Jaco Hough-Coetzee

deur Jaco Hough-Coetzee




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Teen half-sewe raak my oom haastig. Hy moet kerk toe gaan, sê hy. Vir die perspektief en vir die dankbaarheid, sien. Hy keer 'n familielid of twee wat aandui dat hulle saam wil gaan. Daar is sekere dinge wat 'n mens alleen moet doen, dring hy aan. Veral op jou 70ste verjaarsdag.

Daar is sekere dinge wat 'n mens alleen moet doen – dít is wat my oom, die eks-dominee, verlede Sondag gesê het.
Dit was sy 70ste verjaarsdag en die familie kom bymekaar vir 'n spitbraai by my niggie se huis in Horison. Dit is 'n verrassingspartytjie, sê sy terwyl sy die gastelysie uitnooi. Hou dit geheim, is die opdrag. En so is dit dan ook gedoen.

In toespraak-tyd kyk my oom oor die stuks 20 familielede en sê dit voel vir hom of dit alles 'n groot droom is. En hy wag net dat hy wakker word – en dan sal hy dink “was dit tog alles maar net waar”.
Hy sluit af en sê almal moet die dag geniet en lekker kuier, maar dat hý die aand kerk toe móét gaan – dit beteken egter nie die partytjie is dan oor nie. Ons moet voort kuier, hy sal ná die tyd weer kom aansluit. Hy wil egter alleen kerk toe gaan, lig hy ons in, “want daar is sekere dinge wat 'n mens alleen moet doen”.
Later, in eet-tyd, vra ek hom uit. Hy verduidelik hy moet kerk toe gaan om stil te raak. Hy moet gaan om perspektief oor dié groot dag – wat steeds soos 'n droom voel – te kry, maar ook perspektief oor sy afgelope 70 jaar op aarde. En vir dankbaarheid teenoor sy God vir geseëndheid en vir die hele familie wat hier is. En dít moet hy alleen doen – want sekere dinge doen 'n mens alleen.

Ek verstaan, maar ek sê niks. Ek kyk na almal om my langs die tafels, ek kyk na die kinders wat trampolien spring. Ek kyk na my seun wat saam met sy neefs en niggies bal skop. Ek kyk na die verskillende gesinne en ek luister hoe hulle die familie-inligting op datum kry en mekaar vertel van die nuutste doen-en-late in hul lewens en die laaste gesinsvakansie en van die nuutste prestasie van hul spruite. Ek kyk na die volledige gesinne om my – dis net ek wat nie meer 'n volledige gesin het nie.  
En dié gebrokenheid breek weereens stukkend binne my. Maar ek sê niks, steek net nog 'n sigaret op. Op my eie. Want daar is sekere dinge wat 'n mens alleen moet doen. 

Teen half-sewe raak my oom haastig. Hy moet kerk toe gaan, sê hy. Vir die perspektief en vir die dankbaarheid, sien. Hy keer 'n familielid of twee wat aandui dat hulle saam wil gaan. Daar is sekere dinge wat 'n mens alleen moet doen, dring hy aan. Veral op jou 70ste verjaarsdag.
Toe ry hy terwyl die res van die familie nog kuier, maar ek onthou dat ek hom 'n drukkie gegee het voor hy gery het. Want miskien was ek die enigste wat verstaan wat hy bedoel het: van die alleen-doen-dinge in 'n mens se lewe.

Ek en my seun het kort daarna ook gery. Dit was eers die volgende oggend, toe ek my selfoon weer aanskakel, dat ek die boodskap kry. Van die ongeluk op Hendrik Potgieterweg. Dat my oom se Mazda nou 'n wrak is. Afgeskryf.
Hy was alleen in die kar, soos dit moes wees – want daar is sekere dinge in die lewe wat 'n mens alleen moet doen.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jourubrieke
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend