November 2008
Jaargang 1 Uitgawe 4

 

 


   Die leë staanplek

jouapplous
hoofinhoud
terug na jouapplous
volgende artikel
vorige artikel

In die ligskadu's van die tent sien ek hoe die man die telefoon by haar vat en uitstap. In die aandskemer lyk sy sandale skielik skewer getrap as vroeër as hy heen en weer oor die oop staanplek stap, waar sy seun se woonwa veronderstel is om al te staan.


e-pos die skrywer

My woonwa staan verlede naweek by Maselspoort, net buite Bloemfontein. Ek sit onder die rally-tent en proe-proe aan 'n Nederburg Baronne en luister na die mense se gesprekke om my.
In die woonwa langs myne hoor ek hoe die man iemand probeer bel.
"Sy telefoon is steeds af," sê hy dan vir sy vrou.
Twee vrouens stap skuins voor my verby.
"Weet jy," sê die een vir die ander, "ek sal nog vir my dogtertjie blou klere aantrek, maar pienk klere vir 'n seuntjie? Nooit!"
"Ja, mens kry maar snaakse mense," antwoord die ander een terug.
Die mense langs my kom van Kaapstad af, het ek vroeër die dag gehoor. Hul kinders en kleinkinders bly in Pietersburg: elke Septembervakansie ontmoet hulle mekaar dan iewers in die middel van die land waar hulle vir die week saam kamp.
Die kinders moes al vroeër die middag hier gewees het, maar hul seun het 'n oponthoud by die werk gehad, "maar hulle sal seker so skuins voor skemer hier wees," het die vrou my die middag opgewonde vertel.
Maar dit is nou al heelwat skuins ná skemer, en hulle het nog nie gekom nie. Die man loop voor sy woonwa heen en weer, selfoon in die hand. Kort-kort probeer hy bel.
"Is daar nog nie antwoord nie?" roep sy vrou.
"Nee," antwoord die man. Hy het 'n kortbroek en 'n blou gebreide trui aan. Sy sandale is half skeef getrap, sien ek.
Teen 8-uur se kant trek die Baronne net so onder half en die Vrystaatse sterre maak knip-oog.
Ek hoor hoe lui die selfoon in die woonwa langs myne. Die vrou antwoord. Eers is daar stilte soos sy luister.
"Ja?" sê sy dan. Toe gil sy.
"Jirre nee! Nee! Nie dit nie! Ag jirretjie tog!"
Sy begin huil. In die ligskadu's van die tent sien ek hoe die man die telefoon by haar vat en uitstap. In die aandskemer lyk sy sandale skielik skewer getrap as vroeër as hy heen en weer oor die oop staanplek stap, waar sy seun se woonwa veronderstel is om al te staan.
Hy praat skor en saaklik: "Waar? . . . Wanneer? . . . "
Binne die woonwa huil die vrou steeds. Die man – hóm het ek daardie nag nooit gehoor huil nie. Net hul selfoon wat kort-kort gelui het.
"Van Bloemfontein Pietersburg toe?" het hy vir iemand gesê. "Seker so 10 ure met die karavaan. Ons ry môre-oggend vroeg."
Dit was 5-uur toe ek wakker word en hoor hoe hulle oppak. Die vrou het nog gesnik.
"Ons sal iewers moet begrafnisklere kry," het ek die man gehoor sê.

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouapplous
volgende artikel
vorige artikel

joukommentaar

joubesluit beoordeel dié artikel

jou naam*

jou e-posadres*

jou  lewer kommentaar oor dié artikel
* nie verpligtend

     

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jouwereld tuisblad ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

 

 



 



Lees ons ander uitgawes
Augustus

September
Oktober
November
Desember