|
|
|
Ons familie se
eerlikheid op 'n begrafnis grens aan
onbeskoftheid: "Haai, ou Gert, maar jy word
darem nou te vet!" het ek 'n sekere familielid
een keer aan 'n ander hoor sê. "Jy is darem
wragtig nou oud!" het ek al 'n ander hoor
uitroep. En nog 'n ander: "Jy is nog jonk, waar
is al jou hare?" Mens kan net soveel vat; selfs
van familie. Dit is dus nie snaaks dat so baie
familie mekaar slegs op begrafnisse sien nie!
Ek onthou my en Skoonma se dilemma toe ons 'n
hoogswanger niggie raakloop en nie geweet het of
sy op daardie stadium reeds getroud was nie.
Laas toe ons gehoor het was sy nog eerstejaar op
universiteit en die familie-skinderkolom het, in
hierdie geval, ver te kort geskiet. Ons het
veilig gespeel en gevra wanneer die baba kom.
Later het ons gehoor sy was darem al 'n maand of
so getroud - heeltemal betyds vir die bevalling!
Die familie ruil op begrafnisse inligting uit
van ander familie wat nie teenwoordig is nie.
Hulle opper ook na die begrafnis hul kommer oor
teenwoordiges wat oud, siek en afgemat is. Hulle
stel tog opreg belang, maar geniet die skinder
terdeë. Hulle hou dan 'n tydjie kontak met die
betrokkenes en dan gaan die lewe weer aan.
Onlangs op 'n begrafnis was een van die jong
dames, onervare in hierdie familie-streep,
uiters onthuts toe 'n ouer familielid haar so
aankyk en sê: "Ek sien jy het, soos al die vroue
in die familie, ook maar dik dytjies."
Sy was uiters geskok en nou is sy en haar skraal
man op 'n eet-gesond-veldtog! Haar arme man het
niks met die dik dytjies te doen nie, maar nou
moet hy dit ook ontgeld! Die hele ding was 'n
oulike grap vir die omstanders, maar almal is
deur mev. Dik-dytjies tot stilswye gemaan.
Niemand wil hoor sy of hy, het dik dytjies nie -
veral nie ongevraagd op 'n begrafnis nie! Wys
jou, miskien moet ons almal die kilojoules tel,
dan is ons reg vir die volgende begrafnis!
As ek dalk die belangrikste mens op die volgende
begrafnis is, hoop ek my dik dytjies pas in die
kis! Wát 'n rede om te verslank! En laat een ou
net dáároor skinder! |