|
Padkos is die begin van enige vakansie.
Van my kleintyd af eet ons altyd frikkadelle en toebroodjies op die lang pad. Met 'n fles warm koffie. Die lang pad is egter nog maar altyd 'n losserige begrip. Begin die lang pad tog nie as jy net uit jou tuisdorp gery het nie?
Later jare het my ma egter stuk-stuk begin voet vassteek omdat sy die enigste een in die huis is wat kan toebroodjies maak. Ek sê toe, as sy dit nie wou maak nie, moes sy ons déstyds al op 'n Wimpy-ontbyt-tradisie gesit het, dan was daar nie nou probleme nie.
So, wees gewaarsku: Kies jou tradisie reg. Padkos bly padkos; as dit een keer gewerk het, gaan jy dit elke jaar moet kan maak!
Soos die saak dan nou staan, is frikkadelle en toebroodjies aan te beveel. Maar, as jy meer verskeidenheid aan die dag wil lê, kan jy van die idees gebruik maak.
Jy moet minstens 'n vleisigheid en 'n broderigheid hê, dan kan jy kreatief raak deur nog southappies en gesonde happies by te voeg. Dis altyd goed om die gesondheid ook in ag te neem!
Ek dink nie 'n mens moet jouself inperk net omdat jy onveilig voel om letterlik lángs die pad jou padkos te geniet nie, in die kar, langs die pad, is net so lekker en verspil minder tyd.
As jy nêrens heen het om te ry nie – maak die kos en hou piekniek – al is dit in die agterplaas!
Gebruik bakke wat dig sluit; weggooibare bakke soos roomysbakke werk goed, of gebruik tupperware as jy weet jy gaan dit later in die vakansie weer benodig.

Maak seker dat jy vleis afkoel voordat jy dit verpak. Plaas dit daarna in 'n koelsak met yspakke om dit koud te hou.
Frikkadelle
Het ek al genoem dat frikkadelle 'n stapelpadkosvoedsel is? Ek dink dis ook 'n resep waar elke familie sy eie resep en metode het, die is myne. Ek hou van 'n sterk tamatiegeur.

500 g maalvleis
1 eier
sout
5 ml cajun-speserye, braaispeserye of maalvleisspeserye
5 ml gemengde, gedroogde kruie
10 ml tamatiesoppoeier
5 ml bruinuiesoppoeier
60 ml tamatiesous
30 ml blatjang (opsioneel)
5 – 10 ml Worcestersous
10 ml sojasous
Meng al die bestanddele saam – dit werk dikwels die beste om dit met die hand te doen. Of 'n vurk as dit vir jou te morsig is. Ek toets altyd eers 'n stukkie in 'n klein pannetjie om te proe of dit na wense is. Dikwels kort dit nog bietjie sout of tamatiesous.
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Rol dan balletjies en plaas dit in 'n oondpan wat liggies met olie gesmeer is.
Jy mag my maar mal noem: ek weeg dikwels die frikkadelle af om almal presies dieselfde te kry – 25 g. Dis darem nie altyd nie, spyseniering = perfeksie!
Elk geval, bak dan die frikkadelle vir 18 tot 25 minute, afhangend van hoe groot jy dit gemaak het. Indien dit vetterige maalvleis is sal die frikkadelle onder nie mooi bruin word nie, plaas hulle dan omgedraai op 'n afkoelrakkie en plaas nog 2 minute in die oond.
terug na bo
Worsies
Met worsies hoef jy feitlik niks te doen nie.
Dun boerewors is heerlik, braai dit bruin en sny dit in klein stukkies. Jy kan sekerlik ook boerewors koop en dit in ringe of kleiner stukkies sny.
Klein kaasviennas kan ook net vinnig gebraai word.
terug na bo
Hoender
Ek was nog nooit 'n groot aanhanger van hoender wat aan die been in 'n kar geëet word nie. Tog is dit een van daardie moet-hê items vir menige se padkos.
As jy dus die tipe is, sal hoenderboudjies of vlerkies in jou kar verskyn.
Andersins, kan jy ook hoender in repies sny en die repies met speserye in olie braai, of dit in eier en broodkrummels doop en dan braai.
terug na bo

