
Hierdie koekies kan maklik deur 'n ieder en 'n elk gemaak word.
Ons het hartjies van alle groottes en letters uitgedruk. Indien jy nie drukkertjies vir alles het nie, kan jy dit met die vryhand uitsny. Maak twee vorms van elkeen wat jy graag wil gebruik – veral van die letters. Dan het jy 'n ekstra letter as daar iets in die bakproses of met die versiering skeefloop. Jy kan selfs ook net 'n basiese vorm uitdruk en dan later met die versiersel daarop skryf en dit mooi maak.
* 2/3 koppies (160 ml) margarien
* ¾ koppie (180 ml) suiker
* 2.5 ml vanieljegeursel
* 1 eier
* 15 ml melk
* 2 koppies (500 ml) meel
* 10 ml bakpoeier
* 1 ml sout
Room margarien, suiker en vanielje. Voeg die eier en melk by.
Sif meel, bakpoeier en sout.
Voeg dit by die margarienmengsel. Meng dit deeglik.
Deel die deeg in 2 dele. Plaas op waspapier, vou toe en plaas in yskas vir 1 uur of in die vrieskas vir 20 minute as jy haastig is.
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Neem die deeg uit die yskas. Haal dit uit die papier en rol op 'n meelbestrooide oppervlak uit. Dit werk makliker as jy elke keer net 'n klein stukkie deeg neem.
Druk vormpies van jou keuse uit en plaas op 'n bakplaat. Bak vir 6 – 8 minute.
Moenie dadelik van die pan verwyder nie, wag eers dat dit begin afkoel en plaas dan die koekies op 'n afkoelrakkie om heeltemal af te koel.
Hierdie was die eerste keer wat ek “royal icing” gemaak het. Dit is beslis die maklikste versiersuiker om mee te werk. Jy kan met gemak 'n versierbuis gebruik om hiermee te “skryf”.
Al wat jy vir hierdie wonderlike versiersuiker benodig is 'n eierwit en versiersuiker.
Gebruik 'n menger en klits 1 eierwit saam met 200 g versiersuiker vir 5 minute. Voeg 'n skeut suurlemoensap by net voor jy ophou klits.
Verdubbel van die begin af indien jy meer versiersuiker benodig.
Indien jy nie alles gebruik nie kan jy dit in 'n lugdigte-houer vir later bêre.

Kolwyntjies kan te pragtig versier word. Gebruik jou gunsteling kolwyntjieresep of 'n pakkie aanmaak-koekmengsel. Jy hoef nie koekmengsel spesifiek vir kolwyntjies te gebruik nie, jy kan ook die wat vir 'n koek bedoel is in kolwyntjiehouers, vir 20 – 25 minute by 180 °C bak. Jy kan ook mini kolwyntjies maak, onthou net om dit vir net 12 – 15 minute by 180 °C te bak.
Lees hier hoe om self geskenkboksies te vou om jou pragstukke in op te dis - spesiaal vir ma. |