joutafel

 Wilna Myburgh
deur Wilna Myburgh




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

kry jou
eie GRATIS
NUUSBRIEF

jou naam:
e-posadres:

Net 'n sakkie brooddeeg

Gebruik goedkoop broodterapie om 'n slegte dag af te werk – koop brooddeeg en maak een, of almal, van hierdie interessante brode.

Kook is nog altyd vir my 'n soort terapie.
En as mens 'n slegte dag, week of maand gehad het, is daar min dinge wat mens so kan regruk soos 'n sakkie brooddeeg en 'n Elvis-CD.
Elvis is sekerlik opsioneel, en hoewel 'n bietjie rock 'n roll nooit skade maak nie, kan jy maar jou soort CD in die CD-speler laai.

Broodbak is 'n soort terapie van sy eie, wat heel moontlik baie te doen het met die vertroostende reuk van gis, maar ook die bevrediging wat mens smaak (letterlik én figuurlik) wanneer jy varsgebakte brood uit die oond haal. Ek het egter gevind dat die deel waar jy self die deeg aanmaak en knie nie werklik nodig is vir die terapie om suksesvol te wees nie. Tensy jy aggressie het om af te werk, natuurlik. Indien nie, kan jy met gemak winkel toe ry en brooddeeg koop.
Meeste winkels wat hul eie brood verkoop sal vir jou brooddeeg gee. Jy moet egter onthou dat alle winkels s'n nie dieselfde smaak nie. Koop jou deeg by die winkel waar jy die graagste brood koop, dis so maklik soos dit.

Maak nie saak wat jy met die deeg wil doen nie, dit moet eers rys. Die rit huis toe in 'n warm kar help gewoonlik die rysproses aan. As die deeg direk uit die yskas kom, moet jy dit bietjie ekstra tyd gee. Laat staan die deeg, bedek met plastiek of 'n vadoek dat dit nie uitdroog nie, in die sonnetjie of in 'n warm vertrek. As so iets nie te vinde is nie, kan jy 'n warmwatersak maak, die deeg in vadoeke of 'n kombers sit en die warmwatersak daar bo-op neersit. Gewoonlik is 'n halfuur voldoende, jy kan net vroeër bietjie die deeg omdraai dat dit alle kante warm word. Dit moet pofferig begin lyk en warm voel. Nou is jy gereed om dit te vervorm tot jou eie gismeesterstuk.

Hier is 'n paar interessante idees om jou aan die gang te kry en jou vinnig-vinnig verskillende maniere sal leer om die deeg te vorm. Jy kan dan later dieselfde vormtegnieke gebruik en ander vulsels uitdink.

Pizza-wielbrood
Roosmaryn-mozzarellabroodrolletjies
Spinasie-feta-rolletjies
Pekanneutpesto-vlegsel

As jy nou werklik 'n baie slegte tyd het om met broodterapie af te werk, kan jy al vier hierdie resepte op een dag probeer – dit maak 'n heerlike ete saam met 'n verskeidenheid kaas en kouevleis.

Pizza-wielbrood

Hierdie is 'n baie indrukwekkende manier om jou brooddeeg te gebruik. Dit lyk ook baie mooi as jy dit sny omdat jy die vulsel deur die brood versprei sien.

500 g brooddeeg
75 ml tamatie- en uiemengsel*
100 g spekstukkies
75 g Cheddar- of mozzarellakaas
knippie gemengde gedroogde kruie of gedroogde oreganum

Braai die spekstukkies, in 'n bietjie olie indien nodig, tot bros en bruin en laat afkoel terwyl die deeg rys.
Rol die gerysde deeg in 'n reghoek van 20 – 30 cm uit.
Smeer met tamatie- en uiemengsel. Sprinkel die gebraaide spekstukkies, kaas en gemengde kruie oor. Rol met die koekroller oor die vulsel om dit saam te druk – ja, die koekroller is nou baie vuil, maar dit help dat die vulsel nie later uitpeul nie.
Rol die reghoek in 'n lang rol op en bring die punte bymekaar om 'n sirkel te vorm.
Plaas op 'n gesmeerde bakplaat.
Gebruik 'n skerp mes en sny snytjies van 2 cm dwarsdeur tot onder, maar nie deur die breedte nie. Hou aan die binnekant van die sirkel al om die rondte ongeveer 2 cm ongesny. Begin dan om die snytjies een vir een skuins te laat lê om op mekaar te leun.

