|
In my jong dae – en dit was in die sogenaamde
hippie-era toe vrye-seks gepropageer was – was
daar klere wat in geselskap nie oor gepraat is
nie: dit was doodeenvoudig té intiem om in 'n
ordentlike geselskap te noem! Anders as nou.
Vandag is niks meer heilig nie, nie eers jou
onderklere nie! Interessante
onderklere-insidente sorg egter nog altyd vir
pret.
My oom Jollie – wat student was in die
vyftigerjare – en 'n paar medestudente het
eenmaal agter 'n jong dame uit die bus geklim.
Dit was in die jare vyftig toe die rompies wyd
en met suiker gestyf was. Met die uitklim-slag
het haar onderkleertjie oor haar mooi bene,
onder die wye romp uit tot op haar voete geval.
Sy het vinnig reageer, een klein skopbeweging
gemaak en uit dié ongewenste kledingstuk geklim
en die pad gevat. Studente laat jou egter nie so
maklik daarvan afkom nie en daar is glo met ywer
agter haar aangeloop en geskree: "Miss, miss you
lost something!"
Met 'n verbete trek om haar mond en rooi gesig
het sy 'n dowe oor gegooi en net so vinnig as
moontlik probeer wegkom, al moes dit broekieloos
wees!
'n Ander insident gebeur tydens 'n studentekamp.
'n Groep studente het 'n meisie se rooi polka
dot-bikinibroekie aan die vlagpaal gehang en
gesê dit is die amptelike vlag tot dit deur die
eienaar afgehaal word. Niemand het eienaarskap
erken nie en hulle is daar weg terwyl die kamp
steeds onder die polka dot-vaandel
voortbestaan het. Dit was egter in 1973! Vandag
sal dit dalk 'n heel ander storie wees. Die
juffroutjie sal haarself waarskynlik ewe kordaat
die stukkie klere gaan toeëien het.
Desember 1981 hou ons en familie saam vakansie
in 'n hotel in die Strand – 'n dorp wat bekend
is vir sy winde. My onderklere, wat ek elke aand
sorgvuldig uitwas, hang ek toe oor 'n
droograkkie langs die venster. Groot was my
ontsteltenis toe 'n skielike rukwind my
intiemste besitting by die venster uitwaai.
"Nee," weier ek beslis, "ek gaan dit sekerlik
nie haal nie!"
Tot eie nadeel het die storie gou versprei. My
skoonsus se pa het gereeld vertel hoe hy sy
soektog na verlore goedere onverpoosd voortsit.
"Have you seen Misses C's Pantie?" sou hy dan
konsuis daar onder op straat rondgevra het. Ek
was nie beïndruk nie!
My ouma het almal wat wou hoor of nie wou hoor
nie. gewaarsku teen dun nylon onderklere.
"Dit is sleg vir 'n vrou. Julle moet behoorlike
goed met 'n beentjie dra. Ek dra my hele lewe
bloemertjies en het nog nooit enige vroulike
kwaal gehad nie!" het sy gepreek.
Sy was in haar hele 91-jarige lewe nooit in 'n
hospitaal nie, so dalk was die aanname waar,
maar bloemertjies?
Wat sou ouma van die nuutste minimalisering op
die onderklereterrein gesê het? Dis nou die
deurtrekkertjie wat net daar is, maar ook nie
veel werd is nie. Dit word gedra sodat geen lyn
wys dat daar iets onder die langbroek aangetrek
is nie. Maar hoe verduidelik ons dan die deel
wat by amper almal bó die langbroek uitsteek? Of
dalk is dit die groter idee van dinge? Hoe dit
ook al is, met die koms van die nuwe weergawe
van 'n ou kledingstuk, het my ou bediende haar
kop net in ongeloof geskud, met haar tong geklik
en eiewys opgemerk: "Dit is nou vir jou 'n
ongemaklike bloemer!"
|