Toebroodjies met kombinasies van ham, kaas en tamatie is altyd treffers.
Daar is egter nog opsies:
Hoendermayonnaisebroodjies
Die bestanddele is almal in die naam: mens het regtig net hoender, mayonnaise en broodjies nodig hiervoor.
Koop 'n halwe gaar hoender by jou gekose supermark. Pluis die hoender uit en voeg 'n paar lepels mayonnaise by totdat dit “nat” is. Voeg hierby 'n teelepel aangemaakte mosterd en/of gekapte grasuie en 'n bietjie sout, indien nodig.
Sny dan broodrolletjies in die helfte en oop en skep hoendermayonnaise in. Sit 'n blaarslaaitjie by vir die gesondheid!
terug na bo
Mini hotdogs
Dis soms moeilik om klein broodjies te kry wat soos klein hotdog-rolletjies lyk. As jy dit nêrens kan vind nie, kan jy gewone rolletjies gebruik en dit dan net halveer.
Vir die hotdogsous:
Meng 50 ml elk tamatiesous, mayonnaise en blatjang met 2.5 ml aangemaakte Engelse mosterd en 25 ml margarien by in 'n pan en smelt dit. Voeg viennas by en verhit dit in die sous.
Skep dan in elke broodjie 'n bietjie sous, 'n halwe worsie en nog sous.
terug na bo
Mini kaas- en soetrissiehamburgers
Klein burgertjies is een van my gunstelinge, maar tog so duur. Dis aansienlik goedkoper as jy dit self maak – en hulle lyk amper te dierbaar vir eet. Gelukkig net amper! Jy hoef nie kaas op te sit en soetrissiesous by te maak nie, dis net 'n gedagte. 'n Gewone burgertjie is net so lekker.
Vir die burgers gebruik jy dieselfde vleismengsel as vir frikkadelle. Rol dit dan ook in frikkadelgrootte en druk plat om patties te maak.
Braai dan die patties in 'n klein bietjie olie. Braai tot mooi bruin, voor jy dit omdraai. Draai dit net een keer om.
Rasper kaas en skep 'n klein hopie op elke pattie, net nadat jy dit omdraai, dat dit begin smelt. Om dit te help om beter te smelt kan jy 'n deksel opsit.
Verwyder van die hitte – dit neem so 8 minute om weerskante te braai, afhangend van die dikte.
Sit op handdoekrol om die oortollige vet af te skud.
Vir die sous:
Meng gelyke hoeveelhede tamatie- en soetrissiesous, en voeg 'n bietjie aangemaakte mosterd by na smaak.
Sny die broodjies oop en rooster dit, as jy dit so verkies.
Skep dan op elke onderkant 'n teelepel sous, sit 'n blaarslaaitjie en 'n pattie op. Sit dan op die bokant ook 'n klein skeppie sous as daar nog is en druk toe.
terug na bo

In die supermark se vriesafdeling is daar altyd interessante soutighede, van gewone worsrolletjies tot springrolls. Jy kan dit gaarmaak en net laat afkoel voor jy dit verpak – so eenvoudig soos dit. Samoesas kan ook werk. Heinz se Sensationz-reeks het 'n paar interessante pasteitjies vir die waaghals.
Die groter waaghals kan egter sy eie soutighede maak. Hier is resepte vir quesadillas en quiches. Die lekkerste daarvan is dat jy die vulsel so eenvoudig of interessant kan maak soos jy wil.
Quesadillas
Quesadillas is net so eenvoudig om te maak soos 'n toebroodjie. En dit maak ook nie werklik meer skottelgoed nie. Dit word van tortillas of wraps gemaak. Hoewel mens altyd in die rakke by die Meksikaanse kosse “opregte” tortillas kry, is dit baie duur. Wees op die uitkyk vir wraps wat gewoonlik by die pita’s, braaibroodjies en bagels uitgesit word.
Hier is wat jy doen:
Kry 1 wrap uit, en kry vir hom 'n maatjie wat ongeveer dieselfde grootte is.
Sprinkel dan kaas (Cheddar, Mozzarella, feta), gebraaide spek, sampioene of uie, tamatiesalsa, of net wat jy kan aan dink daarop. Maak seker dat jy dit van “hoek tot kant” vol kaas het.
Sit dan die pasmaat-wrap bo-op.
Gooi 'n bietjie olie in 'n groot braaipan. Braai die wrapbroodjie tot goudbruin. Voor jy hom omdraai, smeer die bokant met 'n bietjie olie. Braai dan die kant ook tot bruin.
Verwyder van die hitte as dit goudbruin is weerskante, en die kaas gesmelt het.
Sny elkeen in 8 skywe. Hoewel die quesadillas heerlik bros is direk na dit gebraai is, en ja, jy moet beslis een proe, word dit later sag – dis egter nog net so lekker.
terug na bo
Mini quiches
Klein souttertjies is dalk net te veel gevra van die persoon wat op vakansie gaan, maar sou jy jouself in die netelige posisie vind waar jy vir ander mense padkos maak, of dalk op 'n piekniek gaan is dit 'n werkbare plan.
Vir die deeg kan jy klaarvoorbereide blaardeeg (puff pastry) of shortcrust gebruik. Of maak jou eie deur in 'n voedselverwerker 1 koppie meel, 7.5 ml bakpoeier, 'n knippie sout, 125 g botter / margarien (in blokkies gesny), 1 eier en 15 ml asyn verwerk tot dit 'n deeg vorm. Hou dit in die yskas vir 'n halfuur voordat jy dit uitrol.
Druk sirkels uit jou gekose deeg, en druk dit in gesmeerde klein muffinpannetjies. Skep vulsel* in en bak vir 15 – 20 minute in 'n voorverhitte oond van 190 °C tot amper styf en goudbruin.
*Om die vulsel te maak:
Maak 1 koppie witsous, met 30 ml botter / margarien, 50 ml meel en 'n koppie melk.
Voeg 1 eier by en klits goed.
Hierby kan jy enige bestanddele voeg, soos Cheddarkaas, fetakaas, ander kase, songedroogde tamatie, olyfstukkies, gebraaide spek, sampioene of uie, of 'n heerlike kombinasie van jou gunsteling.
terug na bo

Lag maar vir my, dis reg: ek voel altyd beter (maak nie saak wat ek eet nie) as ek 'n ou blaarslaaitjie of 'n tamatietjie óók eet. Instant gesondheid!
Slaaistokkies is 'n heerlike manier om jou slaai in te kry langs die pad.
Gebruik kersietamaties, stukkies blaarslaai, olywe, komkommer en kraakvars ertjies en ryg dit op stokkies in verskillende kombinasies. Heerlik!
Vars vrugte is net so lekker. Veral druiwe is 'n wonderlike dorslesser! Jy kan vrugtestokkies ook maak, of die vrugte heel inpak.
terug na bo
|