|
"Vannag pak die Here weer sy hele simfonie-orkes
uit," het Vaatjie gesê terwyl ons om die
kampvuur sit.
Dit is iewers tussen Kersdag en Oujaarsaand: Die
aand is bedompig warm, die boomtoppe roerloos in
afwagting. Ons staar stil na die donker nagruim:
in die verte word die eerste gerammel gehoor,
dan verlig die heuwels voor ons.
Tien minute later voel ons die koue wind nader
gesluip kom.
Die vroue bêre die kombuisgoed, die seuns maak
die vure dood en vou die stoele op, die mans
trek die tenttoue styf.
"Ja-nee, vanaand gaan dit 'n grote wees," sê
Vaatjie vir oulaas voordat die res van die klub
in hul onderskeie karavane verdwyn, maar ek en
hy bly onafgespreek agter.
Ons staan en kyk na die weerlig in die verte.
"Is jy moeg?" vra hy.
Ek skud my kop.
"Kom maak gou 'n draai daar by my. Ek het 'n
lekker perske-mampoer in die yskas," sê hy. "'n
Vinnige enetjie."
Hy draai weer sy kop na die kant waar die
nagruim rammel.
"Die storm sal eers so oor 20 minute hier wees."
Vaatjie en sy gesin het so twee of drie jaar
gelede by die karavaanklub aangesluit. Nie
gereelde kampers nie, maar so vier keer per jaar
het hulle saam met die klub hul woonwa gehaak en
saamgesleep.
Hy haal twee opvou-stoele uit die neus en plaas
dit diep onder die rally-tent: die eerste
reëndruppels vind reeds hul pad plof-plof na die
tentdak. Sy vrou is al in die bed.
"Gesondheid!" sê hy.
"Cheers!" sê ek. "Wragtig goed om jou weer te
sien, man!"
Hy kyk na die naderende storm; dan slaan daar 'n
harde slag bo teen die berg.
"Hel, dis mooi!" sê hy. "Dit is die Here se
musiek! Sy eie simfonie-orkes!"
Ek sien hoe hy met bewondering luister; sy oë in
die verte gerig, 'n effense glimlag om sy mond.
Ek sluk die mampoer en staan op.
"Maar dan gaan ek ook maar karavaan se kant toe
staan," sê ek en loer na ons staning – so vier
staanplekke verder.
Vaatjie slaan my op die skouers: "Weet jy, ek
het al lankal met die Here gedeal," fluister hy,
asof dit 'n geheim is wat net tussen ons twee
moet bly. "Ek het vir Hom gesê Here, die dag as
jy my kom haal en Huis toe vat, daardie dag
Here, dan moet jy jou grootste en beste
simfonie-orkes uithaal vir die lang reis. Met
surround sound, lighting affects en die hele
werke."
En toe is die storm skielik op ons. Ek hardloop
na my karavaan en maak vir oulaas seker die
penne is stewig en die voorste flap van die tent
is gesak en geanker.
Ek het in die bed geklim, maar die slaap was nie
daar nie: Oop oë het ek na die Here se simfonie
geluister:
Dit was eers die swaar bas-tromslae links, dan
die elektriese kitare wat deur die lug kliets.
Die klein drommetjies vul in en gee die noot oor
vir die simbale wat dan regs klap. Die ligte
flits saam. Die ultra-bas trommel in die middel
iewers in die agtergrond terwyl die reëndruppels
falsetto op die karavaandak dans. Die repertoire
verwissel van tempo: eers staccato en sag, dan
vinnig opwerkend tot die crescendo. Die swaar-bas
bliksem aan die een kant, die Franse Horing brom
ondersteunend langs hom. Die harp word fynweg
tussendeur gehoor.
Die flitsende ligte deurtrek die donker
konsertsaal om ons.
Dan neem die viole die melodie-lyn oor: eers
hoog in die lug, dan al hoe harder na die aarde.
Die simbale klap twee-tyd in die heuwels agter
die kampeerterrein. Con forcé doen hulle dit nou.
Die bome val ritmies in en haal hul blokfluite
uit.
En ek verbeel my hoe die Here aan die eenkant
voor staan en sy dirigeerstokkie al hoe wilder
swaai.
"Met surround sound, lighting affects en die
werke," onthou ek Vaatjie se woorde. Toe raak ek
aan die slaap.
Dit was so skuins voor daeraad toe Vaatjie se
vrou aan my karavaandeur kom klop.
Ons het eers die ambulansdiens op die naaste
dorp gebel, en toe die polisie.
Vaatjie was 'n groot en swaar man: ons kon hom
nie by die karavaandeur uitkry nie. Ons moes die
agterste venster van hul karavaan uithaal: Ses
mans se hande het gehelp om hom daar uit te lig.
Om ons het die dag helder blou en doodstil sy
kop uitgesteek. Die Here het sy instrumente
opgepak, die simfoniekonsert is verby.
Hartaanval, het die plaaslike dokter later
Vaatjie se doodsertifikaat voltooi. |