Laat die broodwiel op 'n warm plek staan om te rys vir ongeveer 20 minute. Voorverhit intussen die oond tot 180 °C.
Bak die brood vir 25 – 30 minute tot mooi bruin en gaar.
'n Goeie manier om brood te toets is om dit om te draai en aan die onderkant te klop – dit moet hol klink. Indien jy klop en die brood antwoord “Kom maar binne!” moet jy dalk maar nog een probeer bak – die stres het jou, vriend!

Plaas die brood op 'n afkoelrakkie. Terwyl die brood begin afkoel, kan jy die broodmes en die snyplank gereed kry.

* Somtyds is geblikte tamatie en uie baie waterig en smaakloos. Indien jou blikkie so blyk te wees meng die tamatie- en uiemengsel om die helfte met tamatiesous. Terug na bo

Roosmaryn-mozzarellabroodrolletjies

Eintlik sal mens die roosmaryn-verrassing-broodrolletjies kon noem, die mozzarella is daar weggesteek in die middel van elke broodjie en kom as 'n wonderlike verrassing as jy nie die een is wat dit gebak het nie. En dis presies wat jy hier maak, 'n mozzarellablokkie word in elke broodbolletjie gesit, dit word in 'n ronde bord gerangskik en bo-oor word roosmaryn en growwe sout gestrooi. Aan die einde van die dag proe dit soos focaccia met mozzarella.

500 g brooddeeg
50 g mozzarella
15 ml olyfolie
paar vars roosmaryntakkies
growwe sout
15 ml botter / margarien

Smeer 'n tertpan, 'n ronde foelietertbord of 'n pan.
Breek die gerysde brooddeeg in gholfbalgrootte stukkies af, let wel dat ek nie 'n gholfbal besit nie en dit dus net op benadering gedoen word.
Rol jou broodgholfbal om 'n regte broodbal te vorm, druk met jou duim 'n gaatjie in die middel en plaas 'n blokkie mozzarella van ongeveer 1 x 1 cm daarin. Maak dit toe en rol dit in 'n rolletjie.

Jy kan nou besluit of jy dit soos 'n party bread wil maak, in ronde balletjies, met een in die middel en die res al in die rondte in sirkels knus teen mekaar.
Of, jy kan dit in 'n tertpan sit, met een groter, ronde broodjie in die middel en die ander lang rolletjies al om die rondte daarvan. Dis hoe ek dit gedoen het.

Pak nou jou broodjies op jou gekose manier, hulle kan maar aan mekaar raak, maar jy moet so bietjie spasie los vir die broodjies om te kan rys.

Sprinkel die olyfolie oor die broodjies, en so ook die roosmarynblaartjies en growwe sout.
Bak in 'n voorverhitte oond van 180 °C en bak vir 15 minute. Smelt die botter, en smeer dit oor die broodrolletjies voor jy dit vir nog 5 minute terug in die oond sit.
Spring weg en eet! Terug na bo

Spinasie-feta-rolletjies

Hoe kan jy nou meer van 'n kitsbrood maak as met gekoopte deeg en 'n pakkie gevriesde geroomde spinasie. Om dit nog kitser te maak, kan jy geroomde spinasie- en fetakaas koop, hoewel mens die “vars” fetakaas meer proe.

750 g brooddeeg
320 g geroomde spinasie
50 – 100 g fetakaas
125 ml room (opsioneel)

Terwyl die deeg rys moet jy die geroomde spinasie ontvries. Indien dit warm word, moet jy dit eers laat afkoel voor jy dit kan gebruik. Meng 50 g gekrummelde fetakaas by die spinasie.
Smeer twee tertpanne of koekpanne met los bodems.

