|
Die laaste kos, pap en bone
is omtrent op. Die naaste bank is 400 km weg en
die dieselprys baie hoog. Hulle is in Zambië -
besig om die Here se Woord te verkondig en hul
vertroue en hoop is volkome op die Here. Die
laaste paar weke was moeilik. Hulle werk hard
bedags en die kos was maar aan die skraal kant.
Vanaand is daar egter niks meer oor nie. Hul eie
planne is op en die vriende vanaf Suid-Afrika
wat sou kom kuier – en geld sou saambring – kan
nie meer kom nie. 'n Pa en Ma bid tot die Here:
"Here, U is ons voorsiener en God."
Vroeg die volgende oggend – omtrent so 5-uur –
is daar 'n klop aan die deur. Dis 'n vriend van
Zambië wat so 13 km vanaf die gesin bly. Hy sê
hy kan nie slaap nie, want die Here praat al 2
weke met hom om vir hulle kos te bring. En nou
staan hy voor hulle deur met 5 kg rys, vars
blare uit die tuin en 'n halfliter olie – 'n
groot klomp kos vir mense wat niks het nie.
Later kom nog 'n vrou daar aan met 'n sak
aartappels, 'n hoender en 'n pynappel. Nog
iemand bring piesangs, 'n ander een 'n pampoen
en nog 'n hoender. Dít sonder dat enige van
hierdie mense geweet het in watter situasie die
gesin hulle bevind het. Hulle prys die Here,
want Hy voorsien elke keer.
Ons is so 30 mense in 'n kleinerige saaltjie.
Almal se volle aandag is op Coen Scholtz – 'n
sendeling van Operasie Mobilisasie (OM). Hy
vertel die een storie na die ander oor hoe die
Here voorsien, hoe Hy hulle lei en van die
wonderwerke en mense wat vir Jesus aanneem as
Verlosser. OM het ook pas 'n mediaspan begin
waarvan die basis in Pretoria is – Anneretha
Combrink is aan die stuur daarvan.
Terwyl ek op 'n lekker sagte stoel sit met 'n
lang glas koeldrank in my hand, word ek bewus
van die gemak en gerief waarmee ons lewe. My
kruidenierskas is vol, die kar het petrol en ons
het 'n lekker en gerieflike blyplek. Hoe langer
ons na die sendeling luister, hoe meer word ek
daarvan bewus dat hierdie mense al hulle gerief
en gemak prysgegee het om die Here se Woord te
gaan verkondig. Soms is dit bloedig warm – met
geen waaiers of lugversorgers nie. Soms weet
hulle nie waar môre se kos vandaan gaan kom nie.
Van 'n gerieflike huis is daar nie sprake nie.
Dikwels is daar gevaar en van sekerheid oor môre
kan daar nie gepraat word nie. Nou hoekom dan al
hierdie opofferings, wonder 'n mens. Die
antwoord word vir my duidelik soos hy verder
vertel: Hulle kan nie anders nie, want hulle is
totaal oorgegee aan God, Hy het hulle gestuur en
hulle kan nie sien dat soveel mense moet
doodgaan sonder dat hulle eers van Jesus gehoor
het nie. Die Scholtz-gesin kla nie – hulle ag
hulleself gelukkig en bevoorreg om te doen wat
hulle doen.
Ons ry later huis toe. Ek is verwonderd oor die
onselfsugtigheid van hierdie mense. Ek begin
wonder hoe ek kan help. Hoe kan ek 'n verskil
maak? Die sendeling het genoem dat hulle gebed
die heel nodigste het. Ek besluit daar en dan
om ernstig vir hulle te bid. Later begin ek
uitwerk en besef dat ek deur net een uiteet 'n
maand prys te gee, in 'n sendeling se lewe kan
saai en op dié manier dalk help dat daar kos op
'n tafel is.
Ek sê vir die Here dankie – dankie vir al die
vaardighede wat Hy my gegee het. Dankie vir al
die daaglikse behoeftes waarin Hy vir ons
voorsien. Daar is soveel om voor dankie te sê
dat ek 'n hele ruk daarmee kan besig bly. Soms
fokus ons so op wat ons nie het nie, dat ons
vergeet om alles raak te sien waarvoor ons wel
dankie kan sê! En soms vergeet ons dat ons so
baie vir iemand anders kan beteken – net waar
ons is, sonder om noodwendig geld te spandeer.
|