|
"Dit het haas tyd geword dat bemagtigingsfoefies
om aan wetsvereistes te voldoen gestaak word,"
sê mnr. Jaco Mulder, VF Plus Hoofwoordvoerder
oor Handel en Nywerheid.
Die huidige marktoestande het van
bemagtigingstransaksies soos dié van SASOL 'n
potensieel futiele oefening gemaak nadat die
maatskappy se aandeelprys skerp gedaal het. 'n
Skerp dalende mark soos wat verlede maand beleef
is, het maatskappye soos Barloworld genoodsaak
om sy transaksieprys afwaarts aan te pas omdat
die finansiering teen huidige aandeelpryse
onvolhoubaar geword het.
Bemagtigingspartye met 'n breër
aandeelhouersbasis het meestal geen geld om tot
'n transaksie by te dra nie, wat dié tipe
transaksies bemoeilik. Maatskappye moet swaarder
op hul kredietgeriewe steun. Die markte kan wel
weer styg, maar korttermynsuksesse is van die
baan. Indien ekonomiese groei dus verder sou
verlangsaam en maatskappy-dividende daal, sal
bemagtigingsvennote hul skuld egter moeilik kan
diens.
Suid-Afrika benodig ware ekonomiese bemagtiging
waar gemeenskappe geleer word om ekonomies
selfstandig te raak en nie soos tans al meer
afhanklik van die staat nie.
Mulder het verder gesê dat hierdie tipe
transaksies weereens slegs 'n klein groepie
bevoordeel en dat gemeenskappe as sulks nie
bemagtig word nie.
|