WIE IS ONS? | GRATIS NUUSBRIEF | MEDEWERKERS | ADVERTEER
jou gesinstydskrif – maandeliks, gratis en wêreldwyd

Die wonderlikste verandering
Anastasia Bester

deur Anastasia Bester




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend







Om 'n ma te word, verander jou hele lewe. Op meer maniere as wat jy ooit aanvanklik sou vermoed.

Ek en my dogter sit een middag in 'n restaurant oor middagete en kuier toe sy terloops noem dat sy en haar man ernstig probeer om met 'n gesin te begin.
Grappenderwys vra sy toe: “Dink ma ek moet 'n baba hê?”
“Dit sal jou lewe verander,” antwoord ek so neutraal as moontlik.
“Ek weet!” antwoord sy. “Niks meer inslaap oor naweke nie, geen op-die-ingewing-van-die-oomblik vakansies nie . . .”
Maar dit is nie wat ek bedoel nie. Glad nie.

Ek kyk na haar en wonder hoe ek dit vir haar gaan sê, want ek wil haar vertel van dit wat sy nooit in boeke of by die voorgeboorte-klas sal leer nie. Ek wil vir haar sê dat die fisieke wonde van die geboorteproses sal genees, maar om 'n ma te word gaan haar met emosionele wonde so rou laat, dat dit haar, vir die res van haar lewe, kwesbaar sal laat.
Ek wil haar waarsku dat sy nooit weer 'n koerant sal lees sonder om haarself af te vra “wat as dit my kind was” nie.
Ek wil haar waarsku dat elke vliegramp en elke huis wat brand vir ewig by haar gaan spook. Dat wanneer sy foto’s van ondervoede kinders sien, sy altyd sal wonder of daar iets wreder kan wees as om jou kind só te moet sien sterf.
Ek kyk na haar pragtige versorgde naels en haar stylvolle en modieuse klere om haar perfekte figuur. En ek dink: ongeag hoe gesofistikeerd sy vandag is, om 'n ma te word gaan haar reduseer tot die vlak van 'n ma-beer wat haar kleintjie beskerm. Dat daardie dringende nooduitroep van haar kind sal veroorsaak dat sy haar beste kristalglase sal neergooi sonder 'n oomblik se aarsel.

Ek voel ek moet haar waarsku dat ongeag al die jare wat sy in haar loopbaan as onderwyseres belê het, sy ontspoor gaan word deur die ma-wees-proses. Ten spyte van goeie kindersorg of 'n kleuterskool, sal sy eendag in haar klaskamer of in 'n personeelvergadering sit en dink aan haar baba se soete geur. Dan sal sy al haar dissipline moet gebruik om te keer dat sy nie net daar haar goed oppak en huis toe jaag om by haar baba te wees nie.
Hoe 'n goeie onderwyseres sy ookal mag wees, sy sal haarself altyd in twyfel trek in haar rol as ma.

Terwyl ek na my pragtige dogter kyk, wil ek haar verseker dat sy met tyd die ekstra kilogramme van swangerskap sal verloor, maar dat sy nooit weer dieselfde oor haarself sal voel nie. Dat haar lewe, ongeag hoe belangrik dit nou blyk te wees, van minder waarde sal wees wanneer sy eers ma is. Dat sy dit alles in 'n oomblik sal opgee om haar telgie se onthalwe.
Maar dat sy dan ook sal begin hoop op meer lewensjare – nie om haar eie drome te bewaarheid nie, maar om haar kind te mag sien sy drome bereik.
Ek wil hê sy moet weet dat daardie keisersnee-letsel en al die rekmerkies later medaljes van eer sal word.
Ek wil hê sy moet weet dat haar verhouding met haar man sal verander.
Ek wil hê sy moet weet hoeveel meer lief jy vir 'n man raak wat jul baba in sy groot hande hou en koergeluidjies vir die kleinding maak. Hoe jy van vooraf lief vir hom word om redes wat niks met romanse te doen het nie.
Ek wil my kind vertel dat sy skielik 'n noue band gaan voel met ander vroue deur die geskiedenis, wat oorloë probeer stop en teen dronkbestuurders betoog het.
Ek hoop sy sal eendag verstaan waarom ek, wat eintlik so rasioneel van geaardheid is, so radikaal irrasioneel word waar dit my kinders se behoeftes raak.
Ek wil daardie genot met haar deel wanneer jy sien hoe jou baba die sagte pels van 'n kat of hond vir die eerste keer voel en daardie absolute uitbundigheid hoe jou kind leer om fiets te ry.

Dit is alles waaraan ek gesit en dink het toe my dogter oor middagete vra of ek dink sy moet swanger word.
Haar vraende oë ruk my tot die besef dat ek trane in my oë het.
“Jy sal dit nooit berou nie,” sê ek dan uiteindelik.
Ek reik oor die tafel, druk my kind se hand en stuur 'n stil gebedjie na Bo. Vir haar. En vir my. En vir al die sterflike, feilbare ma's wat struikel en val en hul weg vind deur hierdie wonderlike roeping van ma-wees.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke |
gratis nuusbrief | medewerkers | adverteer | wie is ons?

Kopiereg © 2008-2010