JouRUBRIEKE


Skoen aan die ander voet

Jy voel hoe brand die oë van die res van die trop agter jou in jou rug. Nog ʼn vetgat wit vel wat voorgetrek word. 'n Mens voel maar sleg, maar wat kan jy doen?  Jy’s ʼn vreemdeling in ʼn vreemde land.

Hennie Greeff skryf vanuit Sandkantland (Katar, in die Midde-Ooste)

 

Hallo julle! Klaar geland in die sandkant van die kontinent! Moet sê dis darem lekker om weer sommer jou kar te laat luier terwyl jy gou by die kafee vir ʼn brood indraf. Weg is daai ewige vrees, daai opsluit en toesluit en wegsteek. 'n Rustigheid wat oor ʼn mens daal.

Soseer so dat ek die kalmste was van ons groepie van vyf wat op die heilige Sondag vir ons medies moes gaan. Sondag is mos Maandag hier, heel deurmekaar. Gelukkig was ek vooraf gewaarsku oor die arrogansie wat hier in Sandland jeens die "ongelowiges" heers.
By die staat se mediese sentrum wemel dit van die uitgewekenes. Die meeste is Filippyne en Indiers. Iemand het my vertel daar is tussen 60 en 80 persent buitelanders in Katar.

Almal van ons knegte probeer saamdrom onder die skadunet wat voor die ingang aangebring is. Ons word soos ʼn trop skape bymekaar gejaag en op geskree. Staan in rye, ses wyd, buite die gebou. Die wat in die son moet staan, word kwaai gebrand. Ek kry weer visies aan daardie eerste armydae in Potch, toe ek nog ʼn roof was.
ʼn Lang dag van jaag en wag, jaag en wag. Die manne met die lang wit lakens en die rooi spikkelvadoeke om die kop kyk ons minagtend aan terwyl ons bak-boord en stuurboord onder hul aanwysings besoek. Die man van die regering regeer met ʼn ysterhand en hy dirigeer wie waar moet staan en wanneer jy moet staan en wanneer jy kan sit.

Gelukkig ken ou Alie, ons maatskappy-agent, darem ʼn paar manne in die binnekring en ons word gou voor in die ry gedruk. Jy voel hoe brand die oë van die res van die trop agter jou in jou rug. Nog ʼn vetgat wit vel wat voorgetrek word. 'n Mens voel maar sleg, maar wat kan jy doen?  Jy’s ʼn vreemdeling in ʼn vreemde land. Maak maar soos hulle sê.
Vandag trek ons darem bloed ook, so saam met die X-strale.

Binne gekom, gaan staan ek weer in ry wat wag om by ʼn klomp vensters honderd rials te betaal vir die eer om ondersoek te word. Terwyl ek betaal, word daar sommer ook ʼn foto van my geneem.
Klaar betaal, word ek deur een van Alie se maats uitgekeer en in ʼn ander drukgang ingewerk. Weer word ek voor in die ry gedruk. Ek wens ek was so klein soos ʼn Filistyn sodat ek net kon verdwyn, maar ai, my saais bly my saais. Hier brand die kyke darem nie meer so erg in die rug nie: Die manne se oë is al dof gewag.

Dan is ek skielik in ʼn klein kamertjie saam met nog ʼn twintigstuks-man wat kaal bolyf staan. My hemp moet ook uit, beduie ʼn lakenman. Ek speel vir tyd. Ek het juis nie vandag my bra aan nie. Dan moet ek maar bes gee en staan pens teen rug saam met die ander manne.
Nog ʼn Arabier kom in en druk sy maatjie heel voor in. 'n Man daar voor wat moet terugstaan, se Ierse bloed kook oor. Die manne stry oor basiese maniere en menseregte.
Die knoffel-atmosfeer raak nou sommer ook effens elektries. Ek wil eers die man aanraai dat mor niks gaan help nie, maar ek besluit daarteen. ʼn Stil bek is in heel een. Ek self is dan al ʼn paar keer ingedruk.

Uiteindelik is ons ge-X-straal en gebloei, en in die bussie tob ek oor die hele gedoente. 'n Mens weet nou hoe dit moes voel, daai tyd aan die verkeerde kant van die ou regering. Vandag was die skoen aan die ander voet. My beurt was my beurt.

Hennie Greeff is die “burgemeester” van www.OnsDorp.com, en die “hoofskrywer” van KammaNuus.
Gaan kuier gerus vir hom.