|
"Ek weet nie wat sit jy daar en frons nie, wat
wil jy nog weet?" Dan vat sy haar linkerhand en
druk hard op haar oogkas. "Sê net dit voel of
jou linkeroogbal by jou regteroor uitpeul."
Hmm . . . ek dink sy moet weer die neuroloog
gaan sien – miskien is daar permanente skade.
Kom ons skryf dié maand eerder oor tande.
Een voordeel van 'n disfunksionele huis is dat
'n mens nooit ver hoef te kyk vir inspirasie nie.
Dit is weer tyd vir die kinders om tandarts toe
te gaan vir 'n jaarlikse ondersoek. Emil is nie
'n seun wat van dokters en hospitale hou nie –
dit het die suster tot haar groot spyt
agtergekom toe sy hom twee jaar gelede ewe
vriendelik benader het om sy temperatuur te
meet. Hy het die koorspen vir 'n spuitnaald
aangesien en 'n groot bohaai opgesit. Gevolglik
wil sy ouma hom nie meer dokter toe vat nie en
persoonlik dink ek ons is ook nie meer in sekere
van die stad se ongevalle-eenhede welkom nie.
Die goeie loesing het nie gewerk nie. Daar is
ook net soveel verskonings wat 'n ma kan uitdink
om hom nie self te vat nie – nou doen ek wat 'n
goeie ma in die eerste plek moes doen: ek koop
hom om.
Die wagkamer is soos wagkamers maar is.
Verleidelik vriendelik, ontvanklik en heeltemal
te vol ontsnaproetes. Dan loer die tandeman om
die hoek.
"Julle kan maar inkom," sê hy vriendelik.
Die kind wil alles weet.
"Wat is dit en wat gaan jy daarmee maak?" vra hy
en die geduldige tandeman antwoord telkens.
"Jy bedoel seker Oom, ag, Dokter!" doen ek
damage control.
Ek konsentreer, want as mense lepels kan buig
met jou gedagtes kan jy sekerlik 'n kind in 'n
hipnotiese toestand in kyk. Dit werk nie.
Uiteindelik se die tandeman: "Hmm, jy sal
draadjies moet kry."
Die kind glimlag dat jy al die abbatande sien.
"Nadat hulle 'n paar tande getrek het," voeg hy
dan by.
"Ferrari, helikopter . . . wat van 'n Ipod?" vra
ek vergeefs.
Die kind is histeries. Sussie rol haar oë.
"Hoe gaan jy dit trek? Net nie met 'n tang nie!"
sê die seun.
Hy sit stil, verlam van vrees.
Die tandarts trek sy handskoene uit, maak sy oë
groot en sê: "Ek het gedink ons maak dit met 'n
tou vas en trek dit uit met my 4x4.
Net voor die seun sy bewussyn verloor, lag hy
breed: "Toemaar, ek maak 'n grap, ons gee jou 'n
inspuitinkie en trek dit met 'n tang. Jy sal
dieselfde aand al roomys kan eet."
"Sjoe, dankie tog," sê Emil, "daarvoor sien ek
kans."
Dankie, dankie vir geduldige tandartse. Wonder
of hy nie dalk 'n nuwe Ipod wil hê nie? |