|
Dit was my suster wat my daarvan bewus gemaak
het dat koerantberigte oor gewapende
bankrooftogte dikwels van innocent bystanders
melding maak wat deur verdwaalde koeëls getref
of gedood word. En dis nou nie net die rowers se
koeëls wat die pad byster raak nie.
Van toe af het ek 'n dodelike vrees vir daai
trokkies wat die geld na banke vervoer. En vir
die wagte. En vir die vermeende rowers. Dis nog
erger as my vrees dat ek op 'n hark gaan trap,
en die hark se steel my dan met 'n harde hou
teen die voorkop gaan tref, soos dit altyd in
die cartoons gebeur.
Maar dis al asof hulle my vrees kan ruik. Oral
waar ek kom, word daar geld afgelewer. En ek dog
ons lewe in moeilike finansiële tye. Bog, man!
As ek een sien, of hy nou stilstaan of ry, maak
nie saak waar ek of hy is nie, draai ek sommer
summier om. Gaan soek 'n ander parkering. Ry na
'n ander winkelkompleks toe. Of kom laat vir 'n
afspraak omdat alternatiewe roetes maar altyd
bietjie langer vat.
Ek wil nié een van die innocent bystanders
in die koerant wees nie.
Nie dat ek 'n plan het vir wanneer die –
onvermydelike, vermoedelik figuurlike – koeël
nou oppad is na my toe nie. Dalk skree ek: "Nee
nee, ek is nie een van húlle nie, tref iemand
anders, jou simpel koeël!"
Maar dit het my tog aan die dink gesit: Mens
moet pasop dat jy nie 'n innocent bystander
van die lewe word nie. Moenie dat die lewe jou
so seer- of moegmaak dat jy 'n outomaat word wat
jou afsluit van ander mense nie. Moenie dat die
lewe jou met 'n dwarshou in maar net nóg 'n
innocent bystander verander nie – nee, tref
hom eerste.
Of, as jy nie anders kan nie, fnuik hom met 'n
alternatiewe roete.
|