joupolitiek

Et tut, Tutu?

Daar is 'n baie duidelike beleidskeuse vir Suid-Afrika. Dié keuse is tussen die DA se oop geleentheidsgedrewe samelewing vir almal, en die ANC se geslote begunstigingsgedrewe samelewing vir sommige.

Deur Helen Zille
(DA-leier)

Die onstuimige politieke gebeure van die afgelope klompie weke was goed vir Suid-Afrika. Mosiuoa Lekota se kritiek op die ANC in 'n ope brief aan sy leiers, en die totstandkoming van 'n wegbreekfaksie, bewys dat ons nie die weg van Robert Mugabe se Zimbabwe gaan inslaan nie. Al hoe meer Suid-Afrikaners begin die magsmisbruik van die heersende kliek in die ANC raaksien, en sê basta!

Ewe belangrik is dat die rassebeswadderings wat ons politieke gesprek só lank oorheers het, skynbaar wyk. 'n Nuwe debat oor waardes, beleid en beginsels tree na vore. Dit is 'n bemoedigende teken, dat ons demokrasie volwasse word, as 'n politikus van Lekota se aansien openlik menings oor die ANC uitspreek wat die DA lankal reeds huldig.

Maar vir elke silwer randjie is daar ook 'n donker wolk. In 'n onderhoud met die Sunday Times verlede maand het aartsbiskop Desmond Tutu gesê dat as daar die volgende dag 'n verkiesing sou wees, hy "ontevrede genoeg [met die ANC] sou wees om nie te stem nie".
In dieselfde asem bekla hy die gebrek aan – na sý mening – 'n "lewensvatbare opposisie . . . een wat die indruk wek dat hy 'n alternatiewe regering sou kon word".
'n Hoofartikel in dieselfde koerant steun Tutu se mening en merk op: "Talle Suid-Afrikaners stem met hom saam."
Ironies het dieselfde koerant 'n week tevore 'n meningspeiling geplaas wat toon dat die ANC en die DA onder mense met landlyn-telefone in stedelike gebiede "nek aan nek" loop. Klaarblyklik glo baie Suid-Afrikaners daar ís 'n lewensvatbare alternatief vir die ANC, en is hulle bereid om daarvoor te stem.

Roekelose kommentaar

Ek verskil nie dikwels met aartsbiskop Tutu nie, maar ek moet sê dat sy kommentaar sowel roekeloos as verkeerd was. Ek kan ook nie saamstem met die mening wat in verskeie koerante se hoofartikels uitgespreek is dat Tutu leierskap getoon het deur aan te dui dat hy nie gaan stem nie. As elke Suid-Afrikaner wat met die ANC ontnugter is Tutu se mening oor stemmery aanvaar, sal ons in 'n eenpartystaat woon waar ampsdraers al hoe meer korrup en geheel en al magsdronk word. Iemand met so baie insig soos aartsbiskop Tutu moet ook besef dat die benadering wat hy voorstaan, júís die vermoë van opposisiepartye om 'n alternatiewe regering te word, ondermyn.

As aartsbiskop Tutu nie gaan stem nie, sal dit help om juis die omstandighede wat hy bekla, naamlik die agteruitgang na 'n eenpartystaat, te versterk en te verleng. Die aartsbiskop is 'n sterk kritikus van Mugabe se wanbestuur in Zimbabwe, en moet dit dus weet. Dit is dus bisar dat hy 'n benadering tot sy stemreg volg wat beslis sal meebring dat Suid-Afrika se politiek soos dié van Zimbabwe word.

Daar is natuurlik 'n baie duidelike beleidskeuse vir Suid-Afrika. Dié keuse is tussen die DA se oop geleentheidsgedrewe samelewing vir almal, en die ANC se geslote begunstigingsgedrewe samelewing vir sommige. Dit is 'n bondige opsomming van die beleidskeuses wat al eeue lank in ander lande op vordering of agteruitgang uitgeloop het. Duidelike beleidskeuses was vir Suid-Afrikaners nog nooit meer geredelik beskikbaar of duidelik nie.

Die DA hou die begrip van politieke opposisie reeds van 1994 aan die lewe; ons het die idees in die praktyk uitgevoer; en ons oorreed al hoe meer kiesers van die groot gevaar dat té veel mag in een sentrum gekonsentreer word, en van hoe belangrik dit is om 'n regerende party tot verantwoording te roep. Alles waaroor ons mense reeds meer as 'n dekade lank waarsku, is nou vir die meeste Suid-Afrikaners baie duidelik.

