|
|
'n Heerlike bierproe-aand vra vir vullende handeetgoed
Daar is verskillende maniere waarop jy 'n bierproe kan aanpak: Alles hang af van die tipe partytjie wat jy hou – en natuurlik jou geldsake.
Wanneer jy dit as 'n verjaardagpartytjie aanbied – soos waar ons hierdie resepte getoets het – sou ek voorstel dat jy alles self koop. Indien jy egter saam met vriende 'n bierproe hou vir die genot daarvan, kan jy reël dat elkeen 'n soort of twee of drie van hul gunstelinge of interessante biere saambring. Afhangend van hoe ernstig julle oor die “proe”-gedeelte is, kan die kos meer of minder word. Die ernstige mense voel dat jy net eenvoudige waterbeskuitjies moet eet, maar sjoe – 'n ordentlike proe vra mos ordentlike kos!
Laat elke gas dan ook iets te ete bring, of bied self aan om in ruil vir genoeg bier al die kos te maak.

Om terug te keer tot hierdie spesifieke ete: ons het dit in die vorm van 'n driegang-ete gedoen met elke bier wat iets het wat by sy land van oorsprong pas. En natuurlik kan jy hieraan vervorm en verander. Jy kan alles tegelyk bedien, aangesien al die kos hand-eetgoed is.
Hier volg die spyskaart:
Hoewel ons van die voorgeregbiere, die Stella en Corona, vir elkeen ingegooi het, het ons met die latere biere alles neergesit met al die klein glasies wat ons kon kry en toe kon elkeen self besluit wat hy wil proe. Ons het ook van die Stella, Corona en Laurentina ekstras neergesit, en so een of twee ekstra van die ander biere, sodat die wat hul gunsteling gevind het, 'n hele bottel daarvan kan kry.
Vir die wat iets anders wou drink het ons pynappelbier gemaak, en vir die wat nie so baie “skoon” bier wou drink nie, was daar biershandy. Dis 'n heerlike versnapering vir diegene wat nie só gek oor bier self is nie. Dis ook die maklikste om te maak. Om dit vir jouself maklik te maak, gebruik 'n 1 liter-beker en gooi 1 bier daarin. Vul dit dan op met 'n klomp blokkies ys en Sprite of lemonade. Maklik!
Om vinnig pynappelbier te maak, gebruik jy net 'n pynappel, suiker en water. Hoe ryper die pynappel, hoe lekkerder die smaak van die pynappelbier.
Ons gebruik net die skil van die pynappel, maar as jy nie die pynappel gaan gebruik nie, kan jy dit ook opsny.
Sny die skil rofweg in klein stukke. Gooi alles in 'n 2 liter-beker, met 'n driekwartpotjie suiker en vul dit op met kookwater.
Laat oornag staan. Gooi die volgende dag deur 'n doek en verkoel voordat jy dit bedien.
* Wanneer 'n resep “bier” as 'n bestanddeel aangee, kan jy werklik enige bier in jou yskas of in die winkel gebruik. 'n Ligte bier werk dikwels die beste – 'n doodgewone Castle of Hansa is heeltemal goed genoeg.

Stella is 'n ligte Belgiese bier. Dis 'n internasionale bier wat heel geredelik beskikbaar is.
In België word daar dikwels borrelhapjes saam met drinkgoed bedien. Eintlik kan dit enige happies of eetgoed wees, maar kaas- en hamblokkies is mos heerlik saam met 'n drankie. Die beste voordeel daarvan is dat jy dit baie vinnig aanmekaar kan slaan, en almal van jonk tot oud dit graag eet.
Borrelhappies: kaas-, ham- en salamiblokkies
Koop 'n hamrol en sny dit in 1 cm-blokkies. Maak ook dieselfde met salami en jou gunsteling kaas.
Om nou regtig oulik te wees, kan jy 'n boerenkaas met mosterdsaad, of iets soortgelyk, koop en dit ook opsny. Wanneer jou beursie sy bodem bereik werk dit veral goed om die “duur” kaas met onder andere goedkoper Cheddar te vervang.
Hierdie kan jy alles vroeg sny en in lugdigte houers in die yskas hou, of uitpak en toe in die yskas hou. Terug na bo

Corona is een van my (eerste) gunsteling internasionale biere. Dit kom van Meksiko en – ek vermoed dis hoekom ek daarvan hou – mens bedien dit met 'n snytjie suurlemoen. Ernstige bierdrinkers en feministe mag my nou dalk saam aankla, maar dit is asof die suurlemoen dit meer in die rigting van cider en vrouedrankies stuur. Hoe dit ookal sy, dis lekker!