Rol die gerysde deeg in 'n reghoek van 25 x 40 uit.
Smeer met die spinasie, en sprinkel 'n verdere 50g fetakaas oor as jy wil.

Rol dit nou in 'n lang rol op. Sny nou met 'n skerp mes in wiele van 2 cm breed. Rangskik losweg teen mekaar in die gesmeerde pan. Hierdie is 'n effens morsige spul, maar jy kan maar net die spinasie terugdruk waar nodig, en jou rolletjies vorm tot hulle reg is.
Uit hierdie rol van 40 cm, kry mens rofweg 20 wiele, wat beteken dat jy twee panne uitkry.

Laat die broodrolletjies vir 20 minute rys.

Voorverhit die oond tot 180 °C.
Gooi room oor die rolletjies. Dis werklik opsioneel, die brood is ewe lekker daarmee saam of sonder dit. As jy van daai broodrolletjies hou wat met room gebak word, sal jy van die ook so hou.
Bak die spinasierolletjies vir 35 minute, indien jy room oorgegooi het, bak dit 'n verdere 5 minute.
Dit bak soms nog langer, kyk in die middel van die rolletjie, want die spinasie wat so nat vulsel is maak dat dit sukkel om deur te bak. Terug na bo

Pekanneutpesto-vlegsel

Alle pestos hoef nie uit basiliekruid te bestaan nie – hierdie alternatief met pekanneute, pekorinokaas en pietersielie is heerlik. Omdat die vulsel nie baie nat is of 'n hegte eenheid vorm wanneer dit bak nie, is die brood geneig om nie mooi te sny nie, jy kan dit egter steeds afbreek. As jy egter hierdie pesto op die brood smeer en mozzarella- of fetakaas oorstrooi, sal dit hierdie probleem voorkom. Die kaas maak dit egter baie ryk, maar dit hang af van wat jy nog eet.
Hoewel mens dit, breek of nie, nogtans baie kan geniet. Kan jy dit al sien? Die snytjie gevlegde neutbrood, met 'n snytjie camembert en 'n ingelegde vy . . . ?

750 g deeg
Vir die pekanneutpesto:
50 g pekanneute
25 g pekorinokaas
50 ml Italiaanse pietersielie
knippie sout
suurlemoenskil van 'n halwe suurlemoen
10 ml olyfolie
skeut suurlemoensap

Terwyl die deeg rys, kan jy rustig met die pesto aangaan.
Jy kan dit in 'n voedselverwerker, met 'n stick blender of 'n spice grinder, of met 'n stamper en vysel maak.
Hoe ookal jy dit doen, meng eenvoudig die neute, kaas, pietersielie, sout en suurlemoenskil tot dit begin fyn raak. Voeg die olyfolie en 'n skeut suurlemoensap by en verwerk totdat dit 'n pasta vorm.
Proe en pas die hoeveelheid sout, olyfolie en suurlemoensap by.

Rol die deeg in 'n reghoek van 25 x 40 uit. Smeer die hele brood met die pesto. Voeg kaas by as jy wil.
Rol op in 'n lang rol. Plaas op 'n snybord en druk die rol plat. Sny dit dan in 'n drie lang repe, maar hou aan die bokant so 2 cm ongesny. Vleg dan die drie repe, en druk aan die onderkant die drie stukke aan mekaar vas, en vou die aanhegsel onder die brood in, sodat die twee kante om en by dieselfde lyk.
Laat die vlegsel vir ten minste 20 minute rys.

Voorverhit die oond tot 180 °C. Bak die vlegsel vir 40 minute, en toets deur dit te klop. Dis reg wanneer dit hol klink.
Laat op 'n afkoelrakkie afkoel. Terug na bo

Nog brooddeeg oor?
Vind nog inspirerende brooddeegresepte in die argiewe van jouwêreld.
Net 'n paar van die resepte waarna jy kan kyk is die broodvlegsel met vars kruie, suurlemoenskil en mozzarellakaas, sagte pretzelrolletjies, pan-pizza, sagte broodstokkies, drieling-potbrood en die brawe bakker kan leer hoe om 'n hele tafel met broodversierings te maak.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jourubrieke | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?