joupolitiek

 

Verswakte markte ontbloot swartbemagtigingsflaters

 

Suid-Afrika benodig ware ekonomiese bemagtiging waar gemeenskappe geleer word om ekonomies selfstandig te raak en nie soos tans al meer afhanklik van die staat nie.

 

 

"Dit het haas tyd geword dat bemagtigingsfoefies om aan wetsvereistes te voldoen gestaak word," sê mnr. Jaco Mulder, VF Plus Hoofwoordvoerder oor Handel en Nywerheid.

 

Die huidige marktoestande het van bemagtigingstransaksies soos dié van SASOL 'n potensieel futiele oefening gemaak nadat die maatskappy se aandeelprys skerp gedaal het. 'n Skerp dalende mark soos wat verlede maand beleef is, het maatskappye soos Barloworld genoodsaak om sy transaksieprys afwaarts aan te pas omdat die finansiering teen huidige aandeelpryse onvolhoubaar geword het.

 

Bemagtigingspartye met 'n breër aandeelhouersbasis het meestal geen geld om tot 'n transaksie by te dra nie, wat dié tipe transaksies bemoeilik. Maatskappye moet swaarder op hul kredietgeriewe steun. Die markte kan wel weer styg, maar korttermynsuksesse is van die baan. Indien ekonomiese groei dus verder sou verlangsaam en maatskappy-dividende daal, sal bemagtigingsvennote hul skuld egter moeilik kan diens.

 

Suid-Afrika benodig ware ekonomiese bemagtiging waar gemeenskappe geleer word om ekonomies selfstandig te raak en nie soos tans al meer afhanklik van die staat nie.

 

Mulder het verder gesê dat hierdie tipe transaksies weereens slegs 'n klein groepie bevoordeel en dat gemeenskappe as sulks nie bemagtig word nie.