|
Beland ek toe mos verlede naweek half bemoerd by
'n huispartytjie waar ek nie wou wees nie.
Lankal reeds is ek gatvol vir die ontrouheid van
die mens, die kortstondigheid van ewige
vriendskappe, die valsheid van samekomste en die
oppervlakkige stront praatjies wat rondom
braaivleisvure gepleeg word in die naam van
gesellige samesyn.
Meesterlik het ek dus al die kuns aangeleer om
súlke uitnodigings subtiel te on-aanvaar, met
perfekte verskonings van 'n werksafspraak wat ek
eenvoudig sal móét nakom. Teen werksafsprake het
niemand 'n verweer nie, het ek ontdek.
En tevrede die etiket van "kluisenaar" om my nek
verduur.
Maar verlede naweek is ek uitoorlê, en ek moes
gaan. Geklee in my beste sosiale masker, worstel
ek deur die bekende rituele van die partytjie.
Later word daar vervelige speletjies gespeel:
iemand noem die titel van 'n liedjie, dan moet
die ander sê waaraan dit hulle laat dink.
Een ou skree "Forty Days" – Voortrekkerhoogte!
Tempe!, word daar uit die groep terug geskree.
En dan moet hulle hul storie vertel, maar ek
luister nie.
Volgende rondte: "Liefling," skree iemand. In 'n
koor kom die antwoord: "Die Blou-Bulle!"
En die Blou Bul-ondersteuners spring op aandag,
bier in die een hand met die ander hand op die
hart, en begin onvas inlê aan die eerste strofe
van "Liefling".
Maar ek sing nie saam nie: sit net stil eenkant
per rooiwynglas en dink aan daardie Vrydag toe
Steve Hofmeyr op die krieketveld in
Potchefstroom ge-Liefling het.
Dit was koud dié September-aand, onthou ek. Vrek
koud, Aardklop 2005. So halfpad deur die
Toeka-vertoning het ek wegbeweeg van my media-BBP-plek
reg voor die verhoog, en na agter gestap. Tot
heelagter op die veld. Met 'n media-kamera wat
oor my een skouer hang en 'n notaboek in my
ander hand, het ek teen die walle op die klam
gras gaan lê.
Ek het hulle skuins voor my opgemerk: die man
met die twee seuns wat weerskante van hom sit.
Dit was tóé dat Steve "Liefling" gesing het, en
die man sy selfoon uitgehaal en na die verhoog
gemik het.
Simpel, het ek gedink – want ek sien dit gereeld:
mense wat selfone uitruk en foto's probeer neem
van iets wat 30 meter verder gebeur. Of wat
verwag dat dié beperkte tegnologie enigsins iets
sigbaar in die nag moet verewig.
Maar die man klou sy selfoon desperaat voor hom,
en Steve sing "kan ons nie maar vergeet en
vergewe".
Later loop ek die twee seuns – die een iewers in
die laerskool, en die ander een êrens in die
hoërskool, by 'n stalletjie raak. Hulle vra met
bewondering uit oor die reuse kamera om my
skouer, en ek vertel hulle dat selfone nie
ontwerp is om te doen wat hul pa so flussies
gedoen het nie.
"Nee, Oom," sê die jongste, en ek sien hy kry
skaam, "my pa het nie foto's geneem nie. Hy't my
ma gebel."
Ek vra uit, en die oudste verskaf stamelend die
besonderhede terwyl hy anderkant toe kyk. Ek
hoor hoe hul ma so 'n paar maande gelede in haar
wit Uno geklim en weggery het – omdat daar 'n
Engelsman was wat visgevang en 'n Nissan 4x4
gery het. Ek hoor hoe hulle sedert daardie dag
elke aand moes lê en luister hoe hul pa homself
aan die slaap huil.
"Sien Oom, hy't my ma gebel vanaand. Sodat sy
kon luister Oom. Na die song se woorde Oom. Oom
ken mos die woorde, nè, Oom? Miskien, miskien
het hy gedink as sy dit hoor, sal sy terugkom,"
probeer hy verskoning maak vir sy pa.
"Oom verstaan?"
Dis die jongste wat die gesprek voltooi: "Maar
sy het haar telefoon afgesit toe sy die liedjie
hoor."
Dit was skuins voor 11 daardie koue Vrydagaand,
toe Steve Hofmeyr sy Toeka-konsert op die
krieketveld in Potchefstroom afsluit. Die massa
mense – 10 000 was daar – het in rye die stadion
uitgestroom, maar ek het eers by 'n paar
kollegas aangesluit om te wag dat die hordes
deur die te klein hekke minder raak. Vir 'n
gestamp en stoot was ek min lus.
Toe ek later uitbeweeg het die ambulans se rooi
ligte reg voor die hekke in die donker nag rond
gekarring. Ek het die twee seuns langs die
draagbaar tussen die paramedici opgemerk – en
deur die skare tot by hulle gedruk.
Hulle het na my gekyk. "Dis my pa, Oom," het die
oudste verbouereerd gesê. "Dit is sy hart."
Die jongste het ingeval, sy oë op die draagbaar
geanker: "En die koue Oom, dis die koue."
Hy het nie gehuil nie, onthou ek: sy oë was net
nat en rooi. Dit was al.
"Ja," sê die oudste voordat hulle saam met die
draagbaar in die ambulans se wit ingewande
verdwyn: "My pa was nog nooit goed met sy hart
nie, Oom. Of met die koue nie."
Hy kyk stukkend na my: "Verstaan Oom?"
En toe verdwyn die ambulans flitsend-loeiend weg
in die koue mis.
Ek het verder gestap. Die strate was besig:
iewers op 'n straathoek was daar 'n motor op die
sypaadjie getrek, deure en kattebak guitig
oopgegooi om die musiek na buite te vat.
"Liefling, ek kan nie sonder jou verder lewe,"
het Steve uit die motor gesing.
Daar was mense om die kar, onthou ek. Hulle het
jillend en vrolik op die sypaadjie gedans en
sjerrie gedrink. |