ANC en Eskom se magsdeling nie goed vir demokrasie



Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend
Hoe meer die belastingbetaler moet opdok om Eskom van ondergang te red, hoe groter is die winste vir die ANC.

Sejamothopo MotauDie DA se skaduminister van energie, Sejamothopo Motau, voel dat die huidige sterk band wat daar tussen die ANC en Eskom bestaan, 'n bedreiging inhou vir demokrasie in Suid-Afrika.
Hoe meer die belastingbetaler moet opdok om Eskom van ondergang te red, hoe groter is die winste vir die regering, het Motau verduidelik.
Die skaduminister het verklaar dat die geweldige stygings in kragpryse wat Eskom vra, die ANC se beurs onregstreeks sal styf. Dit maak dus 'n bespotting van die Nasionale Energie-reguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se verhore waar die publiek insette in Eskom se aansoek om 'n tariefverhoging kan gee.

Tydens die openbare verhore het Motau verskeie aanbevelings gedoen, onder meer dat die ANC ontslae moet raak van sy aandeel in die maatskappy wat 'n kontrak gekry het vir aspekte van die aanbou van twee van Eskom se kragstasies. Hy sê dié belegging skep 'n duidelike samevloeiing van die party en die staat. Die ANC sal ten koste van die publiek baat by 'n transaksie wat bykans R6 miljard werd is.
Motau het verder gereageer op 'n erkenning deur Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, dat die party steeds 25% van Hitachi Power Africa besit, al het Mathews Phosa, die ANC se tesourier, verlede jaar belowe dat stappe gedoen sal word om van die party se belang ontslae te raak.
Motau sê Mantashe se bewering dat daar niks met die ANC se belang in die maatskappy verkeerd is nie, toon sy minagting vir die belange van 'n demokratiese samelewing en die grondwetlike beginsels van toerekenbaarheid en deursigtigheid.

Die skaduminister het krities gesê dat indien die ANC aandele besit in maatskappye wat dienste aan semi-staatsintellings lewer, daar geen aansporing vir die regering is om geld te spaar nie. Wanneer Suid-Afrikaners meer aan semi-staatsinstellings soos die SABC en Eskom betaal, neem die ANC se wins toe.
Motau voeg by dat die ANC hom op die oog af kwel oor die welsyn van diegene wat die ergste onder die verhoging van 35% in die prys van elektrisiteit gebuk gaan, naamlik gewone burgers en ondernemings. Tog lyk dit al hoe meer asof dit die ANC se ware prioriteit is om die beurs van die Luthuli-gebou te styf.

Hy lê die klem op die ongesonde verhouding tussen die staat en Eskom ten opsigte van belegging. Hy verwys na dokumente wat openbaar is, met besonderhede van onreëlmatighede in die Hitachi-tender met Eskom. Die volgende belangrike punte word aangespreek:

1. Hitachi Power Africa is laat in 2005 geskep, net voor die aanvang van die tenderproses vir Medupi in 2006. Chancellor House het 'n aandeel van 25% gehad.

2. Die Eskom-brief wat in 2008 uitgelek het, met die titel “Opsomming van die Medupi-tenderproses”, bewys dat die toekenning van die Medupi-ketelkontrak ter waarde van R20 miljard eerder aan die Alstom Streinmüller-konsortium as die Hitachi-konsortium toegeken moes gewees het.

3. Eskom het 'n vlootstrategie vir die tenderproses toegepas nadat die Medupi-tender afgehandel was. Dit beteken dat Hitachi nie meer met ander voorsieners moes meeding nie. Gevolglik is Hitachi se aandeelhouers – onder meer die ANC – vir elke kragstasie met steenkool as brandstof van meer inkomste verseker.

4. Die ANC se weiering om 'n openbare voorlegging aan Nersa te doen, laat 'n mens oor die deursigtigheid van en motief vir die prysverhoging twyfel.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joupolitiek
volgende artikel
vorige artikel

  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend