na bo

Roerbraai

Roerbraai is sekerlik een van die maklikste goed om te maak. Jy gooi net vleis in groente bymekaar in 'n pan, braai en klaar.
Dit kan ook maklik verkeerd gaan. Kry jou groente en vleis voor die tyd reg, sodat alles gereed is om te braai. Dis belangrik dat jy nie jou groente oorgaar maak nie, en dus ook nie jou vleis nie.
Geur jou roerbraai goed om te verseker dat jy nie moeg raak daarvoor nie.
In die geval gebruik jy vars basiliekruid en balsemieke asyn. 'n Besliste wenkombinasie.terug na bo


Basiliekruid-roerbraaihoender met sampioene, kersietamaties en mangetout


Basiliekruid-roerbraaihoender met sampioene, kersietamaties en mangetoutVir 1 persoon:
1 hoenderborsie, in repies gesny
kwart van 'n ui, in skyfies gesny
3 sampioene, in skyfies gesny
5 kersietamaties, gehalveer
3 mangetout-ertjies, in repies gesny
50 ml vars, gekapte basiliekruid
15 ml balsemieke asyn
sout en varsgemaalde swartpeper

Braai eerste die hoenderrepies tot hulle goudbruin is. Verwyder van die hitte.
Braai dan die groente tot hulle begin kleur kry en voeg weer die hoender by.

Voeg die basiliekruid en asyn by en geur verder met sout en peper.
Braai net totdat die asyn weggekook het. Eet dadelik.



terug na bo






VULLENDE ETES

Gebraaide biefstuk met gestoofde groenboontjies, tamatie en sampioene
Gebraaidebiefstukmetgestoofdegroenboontjiestamatieensampioen
Vir 2 persone:
2 steaks, van jul keuse
15 ml balsemieke asyn
5 ml braaispeserye
150 g groenboontjies
1 tamatie
4 sampioene
kwart 'n ui
½ koppie (125 ml) water
sout en varsgemaalde swartpeper

Meng die asyn en braaispeserye. Sprinkel die vleis met sout en peper, indien nog nodig ondanks die speserye. Laat die vleis in die asynmengsel lê vir minstens 10 minute voordat jy dit begin gaarmaak.

Begin intussen met die groente.
Verwyder die tamatie se skil: sny 'n kruis in die bo en onderkant, gooi kookwater oor en laat vir 'n minuut staan. Spoel dan onder koue water af. Trek die skille af.
Ek verwyder altyd 'n tamatie se skil voor ek dit in 'n gekookte gereg gebruik, maar as dit jou nie pla nie, sal ek nie dat dit my pla nie.

Sny die groenboontjies in 1 cm-stukkies en die sampioene en ui in skyfies.
Braai dan die tamatie, groenboontjies, ui en sampioene in 'n klein kastrol vir ongeveer 5 minute, voordat jy dit water byvoeg.

Geur met sout en swartpeper en laat dit prut totdat die water weggekook het. Toets 'n boontjie om te sien of dit na jou smaak gaar is.
Terwyl die groente kook, kan jy die vleis braai.

Dien dan die vleis met die boontjie-, tamatie- en sampioengereg op.
terug na bo
Gevulde sampioene

Eet die gevulde sampioene saam met 'n gemengde slaai vir 'n heerlike ete.

Haal die stingels van 'n paar groot, bruin sampioene uit. Braai hulle, bokante na onder vir ongeveer 5 minute. Hulle moet net begin versag. Plaas dan in 'n oondpan, regte kant om.

Voorverhit die oond tot 180 °C. Nadat jy die vulsel ingesit het bak dit vir 10 minute.

Die sampioene kan met 'n groot verskeidenheid bestanddele gevul word. Hier is twee idees:

Groenteenmozzarellavulsel* Groente- en mozzarellavulsel
Braai robotsoetrissies, ui, tamatie en sampioen. Sny al die groente in klein blokkies wat om en by ewe groot is.
Voeg 'n skeut asyn of suurlemoensap, gekapte basiliekruid en sout en peper by.
Braai net totdat die groente versag. Verwyder van hitte en laat effens afkoel.
Rasper mozzarellakaas. Moenie oorboord gaan nie, mens het net 'n bietjie nodig.
Breek dan 1 crackerbread in fyn stukkies.
Meng die kaas en stukkies by die groente en skep in die sampioene.











