Susan Coetzer
deur Susan Coetzer




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Ek dink aan die goed wat my uitbundigheid onderdruk. Agterstallige rekenings, spertye, groen swembaddens, geisers en wasmasjiene wat breek. Fone wat nie werk nie. E-posse wat vashaak. En skielik besef ek die geswoeg van die alledaagse lewe kan maklik die kind in die grootmens laat kwyn. Die sonneblom se kop laat hang. 

My ma sê ek is vrolik gebore. Die vrolikste van ons drie kinders. Van die dag wat ek gebore is, was dit my gewoonte om vriend en vreemdeling met 'n tandlose glimlag te begroet. Dié dat ek die noemnaam, Sonneblom, gekry het. Die naam wat my ma my vandag nog (op goeie dae) noem.
"Ek weet nie van die naam nie," sê my kind een aand skoorsoekend.  (Hy kry sulke kom-ons-kritiseer-die-ouers-aanvalle.)
"Hoekom?" vra ek en wys al my welwillendheidstande, mak soos 'n lam. "Kyk hoe vriendelik is ek."
 "Gmf," sê hy en probeer van Philip 'n bondgenoot maak. "Mamma is nie vriendelik as my kamer deurmekaar is nie. Of as ek vergeet het om die honde kos te gee nie. Of as Philip vergeet om die foon te betaal nie." 
Hy dink 'n oomblik diep soos iemand wat 'n krisis beleef en dit wil oplos. Hy kry skielik 'n duiwelse glimlag in sy oë. "Daisy pas beter," besluit hy.  "Jy het mos Daisy de Melcker gespeel. En sy't haar seun en man vermoor. Nes jy ons vermoor as ons iets verkeerds doen."
Philip sê niks. Hy glimlag die glimlag van een wat nie moeilikheid wil hê nie. Die glimlag van een wat groot en duur lesse geleer het. Hy weet (deesdae) beter as om met sy leeuwyfie se vlegsel te lol.

"So, jy voel steeds Sonneblom pas by my ma se geaardheid?" probeer Frankie onmin tussen man en vrou saai.
"Ja," sê my slim man.
Frankie knipoog en skud sy kop simpatiek. "Wel, ek stem vir Daisy. Nag Mamma Daisy," treiter hy my.
"Ek bring vir jou warm sjokolade," sê ek liefies.
"Dankie," sê hy. "Met arseen in . . ." 
Ek trek my Daisy-bangmaakgesig vir hom.
"Sal jy my ooit vermoor?" vra hy onrustig.
"Nooit," sê ek geskok.  "Wel, dit voel soms so . . ."
Ek weet my kind is bederf en praat baie snert. Veral laataand. Maar die saadjie van selfondersoek is geplant. Ek begin wonder of al die swoegdinge van die lewe my dalk ongemerk in 'n Daisy de Melcker verander het.  'n Verlepte, dikbek-Sonneblom wat weggegroei het van die sonkant van die lewe.

Ek begin delf in my donker(der) self. Ek dink aan die goed wat my uitbundigheid onderdruk.  Agterstallige rekenings, spertye, groen swembaddens, geisers en wasmasjiene wat breek. Fone wat nie werk nie. E-posse wat vashaak.
Ek dink aan die hardnekkige krieketvlekke wat oornag uitgetoor moet word met Omo. Die nat handdoeke op die vloer, die leë glase wat soos 'n lelike kunsuitstalling in die huis rondstaan. Ek dink aan die stapels koerante wat gelees en gelos word. (Vir my om op te tel.) Kospotte sonder deksels.  (Vir my om op te sit.) Die harde televisie en nog harder rekenaarspeletjies. (Vir my om stil te skel.)
En skielik besef ek die geswoeg van die alledaagse lewe kan maklik die kind in die grootmens laat kwyn. Die sonneblom se kop laat hang.

Ek vererg my bloedig vir die vyande wat so ongemerk my lewenslus weggeneem het. Die volgende oggend staan ek bekeer op. Van nou af is ek 'n warrior eerder as 'n worrier, praat ek myself moed in.  Ek bestorm die dag, kyk die son reg binne-in sy geel oog.
"Dag maat," sê ek en lig my kop so hoog dat my nek seerkry. "Onthou jy my nog? My naam is Sonneblom. Ek is terug."
Ek pluk blomme in die tuin, moerbeie en groen pruime. Ek maak 'n ontbyt wat lyk soos Thanksgiving.  Ek speel "Don't worry, be happy"  kliphard. Die manne kom gapend die gang af.
"Hoekom speel die musiek so hard?" vra Frankie gesteurd. "En hoekom lyk ons ontbyt soos 'n hotel s'n?"
"Oor ek Sonneblom is. Kom kyk hoe mooi is die dag."
"Ek weet hoe lyk dit. Nes gister," sê my seun verveeld.
Ek sleep hulle buitentoe, stoot hulle behendig, voor hulle snuf in die neus kry, in die swembad in.  Hul oë is vol skok toe hulle opkom. Ek hardloop soos die atleet van ouds.

Toe die koue water my slaan, voel ek die kinderlike genot van lewe deur my are bruis. Soms moet 'n vrou eenvoudig die geswoeg van die lewe met uitbundigheid vasvang!

Hierdie is 'n uittreksel uit Susan Coetzer se boek, die mooiste Sonneblomme & Daisies, wat deur Carpe Diem gepubliseer en uitgegee is.
Bestel die boek direk by www.carpediem.co.za
Ook in dié maand se uitgawe van jouwêreld: Susan gesels oor die dinge van 'n vrou, en lees meer oor die mooiste Sonneblomme & Daisies.

jougeskenke
5 lesers kan elk 'n kopie van Susan Coetzer se boek, die mooiste Sonneblomme & Daisies, wen. Om vir dié prys in aanmerking te kom, SMS die woorde JW DAISIES, tesame met jou naam en e-posadres, aan 36545 voor 31 Augustus 2009.

Lees ook die kompetisie-reëls
.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jourubrieke
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend