|
joupolitiek Daar is 'n baie duidelike beleidskeuse vir Suid-Afrika. Dié keuse is tussen die DA se oop geleentheidsgedrewe samelewing vir almal, en die ANC se geslote begunstigingsgedrewe samelewing vir sommige.
Deur Helen Zille Die onstuimige politieke gebeure van die afgelope klompie weke was goed vir Suid-Afrika. Mosiuoa Lekota se kritiek op die ANC in 'n ope brief aan sy leiers, en die totstandkoming van 'n wegbreekfaksie, bewys dat ons nie die weg van Robert Mugabe se Zimbabwe gaan inslaan nie. Al hoe meer Suid-Afrikaners begin die magsmisbruik van die heersende kliek in die ANC raaksien, en sê basta! Ewe belangrik is dat die rassebeswadderings wat ons politieke gesprek só lank oorheers het, skynbaar wyk. 'n Nuwe debat oor waardes, beleid en beginsels tree na vore. Dit is 'n bemoedigende teken, dat ons demokrasie volwasse word, as 'n politikus van Lekota se aansien openlik menings oor die ANC uitspreek wat die DA lankal reeds huldig.
Maar vir elke silwer randjie is daar ook 'n donker wolk. In 'n onderhoud
met die Sunday Times verlede maand het aartsbiskop Desmond Tutu gesê dat
as daar die volgende dag 'n verkiesing sou wees, hy "ontevrede genoeg
[met die ANC] sou wees om nie te stem nie".
Roekelose kommentaar As aartsbiskop Tutu nie gaan stem nie, sal dit help om juis die omstandighede wat hy bekla, naamlik die agteruitgang na 'n eenpartystaat, te versterk en te verleng. Die aartsbiskop is 'n sterk kritikus van Mugabe se wanbestuur in Zimbabwe, en moet dit dus weet. Dit is dus bisar dat hy 'n benadering tot sy stemreg volg wat beslis sal meebring dat Suid-Afrika se politiek soos dié van Zimbabwe word. Daar is natuurlik 'n baie duidelike beleidskeuse vir Suid-Afrika. Dié keuse is tussen die DA se oop geleentheidsgedrewe samelewing vir almal, en die ANC se geslote begunstigingsgedrewe samelewing vir sommige. Dit is 'n bondige opsomming van die beleidskeuses wat al eeue lank in ander lande op vordering of agteruitgang uitgeloop het. Duidelike beleidskeuses was vir Suid-Afrikaners nog nooit meer geredelik beskikbaar of duidelik nie. Die DA hou die begrip van politieke opposisie reeds van 1994 aan die lewe; ons het die idees in die praktyk uitgevoer; en ons oorreed al hoe meer kiesers van die groot gevaar dat té veel mag in een sentrum gekonsentreer word, en van hoe belangrik dit is om 'n regerende party tot verantwoording te roep. Alles waaroor ons mense reeds meer as 'n dekade lank waarsku, is nou vir die meeste Suid-Afrikaners baie duidelik. Voorts het ons ook teen alle verwagtinge in 'n verkiesing gewen, en het ons op plekke van belang 'n alternatiewe regering geword, onder meer in die Stad Kaapstad. Waar ons regeer, maak ons dag en nag werk daarvan om die ANC se erfenis van korrupsie en baantjies vir boeties om te keer, ons eie beleidsvoorstelle in werking te stel, en te bewys dat hulle 'n verskil in die lewens van al die mense maak (nie net in dié van die politici in die binnekring van die bewind nie). Ons maak stap vir stap vordering.
Joernaliste ken nie DA-beleid
'n Paar dae ná die verskyning van "Hogarth" se kolom het die DA sy
gewysigde onderwysbeleid in die Parlement bekend gemaak.
Die Sunday Times is nie die enigste skuldige nie. Dit is interessant dat
baie politieke verslaggewers nie die moeite gedoen het om hulle met die
DA se talle geredelik beskikbare beleidsdokumente oor elke uitdaging
waarvoor Suid-Afrika staan, vertroud te maak nie. En dan is dit meestal
húlle wat beweer dat daar geen lewensvatbare alternatief vir die ANC is
nie.
Tog is dit 'n feit dat ons leierskap meer uiteenlopend as dié van die
ANC is. (Die ANC se leiers is feitlik almal net van een ras.) Trouens,
in sy mees onlangse peiling oor politieke menings het prof. Lawrence
Schlemmer die gevolgtrekking gemaak dat die DA die mees veelrassige
party is wat daar nog ooit in Suid-Afrika was. Dis ons doel om Suid-Afrika van die beperkinge van rassepolitiek te bevry en mense te oortuig dat hulle op grond van waardes, beleid en beginsels moet deelneem. As ons dit kan doen, sal Suid-Afrika 'n gekonsolideerde demokrasie word waarin belangrike beleidsaangeleenthede, in plaas van rasse-identiteit, die politieke debat dryf, en waarin die regerende party vreedsaam by die stembus uit die kussing gelig kan word omdat sy beleid die mense in die steek gelaat het.
|