Sampioenemetmaalvleisvulsel* Maalvleisvulsel
Alternatiewelik, kan jy maer maalvleis saam met gekapte ui en blokkies tamatie braai. Voeg ook gekapte sampioene by.
Geur dit met sout en peper.
Voeg daarby 1 crackerbread, wat in fyn stukkies gebreek is, voordat jy die sampioene daarmee vul.







terug na bo









Stokvis- en groentepakkies

StokvisengroentepakkiesDie pragtige Franse term vir hierdie pakkies is “en papillote”. Die vis word saam met groente in 'n waspapierpakkie toegemaak en dan in die oond gebak. Die inhoud word dan eintlik gaar gestoom. Hoender kan ook op die manier gaar gemaak word, asook ander vis, soos salm en mossels. Speel met jou eie kombinasies.

Vir 2 pakkies:
2 stokvisfilette
1 ui
2 medium tamaties
2 – 3 murgpampoentjies of groen- en geelpampoentjies
1 suurlemoen
sout
waspapier

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Sny die ui in dun ringetjies. So dun as wat jy dit kan kry.
Sny ook die tamaties en pampoentjies in ringe.

Skeur twee stukke waspapier af van dieselfde grootte – ongeveer 25 x 25 cm.
Pak die groente in die middel van die waspapier.
Plaas die visfilet daarop.
Sprinkel met sout en plaas dan 1 of 2 ringe suurlemoen bo-op.

Plaas nou die tweede stuk waspapier bo-op en vou al die rande om, om dit te seël. Vou dan weer van die kante in om dit rond te maak – dan is jy verseker dat dit goed geseël is.

Bak vir 15 tot 20 minute.terug na bo

* Wenk: Groentepakkies in foelie
Die pakkies werk wonderlik vir wanneer jy wil braai. Vervang net die waspapier met foelie. 
Groentepakkies is dan veral suksesvol. Jy kan vir elke persoon sy eie groentepakkie maak, met enige kombinasie van groentes waarvan jy hou. Sampioene, aspersies en soetrissies is veral lekker.
Braai die vleis dan apart en eet saam met 'n groentepakkie.

Geur-inspirasie

Speserye word in alle diëte toegelaat en dis dit wat jou kos van eenvoudig en selfs vervelig na “iets uit 'n ander wêreld” kan neem. Dit vat veral die eentonigheid van dieetkos weg. Dan is daar ook vars kruie en ander bestanddele soos vars gemmer en suurlemoen wat jou kos opkikker.

Cajun-pangebraaide stokvis met avokado- tamatie- en papajasalsa

Cajun-pangebraaide stokvis met avokado- tamatie- en papajasalsaDie kombinasie van skerpgegeurde vis met 'n verkoelende salsa is om van te droom. Om die gaarmaak van die vis te vergemaklik, help dit om die visfilet in die helfte te sny, sodat jy 'n stertkant en 'n dikker bokant het. So sal jy dit makliker kan omdraai en die gaarmaaktyd beter kan beheer, aangesien die stertkant vinniger sal gaarword. Die slaai is net so lekker met 'n Cajun-hoenderborsie, as jy nie vis wil eet nie, of pangebraaide garnale.

stokvisfilette
sout
cajun-speserye*
gemengde blaarslaai met roket, baba-spinasie en ander klein blare
avokado-, tamatie en papajasalsa **

Sprinkel die vis, weerskante, met sout en 'n lagie cajun-speserye.
Verhit 'n non-stick-pan en braai die vis, velkant eerste na onder. Onthou dat vis glad nie lank neem om gaar te word nie, met dun stukke stokvis kan jy na 5 minute al verwag dat dit reg is.

Pak die blaarslaai op 'n bord uit en skep dan van die salsa bo-op, voordat jy die vis daarop sit.

* Vir die cajun-speserye:
2.5 ml paprika
1.25 ml koljander
1.25 ml kerriepoeier
1.25 ml gedroogde origanum

Meng al die bestanddele saam.

** Vir die avokado-, tamatie- en papajasalsa

Maak die salsa met gelyke hoeveelhede avokado, tamatie en papaja. 'n Halwe, klein avo maak genoeg vir 1 persoon.

halwe klein avokado
6 - 8 kersietamaties
papaja, so veel soos die avokado
2 klein sprietuie
2 suurlemoenwiggies
sout
varsgemaalde swartpeper

Sny die avokado, tamatie en papaja in klein blokkies.
Meng met die sprietuie, die sap van 2 suurlemoenwiggies, sout en peper. Die varsgemaalde swartpeper is veral lekker in die salsa.

