|
Die onstuimige politieke gebeure van die
afgelope klompie weke was goed vir Suid-Afrika.
Mosiuoa Lekota se kritiek op die ANC in 'n ope
brief aan sy leiers, en die totstandkoming van
'n wegbreekfaksie, bewys dat ons nie die weg van
Robert Mugabe se Zimbabwe gaan inslaan nie. Al
hoe meer Suid-Afrikaners begin die magsmisbruik
van die heersende kliek in die ANC raaksien, en
sê basta!
Ewe belangrik is dat die rassebeswadderings wat
ons politieke gesprek só lank oorheers het,
skynbaar wyk. 'n Nuwe debat oor waardes, beleid
en beginsels tree na vore. Dit is 'n
bemoedigende teken, dat ons demokrasie volwasse
word, as 'n politikus van Lekota se aansien
openlik menings oor die ANC uitspreek wat die DA
lankal reeds huldig.
Maar vir elke silwer randjie is daar ook 'n
donker wolk. In 'n onderhoud met die Sunday
Times verlede maand het aartsbiskop Desmond Tutu
gesê dat as daar die volgende dag 'n verkiesing
sou wees, hy "ontevrede genoeg [met die ANC] sou
wees om nie te stem nie".
In dieselfde asem bekla hy die gebrek aan – na
sý mening – 'n "lewensvatbare opposisie . . .
een wat die indruk wek dat hy 'n alternatiewe
regering sou kon word".
'n Hoofartikel in dieselfde koerant steun Tutu
se mening en merk op: "Talle Suid-Afrikaners
stem met hom saam."
Ironies het dieselfde koerant 'n week tevore 'n
meningspeiling geplaas wat toon dat die ANC en
die DA onder mense met landlyn-telefone in
stedelike gebiede "nek aan nek" loop.
Klaarblyklik glo baie Suid-Afrikaners daar ís 'n
lewensvatbare alternatief vir die ANC, en is
hulle bereid om daarvoor te stem.
Roekelose kommentaar
Ek verskil nie dikwels met aartsbiskop Tutu nie,
maar ek moet sê dat sy kommentaar sowel
roekeloos as verkeerd was. Ek kan ook nie
saamstem met die mening wat in verskeie koerante
se hoofartikels uitgespreek is dat Tutu
leierskap getoon het deur aan te dui dat hy nie
gaan stem nie. As elke Suid-Afrikaner wat met
die ANC ontnugter is Tutu se mening oor stemmery
aanvaar, sal ons in 'n eenpartystaat woon waar
ampsdraers al hoe meer korrup en geheel en al
magsdronk word. Iemand met so baie insig soos
aartsbiskop Tutu moet ook besef dat die
benadering wat hy voorstaan, júís die vermoë van
opposisiepartye om 'n alternatiewe regering te
word, ondermyn.
As aartsbiskop Tutu nie gaan stem nie, sal dit
help om juis die omstandighede wat hy bekla,
naamlik die agteruitgang na 'n eenpartystaat, te
versterk en te verleng. Die aartsbiskop is 'n
sterk kritikus van Mugabe se wanbestuur in
Zimbabwe, en moet dit dus weet. Dit is dus bisar
dat hy 'n benadering tot sy stemreg volg wat
beslis sal meebring dat Suid-Afrika se politiek
soos dié van Zimbabwe word.
Daar is natuurlik 'n baie duidelike beleidskeuse
vir Suid-Afrika. Dié keuse is tussen die DA se
oop geleentheidsgedrewe samelewing vir almal, en
die ANC se geslote begunstigingsgedrewe
samelewing vir sommige. Dit is 'n bondige
opsomming van die beleidskeuses wat al eeue lank
in ander lande op vordering of agteruitgang
uitgeloop het. Duidelike beleidskeuses was vir
Suid-Afrikaners nog nooit meer geredelik
beskikbaar of duidelik nie.
Die DA hou die begrip van politieke opposisie
reeds van 1994 aan die lewe; ons het die idees
in die praktyk uitgevoer; en ons oorreed al hoe
meer kiesers van die groot gevaar dat té veel
mag in een sentrum gekonsentreer word, en van
hoe belangrik dit is om 'n regerende party tot
verantwoording te roep. Alles waaroor ons mense
reeds meer as 'n dekade lank waarsku, is nou vir
die meeste Suid-Afrikaners baie duidelik.
