Doen 'n geselsgebed
Soms val 'n mens so in 'n roetine vas van geykte gebede opsê, dat dit later vir jou voel hiérdie woorde van jou kom nou glad nie naby God se ore uit nie. Het dit dan nie miskien tyd geraak dat ons sommer net stil raak binne onsself en dan hardop met God begin gesels, sonder om hom te wil beïndruk nie?
Hierdie is een van my onlangse gesprekke met God:
Môre Heilige Gees! (“Hallo Heilige Gees” klink darem net te respekloos.)
Hoe gaan dit vanoggend? En watse interessante dinge het U als vannag gedoen? (Ek maak myself kruisbeen tuis op die bank in die geelwarm sonnetjie.)
Was daar iewers 'n kunstenaar wat wakker geword het met nuwe inspirasie vir sy volgende skildery? Kon U 'n prokureur vars perspektief op sy moeilike saak gee? Sjoe, U is seker moeg na elke nag? Is U dankbaar toe die dag uiteindelik aanbreek? Maar dan is dit seker ook nie asof 'n dag rustiger as die nag kan wees nie? Wag, U kan mos nie moeg raak nie.
Wow, wat 'n verligting!
Ek loof en prys U opnuut daarvoor, en sommer ook vir die kunstenaar se inspirasie en die prokureur se perspektief. Dankie dat U so mooi en lekker sorg! (Ek sug, met 'n glimlag.)
Het baie mense verlede nag met U geworstel? (My glimlag verdwyn.) Die afgelope maande is daar seker meer sulkes as vóór die resessie. Ag Here, help hulle asseblief uit! Elkeen van hulle – daar’s baie. Maar Here, nie net dié wat finansiële uitdagings in die gesig staar nie, maar ook die wat om ander redes met U worstel: veeleisende verhoudingsprobleme, onmoontlike lewensbesluite. Húlle is seker erg moeg vanoggend! Haal asseblief minstens die rooi uit hul oë uit, as U dit wil.
As 'n mens beter lyk in die spieel as wat jy verwag, voel jy sommer al klaar beter. U verstaan mos, nè?
En gee dat dit vandag nie te veel sal brand by die werk nie. En Here, herinner ons almal asseblief van U sorg, nabyheid, liefde en wysheid! Dankie, Heilige Gees!
Sê my 'n bietjie: Hoe lyk dinge vandag by die Unitas-hospitaal? Oe, ek hoop daar’s nuwe babas in gelukkige gesinne in-gebore laasnag! Here, hou asseblief elkeen van hulle spesiaal sommer báie styf vas – en dankie vir elke liewe gesin met so 'n oulike nuwe asempie.
Maar Here, die babas wat sonder só 'n vooruitsig die wêreld ingekom het: seën hulle asseblief spesiaal met die krag en die sterkte wat hulle so nodig gaan hê in hierdie lewe. Help asseblief ook hul ma’s om hulle aan U toe te wy. Heilige Gees, oortuig hulle en maak hulle ontvanklik vir U stem!
Heilige Gees, hoe gaan dit deesdae in daai hardkoppige vriendin van my se hart? Het dit al begin woel daarbinne of glo sy nog steeds vas U bestaan nie? Laat weet my asseblief duidelik as ek iets moet doen of sê om haar te help oortuig van die waarheid!
En ekke, Here? Waarheen is U oppad met my, met al die veranderinge in my lewe deesdae? Wys my die pad wat U wil hê ek moet loop Pappa, want ek wil geen ander rigting loop nie. Maar U weet ek is soms ook maar dom. Wys my asseblief die pad ékstra duidelik aan. (Ek voel 'n rooiheid my wange bekruip.)
En vergewe my asseblief omdat ek gisteraand so kortaf was met my man. Dit was nie nodig nie, ek’s jammer Pappa.
Wat nog, Heilige Gees, Pappa? (Ek probeer hard om te dink of daar nog iets is wat in my hart lê om oor te gesels.) Wat gaan ons vandag als doen? Wat hou U planne vir my als in? Ek kan nie wag om hier op te staan en te begin regmaak daarvoor nie! (Dis nou as ek kán opstaan – my enkels is al seer gesit.)
Nou gaan ek die Bybel lees (ek tel my bene van die bank af en sit soos my ma my geleer het), maar U moet asseblief my gedagtes aan die hand vat en woord vir woord lei.
Ek luister Here . . . dankie God en Heilige Gees.
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug najoumening volgende artikel vorige artikel |
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?

