Wat as die kerk jou verlaat?
In Windhoek is Danie Grobler, een van die vier, en sy ouers uit die NG Kerk weens besware wat 'n hoë ampsbekleër in 'n koerantbrief gelug het.
Dr. Jan Botha, voorsitter van die taakspan vir diversiteit van die NG-Kerk se Algemene Sinode, reageer hierop.
“Die NG Kerk het ons gefaal! sê die Reitz-4.”
Dit was die boodskap wat daardie Vrydag op koerantplakkate teen lamppale uitbasuin is. Vernederde en selfs desperate stemme van studente wat eenkant toe geskuif is. Die vier is sondaars, is hulle gebrandmerk. Wat was ter sprake? Onskuldige studentepret, miskien 'n dop of twee verder en almal lag te lekker saam. In oomblikke van waansin val die dice toe heeltemal verkeerd en 'n hoonlag weergalm wêreldwyd.
Rassisme, die misbruik van mag en selfs “onskuldige studentepret” soos hierdie is vernietigend. Dit is die afbreek en selfs verwoesting van verhoudings oor jare heen. In 'n oogwink kom net die sonde, verwerping, skaamte en swart monster na vore.
Soveel mense het seergekry, drome is verwoes.
Die klag teen die NG-Kerk bly aan die lamppale soos skandpale hang en ek wonder: Was daar dan níémand – 'n predikant, kerkraadslid, lidmaat – wat omgee nie? Stil bid, trane afvee of maar net 'n drukkie gee, iemand wat vol ontferming toekyk? Was daar meestal géén genade of omgee of teerheid nie? Kon hulle, die studente en werkers, so Godsverlate wees dat net die verwerping, seer en agterdog oorgebly het? Het die donker hulle so totaal oorweldig?
Iets van hulle verwerping en ontmensliking het my weer aangeraak. Hulle, ons broosheid, menslikheid en kwesbaarheid staan weer soos die donker nag voor hulle en ons. 'n Haan wat iewers kraai en smart kan alles vernietig of oorweldig.
In die mensdom se soeke na sin, geluk en 'n lewe in die son, lê die geheim van werklike menswees miskien opgesluit.
As die NG-Kerk dan wel gefaal het . . . goddank, dit is bloot die feilbare kerk.
Die kerk se mense – hulle, ons, ek en jy – is almal aandadig aan die verkeerd, sleg en donker. Daar staan immers geskryf: “Salig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word”. Of soos die Boodskap dit vertaal: “Gelukkig is almal wat hartseer is oor al die pyn en swaarkry in hierdie wêreld. God self sal hulle trane afdroog”.
Die vier, hul geliefdes en ons almal het hopelik 'n duur les geleer. Verkeerd is verkeerd. Dit kanselleer hoegenaamd nie die diepste menswees nie. In ons gebrokenheid besef elkeen miskien juis iets van ons eie kwesbaarheid. Die nag is gelukkig op sy swartste enkele oomblikke voordat die glans van die Son deurbreek om 'n nuwe dag aan te kondig.
Die meeste mense rondom die betrokkenes het hulle gefaal. Daar was nogtans in klein gebare en ondersteuning iets van die Sonlig. Iemand wat bid, worstel, huil en tog met sagte oë kyk.
In ons diepste gebrokenheid besef elkeen miskien juis iets van ons eie kwesbaarheid.
Ons almal is ook maar brose, begenadigde mense. Lesse is geleer wat heelmaak en versoen.
Hou julle koppe hoog, my alma mater op die reënboogkampus.
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug najoumening volgende artikel vorige artikel |
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?

