WIE IS ONS? | GRATIS NUUSBRIEF | MEDEWERKERS | ADVERTEER
jou gesinstydskrif – maandeliks, gratis en wêreldwyd

Geen sopvleis? Maak groentesop!

Wilna Myburgh

deur Wilna Myburgh




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend








Kook in 'n japtrap heerlike, geurige groentesop met min bestanddele.

Sop hoef nie uit ál die bestanddele in jou yskas te bestaan nie. Die kerktannies het my altyd baie bang gemaak met hul soppraaitjies: “Ag, as jy maalvleis in jou yskas het, gooi jy dit sommer in,” of “Ek gooi sommer al die groente wat daar onder in die yskas lê in my sop.”
Dus is hierdie drie onderstaande soppe eenvoudig. Elkeen bestaan net uit 'n paar bestanddele, en net uit vars groente. Groente-aftreksel word gebruik, maar wanneer jy vars groente het kan jy dit maar met water vervang. Al hierdie soppe word fyngemaak om puree te word – dis eintlik maar persoonlike smaak – en daarna kan jy dit verdun tot hoe jy daarvan hou.

Botterskorsie- en lemoensop

Gemengde sampioen- en aartappelsop
Kasige brokkoli- en blomkoolsop

Botterskorsie- en lemoensop

Botterskorsiesop is altyd 'n wenner met geurige speserye. Hierdie kan as 'n heerlike teen-verkoue-sop genuttig word – die gemmer, borrie en lemoensap is goed vir die immuunstelsel. Vars, gekapte gemmer is net so lekker in die sop, ongeveer 15 ml sal genoeg wees; verminder dan net die fyn gemmer na 2.5 ml.

10 ml elk olie en botter/margarien
½ medium ui, in blokkies gesny
5 ml gemmer
2.5 ml borrie
2.5 ml fyn komyn
2.5 ml fyn koljander
2.5 ml vinkelsaad
750 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
125 ml lemoensap (sap van ongeveer 2 lemoene)
500 ml water
sout
100 ml melk

Kry 'n groot kastrol uit en verhit die olie en margarien daarin.
Braai die ui oor lae hitte vir ongeveer 5 minute tot sag en deurskynend. Verhoog die hitte, en voeg al die speserye by. Braai vir 'n minuut totdat jy die speserye begin ruik.

Voeg dan die botterskorsieblokkies by en braai om dit met die speserye te meng. Gooi die lemoensap en water by. Voeg sout by. Bring tot kookpunt en kook vir 20 – 30 minute totdat die botterskorsie sag is.

Gebruik 'n voedselverwerker, stick blender of versapper om die sop fyn te maak.
Voeg die melk by om dit te verdun. Jy kan nog melk of water byvoeg om die dikte te kry wat jy verlang.
Voeg nog sout en swartpeper na smaak by.

Bedien met geroosterde kaasbroodjies, as jy baie honger is. Terug na bo

Gemengde sampioen- en aartappelsop

Die sop is 'n goeie manier om jouself aan nuwe sampioensoorte bekend te stel. Oestersampioene is een van my gunstelinge, en daarby het ons shimeij gebruik. Moenie bekommer as jy nie dié sampioene in die hande kan kry nie, portabellini-sampioene en gewone wit knopiesampioene is net so lekker.

10 ml elk olie en botter/margarien
1 ui, fyngekap
10 ml fyn koljander
250 g knopiesampioene, gehalveer
200 g oestersampioene, of ander wildesampioene, soos shimeij of enoki, of 'n mengsel daarvan
800 g aartappels (ongeveer 4 medium), geskil en in klein blokkies gesny
750 ml groente-aftreksel
nog 'n klontjie of twee botter/margarien

Verhit die olie en botter/margarien in 'n groot kastrol. Braai die fyngekapte ui tot sag en deurskynend, ongeveer 5 minute.
Voeg die koljander, gehalveerde sampioene, en die helfte van die oestersampioene by. Braai vir ongeveer 'n minuut voordat jy die aartappels en aftreksel byvoeg.
Bring tot kookpunt en kook vir ongeveer 30 minute, of totdat die aartappels sag is.

Gebruik 'n voedselverwerker, stick blender of versapper om die sop fyn te maak.
Voeg dan melk of water by om dit te verdun.

Kry 'n braaipan om die res van die sampioene in die ekstra botter/margarien te braai. Braai tot goudbruin en gooi sout en swartpeper by na smaak.
Bedien dan die gebraaide sampioene saam met die sop. Terug na bo

Kasige brokkoli- en blomkoolsop

Wat 'n wonderlike resep! Dit neem net so lank om te maak solank jou brokkoli en blomkool neem om te kook. Terwyl jy dit kook maak jy 'n heerlike dik kaassous, meng die twee saam en voilà – sop! Ek voeg 'n aartappel by aangesien dit die sop substansie gee, maar as jy 'n groot brokkoli- en blomkoolaanhanger is, kan jy die aartappel weglaat en dit net in minder aftreksel kook. Jy kan ook die brokkoli of die blomkool weglaat en met meer van die ander een vervang.

1 aartappel, van ongeveer 200 g
2 koppies groente-aftreksel
250 g gemengde pak brokkoli en blomkool, in kleiner stukke opgebreek
sout
¼ koppie (60 ml) botter / margarien
½ koppie (125 ml) meel
2 koppies (500 ml) melk
sout
witpeper en neutmuskaat, om te geur
½ koppie Cheddarkaas, gerasper

Sny die aartappel in baie klein blokkies – omtrent 05 x 0.5 cm of kleiner. Dan kook dit in 'n japtrap gaar en jy kan dit saam die brokkoli en blomkool kook.
Bring die groente-aftreksel en aartappelblokkies tot kookpunt en voeg dan die blomkool en brokkoli by. Voeg 'n stewige knypie sout by. Laat dit vir ongeveer 12 minute kook, tot die aartappel sag is.

Terwyl dit kook maak die witsous:
Smelt die botter / margarien in 'n kastrol, voeg die meel by en roer met 'n draadklitser. Voeg geleidelik die melk by, terwyl jy vinnig roer om die klonte uit te wis.
Bring tot kookpunt en kook vir 5 – 8 minute, terwyl jy voortdurend roer, tot dik en gaar.
Geur die witsous met sout, witpeper en neutmuskaat. Roer die kaas by.

Voeg die kaassous by die gekookte groente en gebruik dan 'n voedselverwerker, stick blender of versapper om dit fyn te maak en te meng. Voeg nog sout en peper na smaak by.

Strooi 'n klein bietjie fetakaas oor – dis heerlik!Terug na bo
Kommentaar aangedryf deur Disqus
e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joutafel
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke |
gratis nuusbrief | medewerkers | adverteer | wie is ons?

Kopiereg © 2008-2010