|
Die Demokratiese Alliansie het verlede maand sy
nuwe onderwysbeleid bekend gestel.
Dié beleid, met die titel "Berei voor op sukses",
wil onder meer 25 000 onderwysers van gehalte
per jaar skep.
Tydens 'n media-inligtingsessie by die Parlement
het Helen Zille, die DA se leier, gesê dat die
huidige onderwysstelsel misluk het, hoofsaaklik
omdat die klem nie op onderwys van gehalte val
nie.
Daar is 'n handjievol skole van wêreldgehalte,
maar ook talle skole wat net middelmatigheid,
apatie en verwaarlosing laat voortleef.
"Suid-Afrika moet die nastrewing van
uitnemendheid ook die middelpunt van sy
onderwysbeleid maak, en in die beleid wat ons
vandag bekend stel, doen ons talle voorstelle
wat dit sal bereik," het sy gesê.
"Ons het talle uitsonderlike onderwysers wat die
salaris en erkenning moet kry wat hulle verdien.
Terselfdertyd kan ons nie meer 'n situasie
toelaat waar onderwysers onvoorbereid, laat of
glad nie vir klasse opdaag nie, of waar
skoolhoofde in skooltye met middagete uit is nie.
Die DA se voorstelle vir prestasiebestuur en
prestasie-verwante salarisse sal dit aanspreek,"
sê Zille.
George Boinamo, die DA se woordvoerder oor
onderwys, sê die beleid het dit ten doel om te
verseker dat alle Suid-Afrikaanse kinders binne
15 jaar skool op die vlak van internasionale
norme geletterd en syfervaardig kan verlaat.
Die plan sal vir elke skool 'n kernminimum van
hulpbronne waarborg. Stappe sal gedoen word, met
inbegrip van 'n verband tussen skoolopleiding en
kindersteuntoelae, om die skoolverlatingskoers
te verminder. Dit sal ook verseker dat die
skoolvoedingskema leerders tot by matriek dek.
"Boonop moet die onderwysstelsel herstruktureer
word sodat uitnemendheid erkenning kry en
gewaardeer word, en swak prestasie uitgeroei
word."
Sterk stappe is nodig om skole wat glad nie werk
nie, te konfronteer. Onder meer sal die DA 'n
enkeldoelige taakspan skep om nie-werkende skole
reg te ruk, 'n mentorprogram instel en
prestasieteikens stel.
Daar sal sterk op die bevrediging van die
behoeftes van leerders met spesiale behoeftes
klem gelê word.
Wat die befondsing van skoolopvoeding betref, sê
hy die DA sal skole sonder skoolgelde steun.
"Met die toewysing van geld sal ons egter 'n
formule toepas wat skole se prestasies meet,
sodat skole wat gedurig uitmuntende resultate
oplewer, 'n aansporing kry om dit te bly doen.
Om arm ouers meer keuses te gee, sal elke skool
'n minimum persentasie van leerders wat nie
skoolgelde betaal nie, moet aanvaar. 'n Landswye
beursskema sal geskep word om die mees akademies
belowende 350 000 leerders uit arm gesinne die
kans te gee om 'n beter skoolopvoeding te geniet,"
sê Boinamo.
Desiree van der Walt, die DA se
adjunk-woordvoerder oor onderwys, sê die DA sal
probeer verseker dat Suid-Afrika binne vyf jaar
tot 'n bykomende 25 000 onderwysers per jaar
toegang sal hê, en dat elke kind deur
gekwalifiseerde en toegewyde onderwysers
onderrig sal word.
"Ten einde die aantal onderwysers in opleiding
te verhoog, sal ons met universiteite saamwerk
om satellietkampusse vir onderwyser-opleiding in
afgeleë gebiede te skep, en volle studiebeurse
instel vir kandidate van gehalte wat beloof om
twee jaar lank in bepaalde minderbevoorregte
gebiede onderwys te gee."
Dit is baie belangrik dat onderwysers hul vak
behoorlik aan hul leerders moet kan oordra, en
alle onderwysers sal gestandaardiseerde
kennisbeoordelings in die vak wat hulle onderrig,
moet skryf.
Salarisverhogings en bevordering sal ook daarvan
afhang of dié toetse geslaag word.
Onderwysers moet ook aan 'n stelsel van gereelde
individuele prestasiehersienings onderworpe wees.
Dit is iets wat in die meeste ander betrekkings
as vanselfsprekend aanvaar word.
"Prestasie en vaardighede sal 'n ewe aanvaarde
deel van 'n onderwyser se salarispakket word as
vir enige ander beroep."
Ten einde die kundigheid van onderwysers met
skaars vaardighede meer breedweg te versprei,
sal die DA die begrip van Meester-onderwysers
instel. Dié sal 'n bepaalde vak waarin hulle
besondere kundigheid het, by verskeie skole
onderrig, sê sy.
|