deur Wilna Myburgh




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend
Quesadillas, karamelspringmielies en warmsjokolade – wat meer wil jy op die fliekspyskaart hê? Voeg eenvoudig net die flieks by!

In die wintertyd is daar min dinge so lekker soos om al jou komberse na die televisie toe te dra, en net daar uit te kamp en flieks te kyk. Dis eintlik jammer dat 'n mens dan moet opstaan om iets te ete of drinke te soek. Behalwe as dit nou is om springmielies te maak, veral springmielies met karamelsous. En wie het gesê mens mag nie sout- en soet-springmielies kry nie?
Beslis nie ek nie!

En word mens nie ook altyd lus vir pizza as jy fliek nie? Quesadillas is 'n lekker, maklike alternatief – dit bevat my gunsteling gedeelte van pizza – gesmelte kaas! En jy kan self kies watter bestanddele jy wil insit.

Om mee af te sluit, is hier 'n resep om jou eie kitsmengsel vir warmsjokolade te maak – sodat jy dit na hartelus kan maak.

Quesadillas

Quesadillas is vinnig en maklik om voor te berei. Vir 'n uitgebreide gesprek oor quesadillas en hul herkoms, lees hier. Jy benodig net die tortillas of wraps, kaas en ander bykomende bestanddele van jou keuse. Dan word elke "tortillabroodjie" in 8 skywe gesny, en elkeen kan van die verskillende vulsels probeer.
Al wat belangrik is, is dat jy 'n braaipan so groot soos jou tortillas het. As jy dus nie 'n groot pan het nie, koop eerder die klein tortillas of wraps.

Moontlike vulsels:
* Cheddarkaas
* Mozzarellakaas
* Gekrummelde fetakaas
* Gebraaide spekstukkies
* Biltongskyfies
* Gebraaide, gesnyde sampioene
* Gebraaide uie
* Tamatiemengsel of –salsa
* Net wat jou verbeelding nog kan uitdink!

Elke tortillabroodjie moet ten minste 'n halfkoppie kaas kry, vir plakdoeleindes!

Plaas een tortilla voor jou neer. Versprei kaas oor die hele tortilla.
Versprei dan ander bestanddele van jou keuse bo-op.
Plaas nog 'n tortilla bo-op.

Verhit ongeveer 15 ml olie in 'n braaipan. Plaas die tortillabroodjie, versigtig sodat jy nie die vulsel verloor nie, in die pan. Braai, totdat dit goudbruin aan die onderkant is. Smeer gou 'n dun lagie olie op die boonste tortilla.
Draai met 'n spatula om en braai dan die anderkant ook tot goudbruin. Jy kan dit maar so bietjie met die spatula bykom en platdruk dat hy lekker plak!

Plaas op 'n snybord, en sny in 8 skywe. Hou eenkant totdat die ander gebraai is.

Kasige springmielies

Hierdie is al weer een van daai, wat werklik geen resep is nie. Eerder 'n idee. Jy kan enige gegeurde sout gebruik, of enige gewone sout.

springmielies
* cheddarkaas, fyngerasper
sout

So, maak springmielies.
Dan, sommer dadelik as dit nog vuurwarm is, gooi die fyngerasperde kaas en genoeg sout by. Skud om te meng.
Hou die deksel op, dan sal die kaas so net-net begin smelt.

Eet!

* Vir meer "gesofistikeerde" springmielies, kan jy gerasperde parmesaankaas gebruik, met of sonder 'n sprinkel vars, gekapte kruie van jou keuse.

Karamelspringmielies

Hierdie sous is genoeg vir 6 koppies "gespringde" mielies.

Om die karamelsous te maak:
50 ml bruinsuiker
25 ml margarien / botter
15 ml gouestroop
25 ml melk
2.5 – 5 ml karamelgeursel (opsioneel)
Meng die bruinsuiker, margarien / botter en gouestroop saam in 'n klein kastrol.
Roer oor 'n lae hitte totdat dit smelt – kook dan lekker vinnig vir 2 minute. Bruinsuiker sukkel vreeslik om te smelt, so moenie te veel hieroor bekommer nie – veral nie as jy dit dadelik gaan eet nie.
Gooi dan die melk by – pasop net – want as dit baie warm is, is die melk geneig om te spat.
Vir 'n ekstra karamelsmaak, kan jy karamelgeursel byvoeg.

Gooi oor die springmielies en meng om die sous te versprei.
Hou die bak styf vas! Smul!

Warmsjokolade-kitsmengsel

Dis uiters bevredigend om hierdie poeier te meng – dit mag dalk oorspronklik voel of dit baie geld is om die bestanddele aan te koop, maar die eindproduk is werklik goedkoper as dit wat jy in die winkels koop. Dis baie heerlik om dié kitsmengsel in grootmaat te maak en in 'n lugdigte houer te bêre. Dis net so maklik om die warmsjokolade dan grootmaat in 'n kastrol op die stoof aan te maak – jy moet net jou maalsomme ken!

3 dele melkpoeier
3 dele versiersuiker
1 deel verromer
1 deel kakao

1 deel = 125 ml (½ koppie) maak 'n maklik hanteerbare hoeveelheid.
Meng al die bestanddele saam en hou in 'n lugdigte houer.

Om die warmsjokolade te maak:

Vir 1 beker: Verhit 'n ½ koppie (125 ml) melk en 'n ¼ koppie (62.5 ml) water in 'n kastrol.* Voeg 'n ¼ koppie kitsmengsel by. Meng deeglik met 'n draadklitser om dit lekker skuimerig te maak.

Dompel 'n marshmallow of twee in die beker, vir 'n ekstra spesiale bederf!

* Die warmsjokolade word in die verhouding 1:3 (poeier:vloeistof) aangemaak. Jy kan die hoeveelhede van die melk en water na smaak aanpas. Dit hang net af van hoe melkerig jy daarvan hou.

Smullers – Smullekkerresepte op jou selfoon

Kits-cappuccino


Het jy dit geniet om vinnig jou eie mengsel vir warmsjokolade te maak? Het jy nog melkpoeier en verromer in die koskas? Of drink jy graag cappuccino's, maar kan dit nie aldag bekostig nie? Vir 'n resep om jou eie, heerlike cappuccino-kitsmengsel te maak, SMS die woorde SMUL KITS na 35570
e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joutafel
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend