OUTsurance
joupolitiek




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Oom Koos stop sy pyp

Oom Koos, diep-nadenkend, pyp in die hand, bring die nuutste skindernuus uit die politieke raadsale soos aangedra deur sy hoogs-geheime spioene.

Koop sokker-kaartjie; kry geen sokker-wedstryd

Oom Koos wil sy mede-landsburgers gelukwens met hul pragtige gebaar en bereidwilligheid om meer as R50 miljoen aan sokkerkaartjies te bestee, sonder dat hulle een van daardie kaartjies met ‘n oog gesien het.

Julle weet nie daarvan nie? Sien, dit het nou so gewerk: terwyl almal heerlik ge-vuvuzela en in die strate met hul geel hempies gejuig het oor die wonderlikste ding wat Suid-Afrika sedert die bikini kon tref, het munisipaliteite en staatsdepartemente hul hande so ongesiens diep in die geldkoffers gedruk om vir hulselwers en hulse familie en sommer ook vir die uitgebreide familie en al die meelopers en ander uiters belangrike kontakpersone sokkerkaartjies aan te skaf. Volgens Oom Koos se spioen, wat vermom as ‘n mikrofoon in die land se groot Vergadersaal homself geïnstalleer het, beloop dit meer as R50 miljoen. En wie het vir dié kaartjies betaal? Nie die groot kokkedore wat kaartjies-in-die-hand in bloulig-konvooie by die stadions opgedaag het nie. Nee my vriend. Jý het daarvoor betaal. Jý, die belastingbetaler. En jul Oom Koos stik sommer in sy pyp; namens julle.
Onse minister van finans, liewe Pravin Gordhan, het wel voor die tyd staatsdepartemente en ANC- munisipaliteite so liggies gewaarsku om tog maar eerder nie met die belastingbetaler se geld te gaan sokker-sokker nie. Maar nou ja; daarvan het sokkerballe gekom. En daar is al te heerlik kaartjies gekoop.

Die Bloemfonteinse munisipaliteit (Mangaung) is sommer voor in die koor en het R15 miljoen spandeer op kaartjies. Dit sluit in 10 000 kaartjies vir die wedstryde wat in die Rosestad gespeel is, asook kaartjies en reis en verblyf vir ander wedstryde op ander plekke. Die ANC se Jan van der Merwe was blykbaar hoogs ontsteld omdat die DA-raadslede nie hul geskenkpakkies in ontvangs wou neem nie. Hulle is sommer kleingeestig, het onse Jan uitgevaar.
En in Rustenburg het die Bojanala-munisipaliteit R475 000 aan kaartjies vir sy lojaliste bestee. Maar hierdie is kleingeld in vergelyking met wat staatsdepartemente bestee het om hul meelopers die sokkerkwas om die mond te smee. Oom Koos se informante het die volgende te vertelle oor die omvang van die koste van hierdie onregmatige vryetydbesteding aan sokkerkaartjies.
Die regeringskorporasie PetroSA (R12,5 miljoen); die departement van handel en nywerheid (R4,7 miljoen); die departement van toerisme (R919 000); Eskom (R12,5 miljoen); departement van energie (R1,4 miljoen); departement van kommunikasie (R5,2 miljoen); die SAUK (R3 miljoen).
En so gaan die lys aan en aan en aan en aan tot ‘n totaal van meer as R50 miljoen, maar Oom Koos het sy informant opdrag gee om dit net daar te stop, voordat ekke aan myse eie pyp verstik. Of ‘n sokkerbal-vloermoer gooi. 

Lyk vir Oom Koos of daar net een trein lekkerder as die Gautrain is – en dit is die sokker-soustrein! Steal it, it is here!

Ek wil ook ene hê!

So van die Gautrain gepraat; skaars het hierdie outjie sy eerste vinnige suisgeluide tussen Sandton en die Johannesburgse lughawe gegee, of die Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, Mxolisi Dukwana, spring kietsregop.
Hy soek ook ene! En tipies manlik moet syne groter en langer wees. Ja, want hy wil nou ‘n snelspoorlyn laat bou wat sommer deur die hele Vrystaat jaag: vanaf Sasolburg in die Noorde tot by die Gariepdam in die Suide, kondig hy toe met groot fanfare aan. En hy het klaar met ‘n Chinese spoorwegkonstruksie-maatskappy daaroor onderhandel, stel sy woordvoerder Oom Koos se spioen toe in kennis. Maar hy kon nie sê wie en watter begroting daarvoor gaan betaal nie . . .

Oom Koos is ‘n man wat baie kilometers elke maand op onse land se paaie deurbring. En hy weet in watter padse-gatse toestand die Vrystaatse paaie is. Sy A6 staan hoeka nou in die herstelwinkel na hy sy suspensie gebuig het in een moviese Vrystaatste slaggat. En Oom Koos weet ook dat die hele Vrystaat se treindiens tot stilstand gekom het. Maar Oom Koos onthou ook dat die Vrystaatse paaie en treinstelsel 15 jaar gelede honkie-dorries-perfek was en dat ander provinsies jaloers na die vlaktes gegluur het.

Nou is Oom Koos se raad aan die wyse LUR Dukwana: leer eers hoe om iets op te pas en te onderhou wat jy gratis en pasella en mahala gekry het, voordat jy iets anders gaan probeer bou. Tensy jy jou eie geld gaan gebruik.

Daar is ‘n put, ‘n bodemlose put, in Aucklandpark

Verlede jaar kla die SAUK steen en been hy kan nie sy uitgawes en die produksiemaatskappye wat sy programme vervaardig (omdat hy dit nie meer self kan doen nie) betaal nie. “Help, o help tog, liewe nasionale regering!” was die hulpkreet.
En die regering gryp vinnig R1,5 miljard uit die belastingbetaler se sak en pos dit Aucklandpark toe.
Maar wat Oom Koos nie verstaan nie, is die R3 miljoen wat die SAUK nou aan sokkerkaartjies vir sy grootbase bestee het nie. En dan kom fluister Oom Koos se geheime spioen, vermom as ‘n TV-kamera, van ‘n R1 miljoen projek waarmee die SAUK nou besig is. Blykbaar ‘n dokumentêre program oor vader Jacob-Regop-Zuma.

En ja, dié program moet gereed wees voor die munisipale verkiesings volgende jaar, was die opdrag. Nou wonder Oom Koos: hoekom? Feel it, see it, by repeat, by repeat, by repeat . . .

Vir oulaas

Die sokker-euforie is verby en Oom Koos se junior spioen, vermom as ‘n botteltjie baba-olie, kom hier aangesit met die volgende storie: ‘n Franse sokker-ondersteuner is platgeslaan (letterlik en figuurlik) deur sy span se vertoninkie. En om sy gemoed (en ander dinge) darem nou net weer bietjie op te kry, besluit hy om ‘n plek waar hogere dinge bedien word, te besoek. Want hoeka het hy mos nou al gehoor van die vele gewillige Suid-Afrikaanse meisies by hierdie plekke van ongekende vermaak. Maar die pobleem is, hy is blind en hy sukkel-sukkel toe so ‘n bietjie om sy hande op die regte plesierplekke van die meisie te kry.
Dit is toe wat sy sy hande vat en hom lei. “Feel it. It is here,” sê sy toe vir hom.  

En nou gaan Oom Koos homself eers oorgee aan sy pyp en sy Nederburg Baronne, want hy hoor hier klop nou al weer een van sy ander spioene aan die voordeur. Maar daarvan vertel ek jou volgende maand!

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?