deur Wilna Myburgh




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Die maklike eenbakoondgereg met boerewors, aartapples, patats en groente is 'n heerlike aandete vir die gesin.

Hierdie is 'n heerlike eenbakgereg wat jy vinnig aanmekaarslaan en in die oond druk. Net onder 45 minute later kan jy met groot fanfare die bak uitpluk en almal laat aansit vir 'n heerlike, vertroostende ete.
Eintlik is die hoeveelhede net 'n aanduiding van hoeveel jy vir vier honger persone nodig het – pas dit aan soos wat jy bestanddele in die huis beskikbaar het. Dit rek 'n stuk boerewors om maklik-maklik die familie te voed.
Dit word, soos die bekende soppakkie-hoenderresep, met onder andere soppoeier gemaak. Jy hoef nie al drie soorte wat hier onder aangedui is te gebruik nie, jy kan maar een of twee kies wat jy in die huis het en die hoeveelhede so aanpas.

Boereworsgebak600 g boerewors, van jou keuse
1 rooi ui
600 g aartappel
500 g patat
250 g sampioene
200 g groenboontjies

Vir die sous:
15 ml geroomde sampioensoppoeier
15 ml tamatiesoppoeier
15 ml bruinuiesoppoeier
60 ml blatjang
60 ml tamatiesous
30 ml soetrissiesous
5 ml aangemaakte Engelse mosterd
30 ml olie
250 ml water

Voorverhit die oond tot 220 °C.

Begin met die patat en aartappel.
Skil en sny in blokkies. Kook die blokkies in 'n kastrol vir minstens 10 minute om die gaarwordproses aan die gang te sit.

Terwyl dit kook kan jy die ander bestanddele opsny en die sous maak. Kry eers 'n lekker groot oondskottel of oondpan uit.
Sny die wors in ongeveer 3 cm stukke met 'n skerp mes of skêr. Gooi in die oondpan.
Sny die ui in agtstes en halveer die sampioene. Gooi in die oondpan.
Sny die groenboontjies se punte af en gooi sommer so heel in die oondpan.

Maak die sous:
Meng al die bestanddele, behalwe die water, saam. Maak seker al die klonte is uit voordat jy die water byvoeg.

Teen die tyd behoort jou patats en aartappels se tien minute uitgeloop het. Dreineer en voeg by die ander bestanddele in die oondpan.
Gooi dan die sous bo-op en meng dit goed deur sodat alles bedek is.

Plaas in die oond en bak vir 30 – 45 minute totdat dit borrelend en goudbruin is.
Skep op en eet!

Nog eenvoudige eenbakgeregte?

Vir nog 'n heerlike eenbakgereg – met nog minder skottelgoed as dié resep – probeer die Geen skottelgoed-geurige hoender-foeliegebak in die jouwêreld van November 2009. Jy kan die hoender daarin ook met boerewors vervang, of die boerewors met die hoender vervang.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joutafel
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend