|
My woonwa staan verlede naweek by Maselspoort,
net buite Bloemfontein. Ek sit onder die
rally-tent en proe-proe aan 'n Nederburg Baronne
en luister na die mense se gesprekke om my.
In die woonwa langs myne hoor ek hoe die man
iemand probeer bel.
"Sy telefoon is steeds af," sê hy dan vir sy
vrou.
Twee vrouens stap skuins voor my verby.
"Weet jy," sê die een vir die ander, "ek sal nog
vir my dogtertjie blou klere aantrek, maar pienk
klere vir 'n seuntjie? Nooit!"
"Ja, mens kry maar snaakse mense," antwoord die
ander een terug.
Die mense langs my kom van Kaapstad af, het ek
vroeër die dag gehoor. Hul kinders en
kleinkinders bly in Pietersburg: elke
Septembervakansie ontmoet hulle mekaar dan
iewers in die middel van die land waar hulle vir
die week saam kamp.
Die kinders moes al vroeër die middag hier
gewees het, maar hul seun het 'n oponthoud by
die werk gehad, "maar hulle sal seker so skuins
voor skemer hier wees," het die vrou my die
middag opgewonde vertel.
Maar dit is nou al heelwat skuins ná skemer, en
hulle het nog nie gekom nie. Die man loop voor
sy woonwa heen en weer, selfoon in die hand.
Kort-kort probeer hy bel.
"Is daar nog nie antwoord nie?" roep sy vrou.
"Nee," antwoord die man. Hy het 'n kortbroek en
'n blou gebreide trui aan. Sy sandale is half
skeef getrap, sien ek.
Teen 8-uur se kant trek die Baronne net so onder
half en die Vrystaatse sterre maak knip-oog.
Ek hoor hoe lui die selfoon in die woonwa langs
myne. Die vrou antwoord. Eers is daar stilte
soos sy luister.
"Ja?" sê sy dan. Toe gil sy.
"Jirre nee! Nee! Nie dit nie! Ag jirretjie tog!"
Sy begin huil. In die ligskadu's van die tent
sien ek hoe die man die telefoon by haar vat en
uitstap. In die aandskemer lyk sy sandale
skielik skewer getrap as vroeër as hy heen en
weer oor die oop staanplek stap, waar sy seun se
woonwa veronderstel is om al te staan.
Hy praat skor en saaklik: "Waar? . . . Wanneer?
. . . "
Binne die woonwa huil die vrou steeds. Die man –
hóm het ek daardie nag nooit gehoor huil nie.
Net hul selfoon wat kort-kort gelui het.
"Van Bloemfontein Pietersburg toe?" het hy vir
iemand gesê. "Seker so 10 ure met die karavaan.
Ons ry môre-oggend vroeg."
Dit was 5-uur toe ek wakker word en hoor hoe
hulle oppak. Die vrou het nog gesnik.
"Ons sal iewers moet begrafnisklere kry," het ek
die man gehoor sê. |