En, presies wat is meer algemeen-Meksikaans as nachos?Terug na bo
Nachos
Wanneer jy nachos wil maak, is daar 'n verskeidenheid nacho-chips wat jy as basis kan gebruik. Daar is 'n reeks by name van “Nachos Grande” wat in 'n verskeidenheid geure beskikbaar is. Dan kan jy ook Old El Paso s'n probeer, of vir 'n meer koste-effektiewe keuse, Doritos.
Dis 'n heerlike resep waar jy die hoeveelhede uitwerk soos jy aangaan.
Vir ongeveer 200 g nachos, oftewel “corn chips” gebruik jy 'n halwe groen soetrissie, 1 tamatie en tussen 50 en 100 g Cheddarkaas.
Sny die soetrissie en tamatie in klein blokkies.
Pak die nachos op 'n bakplaat uit en voorverhit die oond tot 180 °C.
Versprei die soetrissie en tamatie eweredig bo-oor.
Sprinkel kaas oor.
Bak in die oond vir minstens 5 minute of totdat die kaas gesmelt het. Terug na bo
Guacamole en suurroom
Outentieke, tradisionele guacamole is iets wat skaars meer bekend is. Eintlik maak mens maar net 'n avokadodoopsous, maar enigiets is beter as 'n pakkie of houertjie met klaarvoorbereide avokadodoopsous in. Druk 'n avokado fyn en voeg suurlemoensap, sout en swartpeper na smaak by. Jy kan ook varsgekapte koljander, gedroogde rissie en gekapte sprietuie byvoeg.
Skep ook suurroom in 'n bakkie.
Dié avokadodoopsous en suurroom is heerlik saam met beide die nachos en die tortillachips. Terug na bo
Tortillachips
Dis altyd goed om ekstra “broderigheid” vir mense te gee om aan te peusel.
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Gebruik tortillas of wraps. Smeer met eierwit, wat net liggies geklits is om dit op te breek.
Sny dan elkeen in ongeveer 8 wiggies.
Plaas op 'n bakplaat en sprinkel met poppiesaad.
Bak vir 3 – 5 minute, maar hou hulle baie mooi dop, dié tortillachips het die aakligte geneigdheid om op die laaste minuut te brand. Terug na bo

Erdinger en Valentins Premium Weißbier is beide Duitse biere wat met gis gemaak word. Dit maak dat hulle werklik 'n unieke smaak het. Dis ook interessant om meer as een van hierdie gisbiere te kry om dit te vergelyk.
Vir die Duitse kos wat daarmee saamgaan is daar pretzelrolletjies wat jy self maak, hoewel jy sekerlik harde pretzels kan koop. Bak 'n bierbrood, en as jy weet jou gaste is van die hongerige soort kan jy 'n rogbrood ook hier byvoeg. Die bierkaas is 'n moet! Dis eintlik soos 'n kaassmeer wat bier in het.
Dis vreeslik vinnig om die Duitse worsies op te sny en te braai, terwyl die aartappeltjies se bierbeslag ook vir die uieringe en die garnale gebruik kan word. Terug na bo
Sagte pretzelrolletjies
Hierdie moet dalk eerder as voorgee-pretzels bekend staan, aangesien dit nie regtig régte pretzels is wanneer dit met gekoopte brooddeeg gemaak word nie. Maar dis heeltemal smaaklik genoeg! Die brood word in pretzelvorm gevorm en dan in 'n mengsel van koeksoda en water vir 1 minuut gekook voor dit gebak word.
1 kg gekoopte brooddeeg
75 g koeksoda
1 liter water
Laat die brooddeeg rys – vir ten minste 'n halfuur – voordat jy dit begin gebruik.
Breek dan bolletjies deeg af. Hier kan jy besluit of jy groot pretzels wil maak, of kleintjies wat in 'n rolletjie opgerol is. So om en by 50 ml deeg maak mooi rolletjies.
Rol elke bolletjie deeg tussen jou meelbestrooide hande in 'n lang, dun tou. Vou die twee punte bo-oor mekaar, sodat dit soos 'n strikkie lyk. Vat dan die twee punte en bring hulle na die ronding bo. Druk dit onder die ronding vas. Dit behoort nou soos 'n pretzel te lyk.
Kry almal gereed voordat jy die water regkry.
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Meng die koeksoda en water en bring dit tot kookpunt. Wanneer dit lekker prut, kan jy die pretzels drie op 'n slag vir 30 sekondes aan 'n kant kook. Pak hulle eers op 'n afkoelrakkie met 'n bord onder. Indien jy nie mal is oor die smaak van koeksoda nie, sou ek voorstel dat jy net altesaam 30 sekondes in die koeksodawater plaas.
As alles onder die water gedompel is, kan jy hulle op 'n bakplaat pak. Sprinkel met sesam- of poppiesaad en bak dan vir 15 – 25 minute; afhangend van hul grootte. Terug na bo
Bierbrood
500 g bruismeel
1 teelepel sout
1 blikkie (340 ml) bier
Voorverhit dit oond tot 180 °C.