Voorts het ons ook teen alle verwagtinge in 'n
verkiesing gewen, en het ons op plekke van
belang 'n alternatiewe regering geword, onder
meer in die Stad Kaapstad. Waar ons regeer, maak
ons dag en nag werk daarvan om die ANC se
erfenis van korrupsie en baantjies vir boeties
om te keer, ons eie beleidsvoorstelle in werking
te stel, en te bewys dat hulle 'n verskil in die
lewens van al die mense maak (nie net in dié van
die politici in die binnekring van die bewind
nie). Ons maak stap vir stap vordering.
Joernaliste ken nie DA-beleid
Waarom sê ons dan nie meer oor die DA se beleid
nie? Verlede maand het 'n joernalis van die
Sunday Times my dít gevra. Ironies het sy
koerant in dieselfde uitgawe wat die onderhoude
met my en aartsbiskop Tutu bevat het, die
antwoord gegee.
Die koerant se satiriese kolomskrywer, "Hogarth",
het berig dat die Sunday Times 'n uitnodiging
van die DA ontvang het na die bekendstelling van
'n video om ons beleid oor werkskepping
toegankliker te maak vir mense wat nie ekonome
is nie. Die kolomskrywer kondig toe ewe
selfvoldaan aan dat die koerant besluit het om
dié geleentheid mis te loop.
'n Paar dae ná die verskyning van "Hogarth" se
kolom het die DA sy gewysigde onderwysbeleid in
die Parlement bekend gemaak.
(Lees meer
hieroor in jouwêreld)
Heel voorspelbaar het die Sunday Times geen
verslaggewer daarheen gestuur nie. Natuurlik
staan dit die Sunday Times vry om self te kies
wat hy wil plaas of nie. Dit strek die koerant
se reeds wankelende geloofwaardigheid egter
geensins tot eer as hy kommentaar oor die gebrek
aan beskikbare "alternatiewe" maak terwyl hy
hardnekkig weier om na sulke alternatiewe te
luister nie. Dis die soort ontkenning wat
koerante gereeld voor politici se deur lê.
Die Sunday Times is nie die enigste skuldige nie.
Dit is interessant dat baie politieke
verslaggewers nie die moeite gedoen het om hulle
met die DA se talle geredelik beskikbare
beleidsdokumente oor elke uitdaging waarvoor
Suid-Afrika staan, vertroud te maak nie. En dan
is dit meestal húlle wat beweer dat daar geen
lewensvatbare alternatief vir die ANC is nie.
Die rede is dat hul ontleding glad nie op beleid,
waardes of beginsels gegrond is nie. Dit is
geheel en al op die stereotipe wat die ANC die
wêreld in stuur gegrond, naamlik dat die DA 'n
party met 'n wit mens aan die hoof is, en net na
wit mense se belange omsien. Hulle gaan dan van
hierdie veronderstelling uit en besluit dat die
DA geen lewensvatbare alternatief vir die ANC is
nie, en dat dit dus 'n vermorsing van tyd is om
ons beleid te lees of daaroor verslag te doen.
Tog is dit 'n feit dat ons leierskap meer
uiteenlopend as dié van die ANC is. (Die ANC se
leiers is feitlik almal net van een ras.)
Trouens, in sy mees onlangse peiling oor
politieke menings het prof. Lawrence Schlemmer
die gevolgtrekking gemaak dat die DA die mees
veelrassige party is wat daar nog ooit in
Suid-Afrika was.
Die gedagte dat die party "wit" is omdat hy 'n
wit leier het, is uitgedien. As ons dié logika
op die politiek in die VSA sou moes toepas, sou
die Demokrate 'n swart party genoem moes word,
met g'n kat se kans op 'n oorwinning nie – bloot
omdat Barack Obama hul presidentskandidaat is.
Dis ons doel om Suid-Afrika van die beperkinge
van rassepolitiek te bevry en mense te oortuig
dat hulle op grond van waardes, beleid en
beginsels moet deelneem. As ons dit kan doen,
sal Suid-Afrika 'n gekonsolideerde demokrasie
word waarin belangrike beleidsaangeleenthede, in
plaas van rasse-identiteit, die politieke debat
dryf, en waarin die regerende party vreedsaam by
die stembus uit die kussing gelig kan word omdat
sy beleid die mense in die steek gelaat het.
|