Hallo julle! Klaar geland in die sandkant van
die kontinent! Moet sê dis darem lekker om weer
sommer jou kar te laat luier terwyl jy gou by
die kafee vir ʼn brood indraf. Weg is daai ewige
vrees, daai opsluit en toesluit en wegsteek. 'n
Rustigheid wat oor ʼn mens daal.
Soseer so dat ek die kalmste was van ons groepie
van vyf wat op die heilige Sondag vir ons medies
moes gaan. Sondag is mos Maandag hier, heel
deurmekaar. Gelukkig was ek vooraf gewaarsku oor
die arrogansie wat hier in Sandland jeens die "ongelowiges"
heers.
By die staat se mediese sentrum wemel dit van
die uitgewekenes. Die meeste is Filippyne en
Indiers. Iemand het my vertel daar is tussen 60
en 80 persent buitelanders in Katar.
Almal van ons knegte probeer saamdrom onder die
skadunet wat voor die ingang aangebring is. Ons
word soos ʼn trop skape bymekaar gejaag en op
geskree. Staan in rye, ses wyd, buite die gebou.
Die wat in die son moet staan, word kwaai
gebrand. Ek kry weer visies aan daardie eerste
armydae in Potch, toe ek nog ʼn roof was.
ʼn Lang dag van jaag en wag, jaag en wag. Die
manne met die lang wit lakens en die rooi
spikkelvadoeke om die kop kyk ons minagtend aan
terwyl ons bak-boord en stuurboord onder hul
aanwysings besoek. Die man van die regering
regeer met ʼn ysterhand en hy dirigeer wie waar
moet staan en wanneer jy moet staan en wanneer
jy kan sit.
Gelukkig ken ou Alie, ons maatskappy-agent,
darem ʼn paar manne in die binnekring en ons word
gou voor in die ry gedruk. Jy voel hoe brand die
oë van die res van die trop agter jou in jou
rug. Nog ʼn vetgat wit vel wat voorgetrek word.
'n Mens voel maar sleg, maar wat kan jy doen?
Jy’s ʼn vreemdeling in ʼn vreemde land. Maak maar
soos hulle sê.
Vandag trek ons darem bloed ook, so saam met die
X-strale.
Binne gekom, gaan staan ek weer in ry wat wag om
by ʼn klomp vensters honderd rials te betaal vir
die eer om ondersoek te word. Terwyl ek betaal,
word daar sommer ook ʼn foto van my geneem.
Klaar betaal, word ek deur een van Alie se maats
uitgekeer en in ʼn ander drukgang ingewerk. Weer
word ek voor in die ry gedruk. Ek wens ek was so
klein soos ʼn Filistyn sodat ek net kon verdwyn,
maar ai, my saais bly my saais. Hier brand die
kyke darem nie meer so erg in die rug nie: Die
manne se oë is al dof gewag.
Dan is ek skielik in ʼn klein kamertjie saam met
nog ʼn twintigstuks-man wat kaal bolyf staan. My
hemp moet ook uit, beduie ʼn lakenman. Ek speel
vir tyd. Ek het juis nie vandag my bra aan nie.
Dan moet ek maar bes gee en staan pens teen rug
saam met die ander manne.
Nog ʼn Arabier kom in en druk sy maatjie heel
voor in. 'n Man daar voor wat moet terugstaan,
se Ierse bloed kook oor. Die manne stry oor
basiese maniere en menseregte.
Die knoffel-atmosfeer raak nou sommer ook effens
elektries. Ek wil eers die man aanraai dat mor
niks gaan help nie, maar ek besluit daarteen. ʼn
Stil bek is in heel een. Ek self is dan al ʼn
paar keer ingedruk.
Uiteindelik is ons ge-X-straal en gebloei, en in
die bussie tob ek oor die hele gedoente. 'n Mens
weet nou hoe dit moes voel, daai tyd aan die
verkeerde kant van die ou regering. Vandag was
die skoen aan die ander voet. My beurt was my
beurt.
|