Smeer 'n broodpan van ongeveer 13 cm x 22 cm.
Meng al die bestanddele saam. Gooi in die pan uit en bak vir 50 minute.
Toets vir gereedheid, en plaas terug in die oond vir tot 10 minute tot gaar. Terug na bo
Verskeidenheid Duitse wors
Vir verskeidenheid, lees: net wat jy in die hande kan kry. Slaghuise, deli’s en uithalersupermarkte is die plekke om Duitse worsies soos Käsegrillers, Bockwurst en Knackwurst te soek. Onthou, as jy sukkel, Frankfurters is ook eintlik Duitse wors.
Sny elke soort wors in dun snytjies; dit lyk mooi as jy dit op die skuinste sny. Braai dan vinnig in 'n pan en pak alles op 'n bord uit. Terug na bo
Mosterddoopsous
Vir 'n eenvoudige mosterddoopsous, meng 'n halfkoppie suurroom, 'n eetlepel mayonnaise en 'n teelepel aanmaakmosterd. Pas dit aan na smaak. Terug na bo
Bierkaas
150 g Cheddarkaas
100 g Tussers
2 teelepels Worcestershiresous
1 teelepel droë mosterd
100 ml bier
Die heel beste is om bierkaas in 'n voedselverwerker of met 'n stick blender te maak.
Jy gooi eenvoudig alles bymekaar en verwerk dit totdat dit heeltemal fyn soos 'n kaassmeer is.
Voeg gekapte grasuie by vir ekstra geur.
Skep dit uit in opdienbakkies en hou in die yskas. Terug na bo
Aartappels in bierbeslag
1 kg baba-aartappels
Vir die bierbeslag:
300 ml meel
10 ml bakpoeier
2.5 ml sout
5 ml gemengde droë kruie
1 eier
300 ml bier
Halveer die baba-aartappels en kook, met sout, vir ongeveer 15 minute, of tot sag.
Maak intussen die bierbeslag deur al die droë bestanddele te meng en dan die eier en bier by te voeg. Klits met 'n draadklitser om enige klonte te verwyder.
Verhit olie om dit in te diepbraai tot 180 °C. Dreineer die aartappels, en dompel hulle in die beslag.
Braai ongeveer 10 halwes op 'n slag, om nie die olie te oorrompel nie, vir 5 minute. Sprinkel met nog sout, indien nodig. Terug na bo

Ja, “die tafel van verskeidenheid” is presies wat ontstaan wanneer mens sukkel om bier te kry wat jou planne geval. En hoekom nie?
Gilroy is eg Suid-Afrikaans en word aan die Wesrand gebrou, terwyl Laurentina van Mozambiek en Sagres van Portugal kom. Pilsner Urquell kom weer al die pad van Hongarye.
Met die verskeidenheid biere was daar ook 'n verskeidenheid kos. Hoendervlerkies is 'n heerlike, standvastigheid. Indien jy nou een ding maak, maak die bier- en kruiegemarineerde sampioene. Ek maak nie grappies nie, dis heerlik! En jy kan dit met groentestokkies bedien, die marinade word dan jou doopsous.
Indien jy die aartappels in bierbeslag, die uieringe en die garnale gaan maak hoef jy werklik net een keer die bierbeslag aan te maak en dan kan jy dit vir alles gebruik. Maak die garnale laaste. Terug na bo
Hoendervlerkies
Die marinade is genoeg vir tot 24 hoendervlerkies.
24 Hoendervlerkies
Vir die marinade:
* 100 ml blatjang
* 25 ml soetrissiesous
* 50 ml bruinsuiker
* 50 ml appelasyn
* 5 ml aangemaakte Engelse mosterd
* ½ ml witpeper
* sout
Meng al die bestanddele vir die marinade, behalwe die sout.
Sprinkel die hoendervlerkies rojaal met sout.
Gooi die marinade oor die vlerkies, en laat dit minstens 'n halfuur alleen om te marineer.
Verhit dan die oond tot 220 °C en bak die vlerkies vir 20 – 25 minute. Terug na bo
Uieringe
* 2 uie
* meel
Vir die bierbeslag:
* 300 ml meel
* 10 ml bakpoeier
* 2.5 ml sout
* 5 ml gemengde droë kruie
* 1 eier
* 300 ml bier
Sny die uie in ringe van tot 5 mm breed.
Gooi in 'n bak met water – dit maak dit makliker om die uie op te breek.
Maak die bierbeslag deur al die droë bestanddele te meng en dan die eier en bier by te voeg. Klits met 'n draadklitser om enige klonte te verwyder.
