Marelize Keyter

deur Marelize Keyter




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Die aantrekkingskrag tussen kinders en water is sterker as enige weersomstandighede; en die herinneringe aan swem in die plaasdamme van Memel, is hemelse-onthou.

Die bergwêreld in die Vrystaat waar ek grootgeword het, is nie 'n wêrelddeel wat warm somers beleef nie. Koel en gematig is eerder die woorde wat die klimaat beskryf in daardie hoekie van die Vrystaat, dáár waar die grense van Natal en die ou Transvaal teen die Vrystaat ontmoet.
Tog het ons kinders die behoefte gehad om af te koel; om iewers in 'n waterstroom of dam voete in die water te steek en die warm songebakte lyfies nat te maak.

Memel se munisipale gebied was nog maar altyd klein en van 'n munisipale swembad was daar nooit sprake nie. Memel-kinders moes maar elders, tydens seevakansies, hul swemopleiding ontvang. Daar was een privaat swembad by die dokter se woning. Vir die res van ons was sementdamme, bergstroompies en die Kliprivier – maar veral gronddamme – die swemplek.
Ek en Boeta was maar versigtige kinders, bang vir vreemde goeters soos roltrappe en hysbakke. Hiérdie versigtigheid het ook in ons swemstyl beslag gekry.

Pa het 'n massiewe groot dam gebou om al die afloop-water vanaf die kloof op te vang. Ons mog slegs in hierdie dam gaan swem het met reddingsbaadjies aan. Dit was werklik 'n groot en baie diep dam.
Maar aan die anderkant van die grootpad tussen Memel en Vrede, wat ons plaas in twee gesny het, was vlakker gronddamme. En dis hiér waar ons die lekkerste swemme van ons lewens geswem het. Sonder toesig, sonder volwasse teenwoordigheid het ons twee in ons kostuums en handdoeke oor die pad gestap, soms met 'n skaaphond op sleeptou, om die moddergate te gaan verken.

Vandag gril my kinders wanneer hulle hoor van bloedsuiers en modder tussen die tone, van paddaslyk op die water en bruin-troebel modderwater. Maar vir ons was dit hemels. Om in te storm (dikwels was die water maar kniehoogte, soms borshoogte) en pardoems neer te val in die water, mekaar nat te spat en ons kort voor lank in 'n moddergeveg te bevind of mekaar met modder van kop tot tone te besmeer.

Saam met kuiergaste sou ons Berg toe gaan vir 'n braai-piekniek. Wanneer ons Vrydae met die skoolbus van Vrede af kom, was die Berg die bewys van “huis”. Maar Sondae, met al die braai-benodighede op die 4x4 (die enigste manier om op die berg te kom) gelaai, sou ons gaan krappe soek. Vars-vars water in die bergstroom, dikwels ysigkoud, maar hier was krappe! Oe, ons was maar goed bang vir daardie skerp knypers, maar kort-kort sou een se voet op 'n gladde mosbegroeide klip gly en ons giggel-gillend in die water beland.

Maar 'n kind word ook groter, en as tieners het ons swemmery nie gestop nie, ons het net verkies om nader aan die huis, in die sementdam – en ook net wanneer dit skoongemaak was! – te swem. Hier het ek vir die eerste keer gesien dat 'n slang kan swem: inderdaad 'n skokkende belewenis.
Vandag het ek steeds 'n stukkie saamdra-uit-my-verlede in my swemstyl: nooit sal jy my met my gesig in die water sien swem nie – hoe sal ek dan ooit die paddaslyk “misswem”?

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jourubrieke
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend