Desember 2008
Jaargang 1 Uitgawe 5

 

 


  Lesse van Obama

joupolitiek
hoofinhoud
terug na joupolitiek
volgende artikel
vorige artikel

deur Helen Zille
                       
e-pos jouwêreld

 

Die lesse van Obama se welslae is van groot belang vir hierdie opwindende nuwe fase in Suid-Afrika se politieke geskiedenis terwyl die landskap hom herrangskik en partye op grond van waardes, beginsels en beleid nuwe gedaantes aanneem.

In Kenia, waar Barack Obama se pa en oupa as lede van 'n etniese minderheidsgroep, die Luo, gebore is, vertel mense die volgende grappie: 'n Luo staan 'n veel beter kans om President van die Verenigde State te word as dié van Kenia.
Die grappie bedek 'n diep waarneming. In geslote begunstigingsamelewings is dit ongehoord dat mense buite die regerende kliek se begunstigingsnetwerk – sy daardie netwerk deur ras of etnisiteit of geloof of stand saamgesnoer – die geleentheid kry om hul land te lei.

Dit is waarom dit vir my diep ironies was dat Robert Mugabe vir Obama met sy oorwinning gelukgewens het. Mugabe het sy land man-alleen in 'n geslote begunstigingsamelewing verander deur die regte van Ndebele-sprekers ('n minderheid) en later Shona-sprekers (die meerderheid) te beperk, deur die staatsmag vir persoonlike gewin te misbruik, deur geleenthede aan almal buite sy binnekring te ontsê, en deur te weier om by die stembusse bes te gee.
Die Zimbabwiese diktator het Obama se oorwinning deur 'n rasse-bril bekyk: vir hom was dit 'n bevestiging van rasse-identiteit. Dit was egter die teenoorgestelde. Dit was die triomf van 'n oop geleentheidsamelewing wat Obama in staat gestel het om hom bo rasse-versperrings te verhef. Sy hele lewe lank het hy die geleenthede wat daar in Amerika vir hom beskikbaar was, besef en benut.

Dit is die les wat Jacob Zuma, die ANC se president, ook ter harte moet neem wanneer hy Obama se oorwinning loof. Te oordeel aan die stellings wat Zuma self maak, asook dié van sy gesin en die ANC, lyk dit asof die ware insigte hulle ontgaan het. Hulle word nog ingeperk deur rasse-denke, en kyk deur 'n rasse-bril na alles. Hulle beskou Obama se oorwinning as 'n rasse-oorwinning.

Hulle moet verstaan dat Obama se oorwinning nie die oorwinning van enige rassegroep simboliseer nie. Dit is die triomf van 'n samelewing wat probeer verseker dat alle burgers ongeag die omstandighede van hul geboorte die nodige geleenthede het om verantwoordelikheid vir hul eie lewens te neem en die beste te word wat hulle kan wees.

Dít is die visie wat die DA aanspoor. Ons noem dit die oop geleentheidsamelewing vir almal. Dit staan reëlreg teenoor die ANC se filosofie van 'n geslote, begunstigingsamelewing vir sommiges. Die sleutelkenmerke van die ANC se beleidsbenadering (onder meer "kaderontplooiing" en "verteenwoordigendheid") maak dit baie moeilik vir iemand soos Obama om na vore te tree, of selfs onmoontlik. Daarom is dit so ironies dat die ANC Obama se oorwinning as sy eie ingepalm het.

Die blote feit dat Obama ná die sogenaamde voorverkiesings sy eie party se benoemde geword het – en die magtige Clintons geklop het – getuig van die oop, geleentheidsgedrewe proses waardeur kandidate in Amerika verkies word. Dit is 'n proses wat deursigtigheid waarborg en die mindere kandidaat dieselfde kans as die wedders se gunsteling gee. Dit gee kiesers 'n kans om die kandidate deeglik te bekyk, in debatte na hulle te luister, en hulle te beoordeel aan die hand van die dinge wat saakmaak. Dit is waarom miljoene wit en Spaanssprekende Amerikaners vir Obama gestem het. Hulle het gereken hy is die mees bevoegde en inspirerende kandidaat.

Alles wat die DA voortaan sal doen, sal daarop gemik wees om die nie-rassige sentrum van die politiek in Suid-Afrika te bou en ons demokrasie te konsolideer. Die lesse van Obama se welslae is van groot belang vir hierdie opwindende nuwe fase in Suid-Afrika se politieke geskiedenis terwyl die landskap hom herrangskik en partye op grond van waardes, beginsels en beleid nuwe gedaantes aanneem. Obama het Amerika met die slagspreuk "Ja, ons kan!" om hom geskaar. Ons kan ook. Trouens, ons moet, en ons sal!
 

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joupolitiek
volgende artikel
vorige artikel

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jougeskenke ] joukind ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ] tuisbladsy ]