Wanneer jy gereed is om die uie te braai, voorverhit die diep olie tot 180 °C. Gooi die water van die uie af en klad dit met 'n vadoek effens droog. Sprinkel dan liggies met meel. Dit help om die deeg te laat klou.
Gooi dan die uieringe by die deeg en maak seker elkeen is mooi bedek. Braai dan 'n klompie op 'n keer vir ongeveer 3 minute.
Dreineer op handdoekpapier en sprinkel met nog sout indien nodig. Terug na bo
Garnale in bierbeslag
garnale, ontvries
meel, om te sprinkel
Vir die bierbeslag:
* 300 ml meel
* 10 ml bakpoeier
* 2.5 ml sout
* 5 ml gemengde droë kruie
* 1 eier
* 300 ml bier
Maak die bierbeslag deur al die droë bestanddele te meng en dan die eier en bier by te voeg. Klits met 'n draadklitser om enige klonte te verwyder.
Die garnale moet heeltemal ontvries wees wanneer jy hulle gaarmaak.
Verhit diep olie tot 180 °C.
Sprinkel die garnale liggies met meel. Doop hulle dan een vir een in die bierbeslag en braai 'n paar op 'n slaag vir 3 – 5 minute. Dreineer op handdoekrol. Terug na bo
Bier- en kruiegemarineerde sampioene met crudités
250 g klein knopiesampioene
Vir die marinade
* 80 ml olyfolie
* 160 ml bier
* 5 ml suurlemoenskil, gerasper
* sap van 'n halwe suurlemoen
* 2 slaai-uie of 1 sprietui, gekap
* 15 ml vars pietersielie, grofgekap
* 15 ml vars oreganum, grofgekap
* 2.5 ml aangemaakte Engelse mosterd
* 5 ml suiker
* sout en varsgemaalde peper
Meng al die bestanddele vir die marinade saam, roer goed om alles deeglik te meng.
Voeg die sampioene by. Marineer minstens 2 ure, hoe langer dit marineer hoe sappiger raak die sampioene so met die bier saam. Dit kan tot 'n week in die yskas hou.
Sit tandestokkies in die sampioene, en bedien dit, in die marinade, saam met groentestokkies, soos mielies, komkommer, seldery, wortel en kersietamaties. Terug na bo

Sou jy in 'n oordosis van bier en sjokolade belangstel is hierdie net die nagereg vir jou! Dis absoluut heerlik. As dit vir jou enigsens moontlik is om Young’s se Double Chocolate Stout in die hande te kry – ek het dit by Makro gekoop – moet jy dit eenvoudig hierby probeer.
Die sjokoladekoek word in 'n oondpan gebak, en kan dus maklik vir baie mense gemaak word. Dis 'n heerlike digte, nat koek. Guinness is eintlik die beste donkerbier om te gebruik. Dit het so unieke, sterk smaak dat mens dit dadelik proe. Jy kan dit egter met Castle Milk Stout vervang.
Die roomys is vinnig om te maak, aangesien jy gewone vanieljeroomys gebruik en dit net geur. Terug na bo
Sjokoladebierkoek
* 250 ml donkerbier
* 250 g margarien
* 75 g kakao
* 400 g strooisuiker
* 150 ml karringmelk
* 2 eiers
* 1 teelepel vanielje-ekstrak
* 275 g meel
* 1½ teelepel koeksoda
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Smeer 'n oondpan, van ongeveer 25 cm x 35 cm.
Gooi die bier, margarien en kakao saam in 'n kastrol oor 'n lae hitte.
Verwyder van die hitte sodra die margarien gesmelt het.
Meng die suiker daarby.
Klits die karringmelk, eiers en vanieljegeursel saam. Meng ook die meel en koeksoda saam.
Voeg dan die karringmelk- en die meelmengsel deel-vir-deel by die res van die bestanddele in die kastrol.
Gooi die deeg in die gesmeerde oondpan en bak vir 35 – 40 minute.
Gebruik 'n toetspen om die gaarheid van die koek te toets.
Vir die versiersuiker
Suurroom, net so uit die pot, of met 'n handjievol versiersuiker by, smaak heerlik saam met dié koek.
Hoewel jy dit kan weglaat as jy dit saam met roomys bedien. Terug na bo
Kitssjokolade- en bierroomys
* 2 liter vanieljeroomys
* 1 blok (200 g) melk- of donkersjokolade
* 250 ml bier (verkieslik 'n donkerbier soos Guinness of Castle Milk Stout)
Vergeet die roomys op die kas nadat jy dit gekoop het.
Rasper intussen die sjokolade.
Wanneer die roomys begin sag word, voeg die sjokolade en bier by en meng dit goed deur.
Plaas in die vrieskas om weer te vries. Terug na bo
|