Manlike en vroulike brein in konflik
Om uit te vind hoe 'n vrou se kop werk is iets wat enige intelligente man behoort te doen om sy reis deur die lewe te vergemaklik. Daar bestaan egter net een haakplekkie: die manlike geslag word in die donker gehou oor die vroulike denkpatrone omdat ons vrouens self sulke vrot kenners is van ons eie warboel van gedagtes en emosies! Want ons weet mos ook nie aldag wat in ons eie koppe aangaan nie!
Daarom is ons maar powere onderwyseresse en ons manlike studente kou gereeld klippe omdat hulle gemengde boodskappe moet interpreteer. Miskien het dit dan nou tyd geraak dat ons ons manlike opvoedingstrategieë heroorweeg. As ons wil hê dat hulle ons beter moet verstaan, moet ons soos mans begin dink. Hierdeur sal ons vasstel hoe ons te werk moet gaan om die manne oor die fynere geslag se emosies en denkwyses te leer.
Eerstens moet jy as vrou besef dat die stellings wat jy maak, uit jou eie komplekse denke spruit. Dit maak heeltemal sin vir jou, maar vir hom kan dit dalk soos deurmekaar praatjies klink.
'n Amerikaanse komediant – kom ons noem hom sommer mnr. Slim – wys in sy vertonings die verskille tussen die manlike en vroulike brein uit.
Hy vertel 'n vrou se brein is soos 'n baie bekwame kantoordame wie se denke netjies in verskeie lêers geliasseer is. Vrouens beskik oor die gawe om op enige gegewe oomblik verskeie gedagtelêers uit hul kabinette te haal en al die inligting gelyk te verwerk. Dit is waarom vroue gelyktydig kan aandete kook, 7de Laan kyk, die kinders met huiswerk help en ook 'n gesprek met hul man kan voer.
'n Man se brein kan weer gesien word as 'n gebou met verskeie kamers en hy kan nooit in twee verskillende vertrekke op dieselfde tydstip wees nie. Jou man kan byvoorbeeld nie in die ‘rugbykamer’ en die ‘intelligente-gesprek-voer-met-my-vrou-kamer’ gelyktydig wees nie.
Deur jouself in jou man se skoene te plaas, sal jy besef dat jy nie afgeskeep hoef te voel wanneer hy rugby kyk en jou nie hoor wanneer jy met hom praat nie. 'n Man kan ook nie gelyktydig in die ‘braai-die-vleis-kamer en die ‘maak-'n-slaai-kamer’ wees nie. Het jy al ooit gehoor van 'n mannebraai waar daar slaai ook bedien was? Nee, so iets is amper ongehoord en die rede hiervoor is nie noodwendig omdat mans nie van slaai hou nie, maar eerder omdat dit baie moeilik is vir hulle om tussen die twee vertrekke in hulle breine rond te hardloop.
Mnr. Slim verduidelik ook dat daar 'n spesiale kamer bestaan in die man se brein wat die 'niks-kamer’ genoem word. Volgens Mnr. Slim is besoeke aan hierdie vertrek baie gewild – dit kry selfs meer aftrek as die rugbykamer! Wanneer 'n man in die 'niks-kamer’ vertoef, dink hy letterlik aan niks. Mnr. Slim erken self dat die 'niks-kamer’ vrouens teen die mure uitdryf, want hoe kan 'n man aan niks dink nie, terwyl jy as vrou nooit ophou dink oor enigiets nie. Ons vrouens moet probeer om nie die 'niks-kamer’ as 'n frustrasie te beskou nie, maar eerder as 'n tydperk waarin jou man kan ontspan en homself herlaai sodat hy later sy volle aandag aan jou, die kinders en sy werk kan gee. Ons dames kan selfs iets by die mans leer deur die 'niks-kamer’ in ons eie denkwyses toe te pas.
Deur heeltyd oor iets te tob en jouself te bekommer, is uitputtend en somtyds is dit net nodig om jouself vir 'n rukkie af te skakel. Dit mag dalk nie die probleem oplos nie, maar die wegbreektydjie na die 'niks-kamer’ sal maak dat jy met jou terugkeer met nuwe ywer 'n oplossing vir die probleem kan soek.
Op 'n meer ernstige noot dames: daar word mos gesê dat mans van Mars kom en vrouens van Venus, en dat ons twee verskillende tale praat wat kommunikasie tussen die geslagte soms moeilik maak. Daarom moet ons daagliks aan ons verhoudinge met mekaar werk en nooit ophou om met mekaar te gesels of mekaar te probeer verstaan nie. Onthou, gee altyd sonder om terug te verwag, stel hom altyd eerste in jou lewe en waardeer hom soos hy is. As hy 'n eerbare man is sal hy hierdie dinge drievuldig en met oorgawe aan jou teruggee!
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug najoumening volgende artikel vorige artikel |
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?

