JouRUBRIEKE

 

Moenie net daar staan nie . . .

 

Mens moet pasop dat jy nie 'n innocent bystander van die lewe word nie. Moenie dat die lewe jou so seer- of moegmaak dat jy 'n outomaat word wat jou afsluit van ander mense nie.

 

 

Deur Wilna Myburgh

 

Dit was my suster wat my daarvan bewus gemaak het dat koerantberigte oor gewapende bankrooftogte dikwels van innocent bystanders melding maak wat deur verdwaalde koeëls getref of gedood word. En dis nou nie net die rowers se koeëls wat die pad byster raak nie.

Van toe af het ek 'n dodelike vrees vir daai trokkies wat die geld na banke vervoer. En vir die wagte. En vir die vermeende rowers. Dis nog erger as my vrees dat ek op 'n hark gaan trap, en die hark se steel my dan met 'n harde hou teen die voorkop gaan tref, soos dit altyd in die cartoons gebeur.

Maar dis al asof hulle my vrees kan ruik. Oral waar ek kom, word daar geld afgelewer. En ek dog ons lewe in moeilike finansiële tye. Bog, man! As ek een sien, of hy nou stilstaan of ry, maak nie saak waar ek of hy is nie, draai ek sommer summier om. Gaan soek 'n ander parkering. Ry na 'n ander winkelkompleks toe. Of kom laat vir 'n afspraak omdat alternatiewe roetes maar altyd bietjie langer vat.

Ek wil nié een van die innocent bystanders in die koerant wees nie.

Nie dat ek 'n plan het vir wanneer die – onvermydelike, vermoedelik figuurlike – koeël nou oppad is na my toe nie. Dalk skree ek: "Nee nee, ek is nie een van húlle nie, tref iemand anders, jou simpel koeël!"

Maar dit het my tog aan die dink gesit: Mens moet pasop dat jy nie 'n innocent bystander van die lewe word nie. Moenie dat die lewe jou so seer- of moegmaak dat jy 'n outomaat word wat jou afsluit van ander mense nie. Moenie dat die lewe jou met 'n dwarshou in maar net nóg 'n innocent bystander verander nie – nee, tref hom eerste.

Of, as jy nie anders kan nie, fnuik hom met 'n alternatiewe roete.