|
Gwede Mantashe, die ANC se Sekretaris-Generaal,
het verlede maand tydens 'n politieke rally
verklaar dat die ANC nie meer 'n tweederde
meerderheid wil hê nie. "Ons
wil nou 'n driederde meerderheid in enige
provinsie hê, met inbegrip van die Wes-Kaap,"
het hy gesê.
Dié verklaring van hom is opgevolg deur Helen
Zille, DA-leier, wat gesê het hoe
meer mag die ANC het, hoe meer misbruik hy dié
mag – en hoe meer mag hy misbruik, hoe korrupter
word hy.
Sy het 'n samekoms by die Universiteit van
Pretoria toegespreek.
"Dit is waarom ons moet sorg dat die ANC in
hierdie verkiesing minder as 'n tweederde
meerderheid kry. En dié keer kan ons dit doen,
want die ANC het geskeur."
Sy verduidelik dat 'n tweederde meerderheid die
ANC in staat stel om die Grondwet op sy eie te
wysig. "En dit staan vas dat die ANC die
Grondwet sál probeer wysig om Jacob Zuma skotvry
te laat wegloop. As die ANC 'n tweederde
meerderheid kry, sal Zuma se probleme verdwyn.
Zuma sal as 'n vry man van sy korrupsieverhoor
wegstap. Hy sal hom voeg by ander kaders wat
reeds bo die wet verhef is."
Zille is van mening die ANC wil totale mag hê
sodat daar geen perke op sy magsmisbruik en sy
korrupsie sal wees nie.
"Vandat Jacob Zuma in Polokwane tot die ANC se
president verkies is, het die regerende party sy
tweederde meerderheid in die Parlement
stelselmatig misbruik om Zuma te beskerm en sy
eng belange, asook dié van sy kliek, te bevorder.
"Die ANC het sy meerderheid misbruik om die
Skerpioene 'n doodsteek toe te dien, want die
eenheid het na Zuma en ander lede van sy geslote
kring boeties ondersoek ingestel. Die ANC het sy
meerderheid misbruik om die ontslag van adv.
Vusi Pikoli, die voormalige Direkteur van
Openbare Vervolgings, te bekragtig, want die
party het geweet hy sal Pikoli nie kan oorreed
om die aanklagte teen Zuma te laat vaar nie."
Zille sê 'n politieke ooreenkoms rakende Zuma
sal die stigtingsooreenkoms van die land se
demokrasie versplinter deur die eng belange van
die ANC se heersende kliek bo die
onskendbaarheid van die grondwet te verhef.
"'n Politieke oplossing sal die legitimiteit van
twee baie belangrike demokratiese instellings,
naamlik die regbank en die NVG, in die gedrang
bring. Deur die howe buite rekening te laat, sal
die gesag en legitimiteit van die regbank
permanent geskaad word, en die beginsel van die
skeiding van magte – tussen die wetgewer, die
uitvoerende gesag en die regplegende gesag – sal
betekenisloos word.
"Ons moet die ANC dus 'n meerderheid van minder
as tweederdes gee. Dit is een van die DA se
belangrikste doelwitte met dié verkiesing, want
'n tweederde meerderheid is te gevaarlik." |