Tanya van der Westhuysen

deur Tanya van der Westhuysen




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Soos dit maar met 'n lekker ou familietwis is, bly dit ook nooit lank binneshuis nie. Seker suurstoftekort of iets, want as jy my vra, is baklei harde werk. Só eindig die twee strydende faksies, nou oneweredig in getal, in my oom se spoggerige roostuin.

Vandag sit ek en dink aan die gemak waarmee die mens van die feesgety-high kan oorgaan na die nuwejaar-low. Die rede vir dié laagtepunt is nie die gewig nie, maar eerder die gevolge van die feesgety. Jy weet, daai soort gevolge waarvan grootmense nooit praat nie: die geraamtes. En toe besluit ek om dié rubriek te skryf, op aanbeveling van George Bernard Shaw, wat gesê het: “If you cannot get rid of the family skeleton, you may as well make it dance.”

My ouma Engela se suur koolslaai was 'n wenner, maar harde werk, daarom was dit slegs vir spesiale geleenthede gemaak. Kersfees was só 'n geleentheid. Of Nuwejaar. Of enige verjaarsdag met 'n 0 op die einde. So onthou ek die een jaar waar ons hele familie bymekaar gekom het om saam die nuwejaar in te sien. Die grootmense het baie moeie gedoen om mooi te lyk. Pa het 'n safaripak aangetrek en ma 'n crimplene-miniromp. My hare was al twee dae tevore styf in 'n sykous toegedraai. Vir die lokke, jy weet.
Die musiek het harder geraak soos die aand vorder. Die liefde was tasbaar en die manne het kliphard saamgesing aan Creedence Clearwater Revival se I see a bad moon rising. Persoonlik dink ek hulle moes gehoor gegee het aan die onderliggende boodskap van die titel, maar dit het hulle klaarblyklik net aangespoor tot groter hoogtes. Dan was dit Elvis se One for the money. Nie maklik om vyf broers en een suster se musieksmaak gelyk te bevredig nie. En dis ook net hier waar die bom gebars en die Elvis-helfte teen die CCR-helfte opgetrek het.

Die geveg het in die sitkamer begin toe PJ vir Elvis middeldeur breek. Julle, die logika weeg hier glad nie op teen die effek van die alkohol op die ses onderskeie serebrums nie. Dit was sy eie langspeelplaat, sou mens kon redeneer, hy mag hom seker breek na die sestiende keer op die draaitafel. Aikona! Volgens die uitkoms van die gebeure op daardie aand moes hy eerder sy Mona Lisa-nabootsing gebreek het, want toe ons weer kyk is die twee groepe aanmekaar. Tot vandag kan ek nie verstaan waarom hulle suster lang hare gedra het nie, want hoeveel keer wil jy aan jou blonde lokke getrek word voor jy jou hare afsny vir familiebyeenkomste?
Soos dit maar met 'n lekker ou familietwis is, bly dit ook nooit lank binneshuis nie. Seker suurstoftekort of iets, want as jy my vra, is baklei harde werk. Só eindig die sussie toe in die kombuis op en die twee strydende faksies, nou oneweredig in getal, in my oom se spoggerige roostuin. In my lewe het ek nog nooit so baie die woord “eina” gehoor nie.
Hoe dink dronk mense? Daar is heerlike sagte grassies buite, selfs vier beddens in die huis. Maar waar stoei hulle? In die roostuin. Dít terwyl my tannie met die snoeiskêr rondskarrel om darem 'n paar nuwe knoppe te red van onvermydelike vergruising. Ook opmerklik is dat die een groep soms die verkeerde een per ongeluk ruk-en-pluk. Gevolglik was daar tussen die “einas” ook die “skuus ouboet”-opmerkings.

Dis hiér waar my ouma Engela se koolslaai tot almal se redding gekom het, want die sussie in die kombuis het die eerste naaste barbaar gekry en die bak op sy kop omgekeer. Daar sit PJ toe, soos 'n koolkop Rastafariër en lek die heerlike soet-suur mosterdsous wat mildelik oor hom drup terwyl die ander vier broers, momenteel weer boesemvriende, hand om letsel-lyf staan en lag.

Later die aand het my tannie die bottel ontsmettingsmiddel in haar medisynekassie ongemerk agtertoe geskuif en vermaaklik die bottel brandspiritus uitgehaal, sodat die manne hulle dorings kon uithaal en die wonde ontsmet.
Daar eenkant in 'n glaspot was ses gekneusde rooi rose. En ek dink aan die woorde van Anna Quindlen: “They say blood is thicker than water. Maybe that’s why we battle our own with more energy and gusto than we would ever expend on strangers.”

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jourubrieke
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend