Geraamtes kan dans |
|
|
Vandag sit ek en dink aan die gemak waarmee die mens van die feesgety-high kan oorgaan na die nuwejaar-low. Die rede vir dié laagtepunt is nie die gewig nie, maar eerder die gevolge van die feesgety. Jy weet, daai soort gevolge waarvan grootmense nooit praat nie: die geraamtes. En toe besluit ek om dié rubriek te skryf, op aanbeveling van George Bernard Shaw, wat gesê het: “If you cannot get rid of the family skeleton, you may as well make it dance.” My ouma Engela se suur koolslaai was 'n wenner, maar harde werk, daarom was dit slegs vir spesiale geleenthede gemaak. Kersfees was só 'n geleentheid. Of Nuwejaar. Of enige verjaarsdag met 'n 0 op die einde. So onthou ek die een jaar waar ons hele familie bymekaar gekom het om saam die nuwejaar in te sien. Die grootmense het baie moeie gedoen om mooi te lyk. Pa het 'n safaripak aangetrek en ma 'n crimplene-miniromp. My hare was al twee dae tevore styf in 'n sykous toegedraai. Vir die lokke, jy weet. Die geveg het in die sitkamer begin toe PJ vir Elvis middeldeur breek. Julle, die logika weeg hier glad nie op teen die effek van die alkohol op die ses onderskeie serebrums nie. Dit was sy eie langspeelplaat, sou mens kon redeneer, hy mag hom seker breek na die sestiende keer op die draaitafel. Aikona! Volgens die uitkoms van die gebeure op daardie aand moes hy eerder sy Mona Lisa-nabootsing gebreek het, want toe ons weer kyk is die twee groepe aanmekaar. Tot vandag kan ek nie verstaan waarom hulle suster lang hare gedra het nie, want hoeveel keer wil jy aan jou blonde lokke getrek word voor jy jou hare afsny vir familiebyeenkomste? Dis hiér waar my ouma Engela se koolslaai tot almal se redding gekom het, want die sussie in die kombuis het die eerste naaste barbaar gekry en die bak op sy kop omgekeer. Daar sit PJ toe, soos 'n koolkop Rastafariër en lek die heerlike soet-suur mosterdsous wat mildelik oor hom drup terwyl die ander vier broers, momenteel weer boesemvriende, hand om letsel-lyf staan en lag. Later die aand het my tannie die bottel ontsmettingsmiddel in haar medisynekassie ongemerk agtertoe geskuif en vermaaklik die bottel brandspiritus uitgehaal, sodat die manne hulle dorings kon uithaal en die wonde ontsmet. | |