Voorts het ons ook teen alle verwagtinge in 'n verkiesing gewen, en het ons op plekke van belang 'n alternatiewe regering geword, onder meer in die Stad Kaapstad. Waar ons regeer, maak ons dag en nag werk daarvan om die ANC se erfenis van korrupsie en baantjies vir boeties om te keer, ons eie beleidsvoorstelle in werking te stel, en te bewys dat hulle 'n verskil in die lewens van al die mense maak (nie net in dié van die politici in die binnekring van die bewind nie). Ons maak stap vir stap vordering.

Joernaliste ken nie DA-beleid

Waarom sê ons dan nie meer oor die DA se beleid nie? Verlede maand het 'n joernalis van die Sunday Times my dít gevra. Ironies het sy koerant in dieselfde uitgawe wat die onderhoude met my en aartsbiskop Tutu bevat het, die antwoord gegee.
Die koerant se satiriese kolomskrywer, "Hogarth", het berig dat die Sunday Times 'n uitnodiging van die DA ontvang het na die bekendstelling van 'n video om ons beleid oor werkskepping toegankliker te maak vir mense wat nie ekonome is nie. Die kolomskrywer kondig toe ewe selfvoldaan aan dat die koerant besluit het om dié geleentheid mis te loop.

'n Paar dae ná die verskyning van "Hogarth" se kolom het die DA sy gewysigde onderwysbeleid in die Parlement bekend gemaak.
(Lees meer hieroor in jouwêreld)
Heel voorspelbaar het die Sunday Times geen verslaggewer daarheen gestuur nie. Natuurlik staan dit die Sunday Times vry om self te kies wat hy wil plaas of nie. Dit strek die koerant se reeds wankelende geloofwaardigheid egter geensins tot eer as hy kommentaar oor die gebrek aan beskikbare "alternatiewe" maak terwyl hy hardnekkig weier om na sulke alternatiewe te luister nie. Dis die soort ontkenning wat koerante gereeld voor politici se deur lê.

Die Sunday Times is nie die enigste skuldige nie. Dit is interessant dat baie politieke verslaggewers nie die moeite gedoen het om hulle met die DA se talle geredelik beskikbare beleidsdokumente oor elke uitdaging waarvoor Suid-Afrika staan, vertroud te maak nie. En dan is dit meestal húlle wat beweer dat daar geen lewensvatbare alternatief vir die ANC is nie.
Die rede is dat hul ontleding glad nie op beleid, waardes of beginsels gegrond is nie. Dit is geheel en al op die stereotipe wat die ANC die wêreld in stuur gegrond, naamlik dat die DA 'n party met 'n wit mens aan die hoof is, en net na wit mense se belange omsien. Hulle gaan dan van hierdie veronderstelling uit en besluit dat die DA geen lewensvatbare alternatief vir die ANC is nie, en dat dit dus 'n vermorsing van tyd is om ons beleid te lees of daaroor verslag te doen.

Tog is dit 'n feit dat ons leierskap meer uiteenlopend as dié van die ANC is. (Die ANC se leiers is feitlik almal net van een ras.) Trouens, in sy mees onlangse peiling oor politieke menings het prof. Lawrence Schlemmer die gevolgtrekking gemaak dat die DA die mees veelrassige party is wat daar nog ooit in Suid-Afrika was.
Die gedagte dat die party "wit" is omdat hy 'n wit leier het, is uitgedien. As ons dié logika op die politiek in die VSA sou moes toepas, sou die Demokrate 'n swart party genoem moes word, met g'n kat se kans op 'n oorwinning nie – bloot omdat Barack Obama hul presidentskandidaat is.

Dis ons doel om Suid-Afrika van die beperkinge van rassepolitiek te bevry en mense te oortuig dat hulle op grond van waardes, beleid en beginsels moet deelneem. As ons dit kan doen, sal Suid-Afrika 'n gekonsolideerde demokrasie word waarin belangrike beleidsaangeleenthede, in plaas van rasse-identiteit, die politieke debat dryf, en waarin die regerende party vreedsaam by die stembus uit die kussing gelig kan word omdat sy beleid die mense in die steek gelaat het.