* As jy van 'n branderigheid hou, kan jy 'n gekapte, vars rissie byvoeg.terug na bo

Thaise hoenderkerrie

Thaise hoenderkerrieAlhoewel Thaise kerrie glad nie soos ons “boere”-kerrie smaak nie, is die ook nie 'n heeltemal korrekte weergawe van Thaise kerrie nie. Dit het egter al die geure daarvan. Normaalweg sal 'n mens dit saam met basmatirys eet en blatjang, gekapte, vars koljander en kasjoeneute saamgee.
In die geval van 'n dieet, mag jy net die koljander kry!
Die kerrie het nogtans 'n lang sous en dis amper soos 'n geurige sop gekruis met roerbraai.
Wortels word normaalweg nie toegelaat nie, aangesien dit ook maar 'n hoë styselinhoud het. Gelukkig is daar 'n debat daaroor, en ander mense stem vir wortels, so net vir die resep gee ons maar die voordeel van die twyfel aan die wortel.

Vir 2 persone
1 blik laevet klappermelk *
2 stukke suurlemoengras, in die helfte gesny
vars gemmer, ongeveer 3 cm, in die helfte gesny
1 groenrissie, gehalveer
2.5 ml koljander
2 hoenderborsies, ontvel en ontbeen
4 murgpampoentjies
4 baba-wortels
kwart van 'n geel soetrissie
sout
gekapte, vars koljanderblare

Gooi die klappermelk in 'n maatbeker uit en vul op met water tot op 400 ml.
Gooi dit in 'n kastrol en plaas oor 'n lae hitte. Gooi die suurlemoengras, gemmer, groenrissie en koljander by.
Afhangend van hoe sterk jy van rissies hou kan jy die rissie ook in klein ringetjies sny en nie later verwyder nie, of jy kan die pitte uithaal, die rissie in die helfte sny en net so insit.

Bring tot kookpunt en kook vinnig vir 10 minute.

Terwyl dit kook kan jy die hoender in blokkies sny en die murgpampoentjies, wortels en soetrissie in julienne-skyfies, oftewel lang repies, sny.

Verlaag die hitte van die klappermelkmengsel en voeg die hoender en groente by. Voeg ook sout na smaak by.
Prut stadig vir nog 10 minute. Kyk of die hoender gaar is en vis die suurlemoengras, gemmer en rissie uit.

Skep in 'n opdienbord en sprinkel gekapte koljander oor.

* Klappermelk koop mens in blikkies; gewoonlik op dieselfde rak as die ingedampte melk. Dit mag dalk te aardig klink vir woorde, maar as jy nie laevet klappermelk in die hande kry nie, kan jy die kos net in water gaarmaak en dan net voor jy dit opdien – dit moenie weer kook nie – voeg jy so 2 of 3 opgehoopte dessertlepels gewone jogurt by. Dit werk regtig!terug na bo

Hoender- en koolslaai met gemmer
Hoender- en koolslaai met gemmer
Die is 'n heerlike slaai – dit lyk dalk so eentonig, maar is propvol geur. Die mengsel van crunchy kool en sagte hoender is die moeite werd om te probeer. Veral wanneer dit die dag warm is. 

Vir 2 persone:
2 hoenderborsies, ontvel en ontbeen
1 klein koolkoppie
1 selderystingel
2 sprietuie
1 groen appel (opsioneel)
Vir die slaaisous:
15 ml suurlemoensap
15 ml laevet mayonnaise
15 ml water
15 ml rys- of appelasyn
versoeter, na smaak
5 ml vars, gekapte gemmer

Kook die hoender stadig in 'n klein bietjie water tot sag. Verwyder van hitte en water en laat effe afkoel.
Trek dit dan met twee vurke of jou hande in repies.

Sny die kool, seldery en sprietuie in dun, fyn skyfies.
Skil die appel en rasper dit grof. Sprinkel met suurlemoensap sodat dit nie bruin word nie.

Maak dan die slaaisous deur al die bestanddele daarvoor te meng. Begin deur net te sprinkel met versoeter, en dan na smaak nog by te voeg. 5 ml witsuiker is gewoonlik voldoende.
Vars gemmer het dikwels te 'n skerp smaak – dan kan jy die sous deur 'n siffie gooi – alhoewel dit heerlik is om die stukkies gemmer raak te byt. Gebottelde gemmer sal goed werk.

Gooi amper die helfte van die slaaisous by die hoender, sprinkel dit met sout en meng goed. Maak seker dat jy nou genoeg sout oor die hoender het.

Meng nou die hoender, al die groente en die res van die slaaisous. Sprinkel met nog bietjie sout, indien nodig.
Die geur sal verbeter as jy dit ongeveer 'n uur voor ete maak, maar jy kan dit dadelik ook eet.terug na bo

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joutafel
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend