|
Die navorser Rolf Smith het bevind dat die
gemiddelde volwassene slegs ses vrae per dag vra,
teenoor die gemiddelde kind se 125 vrae per dag.
Om vrae te vra is een van die belangrikste
maniere van leer – dit help jou om sin te maak
van jou lewe. Kitsoplossings en maklike
antwoorde neem die verwondering van geloof en
wonderwerke weg en maak jou lewe leeg en sonder
hoop.
Talle vrae word al eeue lank oor Kersfees gevra,
tog bly die verwondering en misterie steeds daar!
Ferdinand Deist vat dit só raak in sy boek,
Tussen angs en sekerheid: Die moderne mens
is daagliks so bewus van die groot afwesigheid
in sy lewe en sy bestaan. In die lig hiervan sê
hy dat ons steeds gereeld gesprekke voer en vrae
vra. Ons gebede en geloofsbelewing is 'n gesprek
oor die leegheid wat ons in ons lewens voel. Tog
het die verwondering en misterie oor God se krag
vervaag of selfs verdwyn.
Ons denke oor en ons belewing van God het te eng
en analities geword. Daar bestaan nie meer
ruimte vir verwondering en misterie nie. Ons kan
nie meer droom en voluit lewe nie, omdat ons
bang en onseker geword het. Ons kan dus ook nie
meer wonder nie, omdat ons skrik vir ons
gedagtes. So raak die geheim van 'n sinvolle
lewe en die geheim, die misterie van God, net 'n
vae droom of moontlikheid!
Kersfees is juis 'n tyd van vrae vra en in
gesprek tree met die Lewende God. Dit is juis 'n
tyd om ons vir die aanvoeling en belewing van
die wonderlike, onbegryplike en misterieuse oop
te stel.
Dit is teen dié agtergrond dat Job in Job 42: 2
en 5 die volgende bely na al sy worsteling en
vrae: "Nou weet ek dat U tot alles instaat is en
dat U kan uitvoer wat U besluit". Die belydenis
kom na sy intieme en aanhoudende geworstel met
God. Sy kop hét geraas! Maar in die worsteling,
met die vrae wat hy vra, breek die lig deur. Dit
is hoekom hy in vers 5 in verwondering kan
uitroep: "Tot nou toe het ek net gehoor wat
mense van U sê, maar nou het ek U self gesien .
. ." Nou wéét ek beter, ten spyte van 'n kop wat
raas, want ek het God werklik beleef.
Verwondering leef in hom.
In Lukas 2:28-32 beleef Simeon ook iets van die
vrae en ongelooflike verwondering. Hy het die
Kindjie in sy arms geneem en God geprys: "Here,
laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord,
omdat my oë u verlossing gesien het wat U gereed
gemaak het voor die oë van al die volke . . .
Jesus se ouers was in verwondering oor die dinge
wat van Hom gesê is." Ja, verwondering is
waarmee ons hopelik ook weer in die Kersgety
vervul sal word. Verwondering in ons eie konteks
en diversiteit. Verwondering in ons eie
worsteling, met al ons vrae en vertwyfeling.
Chrysostomus, 'n vroeë Christelike prediker, het
op 20 Desember 386 n.C. gesê dat die viering van
Kersfees so 'n belangrike viering is. As
Christus nie in die vlees gebore is (Kersfees)
nie, sou hy nie gedoop gewees het (Epifanie) en
ook gekruisig gewees het (Paasfees) en sy Gees
vanuit die hemel gestuur het (Pinkster) nie. Dit
bevestig dat ons vandag verwonderd en opgewonde
kan raak oor die Grote, ja soms "Afwesige" God
se voortdurende betrokkenheid by ons as klein
mensies, in 'n deurmekaar wêreld.
As ons iets hiervan beleef in dié tyd weet ons,
ons verwondering kan en moet ook 'n verskil maak.
Dan kan ons ten spyte van ons vrae en worsteling
sagte oë hê wat 'n wêreld in sy nood raaksien.
En ore hê wat oop is en aktief luister. 'n Mond
hê wat seën en aanmoedig. Helpende hande hê wat
ondersteun en dra en voete wat tree vir tree
saam met ander 'n pad loop.
Vrae ís beslis 'n belangrike manier van leer!
Kom ons sing saam met Jannie du Toit hierdie
Kersfees as 'n tyd van verwondering en met 'n
leerbare gees: "Kersfees kom, Kersfees kom – gee
aan God die eer. Skenk ons 'n helder
Somerkersfees in hierdie land o Heer." |