In Kenia, waar Barack Obama se pa en oupa as
lede van 'n etniese minderheidsgroep, die Luo,
gebore is, vertel mense die volgende grappie: 'n
Luo staan 'n veel beter kans om President van
die Verenigde State te word as dié van Kenia.
Die grappie bedek 'n diep waarneming. In geslote
begunstigingsamelewings is dit ongehoord dat
mense buite die regerende kliek se
begunstigingsnetwerk – sy daardie netwerk deur
ras of etnisiteit of geloof of stand saamgesnoer
– die geleentheid kry om hul land te lei.
Dit is waarom dit vir my diep ironies was dat
Robert Mugabe vir Obama met sy oorwinning
gelukgewens het. Mugabe het sy land man-alleen
in 'n geslote begunstigingsamelewing verander
deur die regte van Ndebele-sprekers ('n
minderheid) en later Shona-sprekers (die
meerderheid) te beperk, deur die staatsmag vir
persoonlike gewin te misbruik, deur geleenthede
aan almal buite sy binnekring te ontsê, en deur
te weier om by die stembusse bes te gee.
Die Zimbabwiese diktator het Obama se oorwinning
deur 'n rasse-bril bekyk: vir hom was dit 'n
bevestiging van rasse-identiteit. Dit was egter
die teenoorgestelde. Dit was die triomf van 'n
oop geleentheidsamelewing wat Obama in staat
gestel het om hom bo rasse-versperrings te
verhef. Sy hele lewe lank het hy die geleenthede
wat daar in Amerika vir hom beskikbaar was,
besef en benut.
Dit is die les wat Jacob Zuma, die ANC se
president, ook ter harte moet neem wanneer hy
Obama se oorwinning loof. Te oordeel aan die
stellings wat Zuma self maak, asook dié van sy
gesin en die ANC, lyk dit asof die ware insigte
hulle ontgaan het. Hulle word nog ingeperk deur
rasse-denke, en kyk deur 'n rasse-bril na alles.
Hulle beskou Obama se oorwinning as 'n
rasse-oorwinning.
Hulle moet verstaan dat Obama se oorwinning nie
die oorwinning van enige rassegroep simboliseer
nie. Dit is die triomf van 'n samelewing wat
probeer verseker dat alle burgers ongeag die
omstandighede van hul geboorte die nodige
geleenthede het om verantwoordelikheid vir hul
eie lewens te neem en die beste te word wat
hulle kan wees.
Dít is die visie wat die DA aanspoor. Ons noem
dit die oop geleentheidsamelewing vir almal. Dit
staan reëlreg teenoor die ANC se filosofie van
'n geslote, begunstigingsamelewing vir sommiges.
Die sleutelkenmerke van die ANC se
beleidsbenadering (onder meer "kaderontplooiing"
en "verteenwoordigendheid") maak dit baie
moeilik vir iemand soos Obama om na vore te
tree, of selfs onmoontlik. Daarom is dit so
ironies dat die ANC Obama se oorwinning as sy
eie ingepalm het.
Die blote feit dat Obama ná die sogenaamde
voorverkiesings sy eie party se benoemde geword
het – en die magtige Clintons geklop het –
getuig van die oop, geleentheidsgedrewe proses
waardeur kandidate in Amerika verkies word. Dit
is 'n proses wat deursigtigheid waarborg en die
mindere kandidaat dieselfde kans as die wedders
se gunsteling gee. Dit gee kiesers 'n kans om
die kandidate deeglik te bekyk, in debatte na
hulle te luister, en hulle te beoordeel aan die
hand van die dinge wat saakmaak. Dit is waarom
miljoene wit en Spaanssprekende Amerikaners vir
Obama gestem het. Hulle het gereken hy is die
mees bevoegde en inspirerende kandidaat.
Alles wat die DA voortaan sal doen, sal daarop
gemik wees om die nie-rassige sentrum van die
politiek in Suid-Afrika te bou en ons demokrasie
te konsolideer. Die lesse van Obama se welslae
is van groot belang vir hierdie opwindende nuwe
fase in Suid-Afrika se politieke geskiedenis
terwyl die landskap hom herrangskik en partye op
grond van waardes, beginsels en beleid nuwe
gedaantes aanneem. Obama het Amerika met die
slagspreuk "Ja, ons kan!" om hom geskaar. Ons
kan ook. Trouens, ons moet, en ons sal!
|