|
Verlede maand het konst. Hlanganani Nxumalo, 'n
BBP-beskermingsbeampte vir Meshack Radebe (die
LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling in KwaZulu-Natal)
'n skoot afgevuur en die band van 'n Mazda wat
te stadig padgegee het terwyl hy op die N3 na
Waterfall gejaag het om sy baas te gaan haal,
getref. Die Mazda se band was aan flarde: die
motor het voor aankomende verkeer ingery en
tromp-op met 'n bakkie gebots. In die chaos is
agt mense beseer.
Intussen het die bestuurder van die voertuig
skaars sy voet van die petrolpedaal afgehaal om
in sy truspieëltjie te kyk. Met die lepel diep
ingetrap, en sy blou lig al flitsend, het hy van
die ongelukstoneel af weggejaag.
Dis die mees onlangse voorbeeld van misdadige
gedrag onder die sogenaamde "bloulig-bullebakke"
- die BBP-beskermingseenhede wat voor en agter
voertuie wat uitvoerende beamptes na en van hul
openbare (en dikwels private) afsprake toe neem,
heen en weer jaag. In September is 'n 52-jarige
vrou van Cato Ridge ook deur 'n voertuig met
flitsende blou ligte van die pad afgedwing. Die
mense in daardie voertuig het haar tot stilstand
gedwing en toe aangerand.
Dit is suiwer magsmisbruik. Dit is kriminele
optrede. Dit is die duidelikste vergestalting
van 'n kultuur wat in die ANC posgevat het. Die
ANC, sy leiers en hul hele leërskare lyfwagte
glo hulle hoef g'n wet te gehoorsaam nie. Dié is
net op "ander mense" van toepassing. Dit is 'n
voorbeeld wat die ANC se president, Jacob Zuma,
stel. Byna elke keer dat hy sy mond oopmaak,
bewys hy sy minagting vir die Grondwet, maak nie
saak of hy oor tienerswangerskappe, verdagtes in
strafregsake of gebede op skool praat nie. Sy
houding spreek ook uit sy dade, onder meer sy
gebruik van voertuie.
Zuma is baie bekend vir die plesier wat die
uitspattige vertoon van mag en selfverheerliking
hom gee. Verlede maand het 'n koerant berig dat
hy tydens sy stemmewerwery in Limpopo in 'n
konvooi van 33 voertuie gery het. Al beklee Zuma
geen openbare pos nie, het 22 van dié voertuie
aan staats-wetstoepassingsagentskappe behoort,
en die hele kavalkade het oor meer as 'n
kilometer heen gestrek. Verkeersbeamptes het
verkeer in albei rigtings van die pad afgedwing,
kruispaaie langs die roete is afgesper sodat die
konvooi sonder belemmering kon voortjaag en
padblokkades is opgestel om ander motoriste te
stop.
Die staat bestee 'n fortuin aan BBP-beskerming:
in 'n antwoord op 'n Parlementęre vraag wat die
DA gestel het, word onthul dat dit R312 miljoen
per jaar kos om te sorg dat
BBP-beskermingsbeamptes in die veld bly.
Die enkele goeie ding wat uit die jongste
voorval met die ANC se kavalkades in die
Mugabe-styl gespruit het, is dat dit lyk asof
die howe die voet dwars begin sit. Toe konst.
Nxumalo op agt aanklagte van poging tot moord in
die Camperdown-landdroshof verskyn, het landdros
Thys Taljaard hom borgtog geweier. Die landdros
het tereg opgemerk: "Polisiebeamptes wat dink
hulle is bo die reg verhewe, is nie outomaties
op borgtog geregtig nie."
Om die bloulig-bullebakke te laat besef dat
hulle nie bo die reg verhewe is nie, stel die DA
voor dat 'n gedragskode bo en behalwe die
bestaande SAPD-gedragskode en SAPD-etiek-kode
vir die BBP-eenheid ontwikkel moet word. Onder
meer moet só 'n kode vereis dat BBP-SAPD-lede
nooit vinniger as die snelheidsperk mag ry nie,
behalwe as dit 'n werklike noodgeval is; dat
hulle geen ander padreëls mag verbreek nie; geen
ander motoriste op die pad mag intimideer of op
hoegenaamd enige manier dreig nie; en ook geen
vuurwapens in 'n bewegende voertuig mag
rondswaai nie.
|