|
Die kommer oor die Wet op die Beheer van
Vuurwapens, of die vuurwapenwet soos wat dit
bekend staan, wil maar net nie wyk nie. Groot
vraagtekens hang oor die polisie se vermoë om
dié wet toe te pas: talle polisielede beskik
self nie eers oor 'n bevoegdheidsertifikaat nie,
meer as 8 000 polisie-wapens het reeds verlore
geraak terwyl die registrasieproses ook ernstige
probleme ondervind: slegs 38,8% van aansoeke om
herlisensiëring is tans volledig geprosesseer.
Om antwoorde op dié kwelvrae te kry, het die
burgerregte inisiatief AfriForum met direkteur
Jaco Bothma, bevelvoerder van die SAPD se
vuurwapenregister, samesprekings rakende die Wet
op die Beheer van Vuurwapens gevoer.
Volgens Nantes Kelder, hoof van
gemeenskapsveiligheid van AfriForum, is van die
aangeleenthede wat bespreek is, die toepassing
van die wet nadat die aansoeke om
herlisensiëring op 31 Maart 2009 gesluit het.
Persone wat reeds vyf jaar gelede met die proses
begin het, moet nou weer aansoek om hernuwing
van hul lisensies doen, aangesien die
bevoegdheidsertifikate slegs vir 'n tydperk van
vyf jaar geldig is. Die gevoel onder lede van
AfriForum is dat dit onnodige rompslomp en
uitgawes veroorsaak. Daar word tereg gevra wat
die situasie van lede van die SAPD is wat self
nog nie bevoegdheidsertifikate het nie. Die SAPD
sal met ander woorde volgens die wet moet begin
optree teen mense wat nie hul wapenlisensies
hernu het nie, terwyl die SAPD self ook nie in
lyn met die toepaslike wetgewing is nie.
Kelder wou verder weet watter beheer daar gaan
wees in terme van vuurwapens wat ingehandig gaan
word deur lede van die publiek wat nie aansoek
gedoen het om herlisensiëring nie.
"Wat
vir my 'n bron van kommer is, is dat die polisie
nie rekenskap kon gee van ongeveer 8200 van hul
eie vuurwapens wat die afgelope jaar verlore
geraak het nie, maar nou word verwag dat die
publiek hul wapens by die SAPD moet inhandig.
Ons weet nie regtig of die diens die nodige
kapasiteit het om te verhoed dat dit ook hier
gaan gebeur nie. AfriForum wil weet of die
polisie sisteme in plek het om die veilige
bewaring van vuurwapens wat ingehandig word, te
waarborg," het Kelder gesę.
Volgens Kelder
stem AfriForum saam dat die vuurwapenbedryf
gereguleer moet word, maar tans word
wetsgehoorsame burgers gereguleer en beheer,
terwyl misdadigers voortgaan om te roof en te
moor. Die gevoel heers onder die publiek dat die
wet wetsgehoorsames ontwapen en misdadigers
bemagtig.
Kelder het opgemerk dat daar aanvaar moet word
dat niks nou gedoen kan word om die huidige
proses van herlisensiëring te stop nie, maar dat
AfriForum 'n regsmening sal kry oor bepalings in
die wet wat moontlik ongrondwetlik is. Sou dit
die geval wees, sal die saak hof toe geneem word
om sodanige bepalings ongrondwetlik te verklaar.
Intussen het die minister van Veiligheid en
Sekuriteit, mnr. Nathi Mthethwa, die nuutste
syfers vir aansoeke om die herlisensiëring van
vuurwapens ingevolge die nuwe Wet op die Beheer
van Vuurwapens (Vuurwapenwet), bekendgestel. Hy
het geantwoord op 'n skriftelike vraag van mnr.
Pieter Groenewald (LP) van die VF Plus in die
parlement.
Volgens die antwoord van die minister is daar
vanaf 2004 tot einde Januarie 2009 slegs 604 928
aansoeke vir bevoegdheidsertifikate, en 881 136
hernuwingsaansoeke vir vuurwapenlisensies,
ontvang. Die tydperk vir aansoeke verstryk op 31
Maart 2009. In Suid-Afrika is daar ongeveer 2
miljoen vuurwapeneienaars wat elk 'n
bevoegdheidsertifikaat moet kry en ongeveer 4
miljoen vuurwapens wat geherlisensieer moet word
voor 30 Junie 2009.
"Dit is duidelik dat, volgens die syfers wat die
minister verskaf het, die
vuurwapenregistrasieproses ernstige probleme
ondervind en in totale chaos is. Hiervolgens is
slegs 38,8 % van aansoeke om herlisensiëring
volledig geprosesseer en slegs 55,9% van
aansoeke om bevoegdheidsertifikate. As verder in
ag geneem word dat slegs 22% van die 4 miljoen
vuurwapenlisensies in omloop en 30,3% van die
eienaars se aansoeke ingedien is, is dit
onmoontlik om voor die einde van verlede maand (Maart
2009) al die aansoeke te ontvang en te verwerk.
Die VF Plus het herhaaldelik gewaarsku dat die
tydperk vir die proses van hernuwing van
lisensies en bevoegdheidsertifikate onrealisties
is en dat die minister se departement nie oor
die administratiewe vermoë beskik om dit betyds
af te handel nie. Die syfers bewys dit nou," sę
mnr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder
van Veiligheid en Sekuriteit vir die VF Plus.
"Ek word oorval met klagtes van
vuurwapeneienaars wat al meer as twee jaar wag
vir kluisinspeksies en hul lisensies. Die
minister erken ook dat
vingerafdruk-klassifikasie, onderhoude met
kennisse en kluisinspeksies ernstige probleme
veroorsaak. Dit is juis hierdie administrasie
waarteen die VF Plus gewaarsku het. Die VF Plus
gaan voorstelle aan die minister doen hoe om die
wet te wysig sodat die administrasie verlig en
bespoedig kan word. Die bestaande situasie gaan
die minister dwing om wysigings aan die
Vuurwapenwet aan te bring en om die proses
verder uit te stel," het Groenewald gesę.
|