Die
Demokratiese Alliansie het verlede maand sy nuwe onderwysbeleid bekend
gestel.
Dié beleid, met die titel "Berei
voor op sukses", wil onder meer 25 000 onderwysers van gehalte per jaar
skep.
Tydens
'n
media-inligtingsessie by die Parlement het Helen Zille,
die DA se leier, gesê dat die huidige onderwysstelsel misluk het,
hoofsaaklik omdat die klem nie op onderwys van gehalte val nie.
Daar is 'n
handjievol skole van wêreldgehalte, maar ook talle skole wat net
middelmatigheid, apatie en verwaarlosing laat voortleef.
"Suid-Afrika moet die nastrewing van uitnemendheid ook die middelpunt
van sy onderwysbeleid maak, en in die beleid wat
ons vandag bekend stel, doen ons talle voorstelle wat dit sal
bereik," het sy gesê.
"Ons het talle uitsonderlike onderwysers wat die salaris en erkenning
moet kry wat hulle verdien. Terselfdertyd kan ons nie meer 'n situasie
toelaat waar onderwysers onvoorbereid,
laat of glad nie vir klasse opdaag nie, of waar skoolhoofde in skooltye
met middagete uit is nie. Die DA se
voorstelle vir prestasiebestuur en prestasie-verwante salarisse sal dit
aanspreek," sê Zille.
George Boinamo, die DA se woordvoerder oor onderwys, sê die beleid het
dit ten doel om te verseker dat alle Suid-Afrikaanse kinders binne 15
jaar
skool op die vlak van internasionale norme geletterd en syfervaardig kan
verlaat.
Die plan sal vir elke skool 'n
kernminimum van hulpbronne waarborg. Stappe sal gedoen word, met
inbegrip van 'n verband tussen skoolopleiding en kindersteuntoelae, om
die skoolverlatingskoers te verminder. Dit sal ook verseker dat die
skoolvoedingskema leerders tot by matriek dek.
"Boonop moet die onderwysstelsel herstruktureer word sodat uitnemendheid
erkenning kry en gewaardeer word, en swak prestasie uitgeroei word."
Sterk stappe is nodig om skole wat glad nie werk nie, te konfronteer.
Onder meer sal die DA 'n enkeldoelige taakspan skep om nie-werkende
skole reg te ruk, 'n mentorprogram instel en prestasieteikens stel.
Daar sal sterk op die bevrediging van die behoeftes van leerders met spesiale behoeftes klem
gelê word.
Wat die befondsing van skoolopvoeding betref, sê hy die DA sal skole
sonder skoolgelde steun.
"Met die
toewysing van geld sal ons egter 'n formule toepas wat skole se
prestasies meet, sodat skole wat gedurig uitmuntende resultate oplewer,
'n aansporing kry om dit te bly doen. Om arm ouers meer keuses te gee, sal elke skool 'n minimum
persentasie van leerders wat nie skoolgelde betaal nie, moet aanvaar. 'n
Landswye beursskema sal geskep word om die mees akademies belowende 350
000 leerders uit arm gesinne die kans te gee om 'n beter skoolopvoeding
te geniet,"
sê Boinamo.
Desiree van der Walt, die DA se adjunk-woordvoerder oor onderwys, sê die
DA sal probeer verseker dat Suid-Afrika binne vyf jaar tot 'n bykomende
25 000 onderwysers per jaar toegang sal hê, en dat elke kind deur
gekwalifiseerde en toegewyde
onderwysers onderrig sal word.
"Ten einde die aantal onderwysers in opleiding te verhoog, sal ons met
universiteite saamwerk om satellietkampusse vir onderwyser-opleiding in
afgeleë gebiede te skep, en volle studiebeurse instel vir kandidate van
gehalte wat
beloof om twee jaar lank in bepaalde minderbevoorregte gebiede onderwys
te gee."
Dit is baie belangrik dat onderwysers hul vak behoorlik aan hul leerders
moet kan oordra, en alle onderwysers sal gestandaardiseerde
kennisbeoordelings in die vak wat hulle
onderrig, moet skryf.
Salarisverhogings en bevordering sal ook daarvan afhang of dié toetse
geslaag word.
Onderwysers
moet ook aan 'n stelsel
van gereelde individuele prestasiehersienings onderworpe wees. Dit is
iets wat in die meeste ander betrekkings as vanselfsprekend aanvaar
word.
"Prestasie en vaardighede sal 'n ewe aanvaarde deel van 'n onderwyser
se salarispakket word as vir enige ander beroep."
Ten einde die kundigheid van onderwysers met skaars vaardighede meer
breedweg te versprei, sal die DA die begrip van Meester-onderwysers
instel. Dié sal 'n bepaalde vak waarin hulle besondere kundigheid
het, by verskeie skole onderrig, sê sy.