|
Dis mooi, dink ek in die motor
oppad huis toe. Die vorige seisoen se baie reën
was goed vir die bome hier aan die voet van die
berg: Van ver steek ons grysdakhuis parmantig sy
kop uit bo die reuse groen-en-pers brokkoli van
bome. Ek stop sommer net hier en skryf 'n
pragtige gedig, dink ek, want pers is my
gunsteling kleur en die Jakarandas het nog nooit
so mooi gelyk nie.
In hiérdie tyd begin die
jeukerige krieweling in my neus. Dan vang die
niesbui my onverhoeds. Sommer so voor my
rekenaar by die werk. Geen tyd vir snesies – of
eerder handdoeke – gryp nie. Werner kom
ongelukkig onder skoot. Siestog, die man wil nog
ordentlik wees en haal sy sakdoek uit om gesig
skoon te maak.
"Ek maak net my rekenaar se skerm skoon," sê hy
heel ordentlik terwyl hy agter sy tafel induik
om die sproei van sy gesig af te vee.
Die dae stap aan, en die konkoksie in my
sinusholtes ook, terwyl die Jakarandas in hul
volle glorie blom. Ek is deur drie boksies
snesies en 'n houertjie Vicks, maar die sinus
gaan nêrens. Elke keer wat ek my neus snuit – en
dit is minstens vyftien keer 'n uur – inspekteer
ek die opbrengs. Hoe lyk breinweefsel nou weer?
Elke dag wat verbygaan raak ek al hoe meer
benoud, want mens het net soveel plek in jou
skedel. En dan onthou ek wat met my vriend Arno
gebeur het na sy laaste sinusaanval:
Arno
het drie kursusse antibiotika voltooi – en laat
ons nou ook nie vergeet van die drie potjies
boudjiesalf vir die newe-effekte van die
antibiotika nie. Genadiglik beland hy toe by 'n
oor, neus en keelspesialis wat 'n skandering
doen en besluit dat 'n sinusspoeling die enigste
uitweg is. Die Samaritaan bespreek toe Arno se
plek op die teaterlys vir die volgende dag en my
vriend is daar uit met 'n stewige handdruk en
groot beloftes van ewige verligting. En genoeg
tyd om sy ou Volla te laat diens.
Twee dae later sit Arno toe voor
my. Reuse eier op die kop en 'n paar skrape.
"En," vra ek, "hoe voel die sinusse na die
operasie? En hoekom het jy so knop op die kop?"
terwyl ek in my agterkop reeds 'n prentjie vorm
van wat met my arme vriend gebeur het onder
narkose.
"Die operasie was toe nie nodig nie," sê hy half
verleë. "Voordat ek by die hospitaal moes wees
het ek gou die Volla gaan haal. Ek was nogal
verras want die ou tjor het lekker spoed opgetel
toe ek by Muckleneuk teen die bult afry. Maar
die lekker was van korte duur want toe ek by die
stopstraat wou remtrap was daar niks. Gelukkig
was daar nie ander motors by die stopstraat nie
en ek is in volle spoed daar oor, maar ek het
geweet ek moet 'n plan maak want die volgende
kruising is een van die besigstes in Sunnyside."
Ek kon die rilling teen my rug voel opkruip want
ek het geweet van watter kruising hy praat.
"Nee!" kry my spastiese stembande toe darem 'n
geluid uit. "En toe?"
"Ek het besluit om eerder in die
brug vas te ry, jy weet, die een net duskant die
kruising."
Ek knik my kop.
"Wel, dit is werklik so. Jou lewe speel voor jou
af in 'n paar sekondes. Net voor ek die brug
getref het, het ek gewonder hoekom ek nie maar
net rustig kon heengaan onder narkose nie, maar
nee: ek, Arno, gaan my ewigheid tegemoet in my
Volla teen 'n brug in Sunnyside! En toe is dit
net yster teen beton. Glas wat breek en ek wat
soos 'n pampoen teen die voorruit geslinger
word. Ek sê jou, ek het geweet ek is dood. Net
die pyn in my kop . . . Hulle het dan gesê daar
sal geen pyn in die hemel wees nie? Toe dring
dit stadig tot my deur: Ek lewe. Ek vat
versigtig aan my nat, bebloede kop. Wil in die
spieël kyk, maar hy is weg. Dan voel-voel ek
versigtig tussen die glasskerwe op die vloer
rond tot ek die spieëltjie kry. Ek staal myself
vir al die bloed wat ek op my geskende gesig
gaan sien. En wat sal ek sien: Snot! Reg om my
kop, net snot."
Tot vandag is daar geen
verklaring vir die wonderbaarlike genesing nie,
maar Arno is gesond. Kyk, verstaan my reg, daar
is geen manier wat ek met my seer kop in
enigiets gaan vasry in die hoop op 'n
fratsgenesing nie. Tensy mens 'n manier kan kry
om al die verpeste Jakaranda-blommetjies uit te
roei. En net daar en dan dig ek:
Jakaranda jou vervloekte ding.
Waarom het ons jou hierheen gebring?
Jy staan daar in jou pers gewaad,
maar vir jou, vir jou's ek bitter kwaad.
Jou stuifmeel kielie hier diep in
my neus
Gister al deur vyf bokse tissues gewees
Nou sit ek met 'n allergiese neus
Dis jy, jou pragtige
ligpers reus.
|