My pot se deksel

Verseker jou salaristjek
Helen Ueckermann

deur Helen Ueckermann




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Om vandag jou werk te behou, verg meer as om net elke oggend betyds op kantoor te wees – jy moet jouself ook onmisbaar maak!

Niemand is immuun teen die uitwerking van die huidige internasionale ekonomiese krisis nie. Daagliks verloor duisende mense hul werk, terwyl diégene wat nog aan die einde van die maand op 'n salaristjek kan reken, sal moet uithaal en wys om hul werk te behou.
Suid-Afrika spring die uitwerking van die internasionale ekonomiese krisis nie vry nie, waarsku mnr. André Venter, woordvoerder van die United Associations of South Africa (UASA).
“Ons beleef 'n tydperk wat telkemale vergelyk word met die Groot Depressie van die jare twintig van die vorige eeu,” sê hy.

UASA se 2009 Suid-Afrikaanse Indiensnemingsverslag, wat saamgestel is deur die ekonoom Mike Schüssler, het aanvanklik getoon dat meer as 300 000 mense verlede jaar hul werk in Suid-Afrika sou kon verloor. Maar uiteindelik het 870 000 mense hul werk verloor. Om die waarheid te sê, Suid-Afrika se werkloosheidsyfer is op twee na die hoogste ter wêreld.
Venter sê talle sakeondernemings voel die pyn soos wat verbruikers hul beursies styf toeknyp in 'n poging om self die ekonomiese krisis te deurstaan.

Maar waar laat dit jou as werknemer?

“Al dié syfers maak dit duidelik dat werknemers hulself onmisbaar moet maak vir hul werkgewers sodat hulle so lank as moontlik, en hopelik permanent, in hul poste kan aanbly,” is Venter se advies.
Die outeur Henry Morgan, skrywer van die boek Between Jobs, The Retrenched Person’s Handbook, sê as maatskappye nie meer wins maak nie, hulle geen ander keuse het as om koste te verminder nie. En een van die makliker maniere om dit te doen, is om personeel te verminder.
“Om te voorkom dat jy die slagoffer van aflegging word, moet jy jouself meer waardevol vir jou werkgewer maak. Jou baas moet twee keer dink voor hy besluit om jou te laat gaan,” sê Morgan.
“As werknemer is dit egter jou verantwoordelikheid om pro-aktief op te tree, beheer oor jou lewe te neem, relevant te bly en aan die voorpunt van gebeure te wees.”

Hy stel die volgende voor:                                          
- Wees bereid om deurlopend nuwe vaardighede aan te leer en jouself te verbeter. Stel vas watter vaardighede jy nodig het om jou werk beter te kan doen. Moenie wag dat jou werk jou stuur vir verdere opleiding nie, gaan vra self as jy voel jy het 'n behoefte daaraan.
- Die wêreld verander gedurig en dit is jou verantwoordelikheid om op hoogte van daardie veranderings te bly en jou vaardighede daarby aan te pas. So bly jy ook bemarkbaar.
- Dink aan maniere waarop jy waarde tot jou werk kan toevoeg. Kan jy meer werk verrig in minder tyd? Kan jy dink aan maniere waarop die maatskappy geld kan spaar of vermorsing of skade kan verminder? Hoe kan jy jou eie werk en dié van kollegas vergemaklik?
- Wees bereid om die eksta myl te stap en om meer te doen as ander. Stel jouself beskikbaar om na-ure te werk as dit nodig is.
- Hou op kla! As sake nie glad verloop nie, soek eerder 'n manier om die probleem op te los. Neem die leiding.
- Weet hoe jou werk verband hou met die doelwitte van die maatskappy. Presies watter rol speel jy in die proses? Leer meer oor die nywerheid waarin jy werksaam is, die klante, die tegnologie en die veranderings wat in die toekoms kan kom. Raak betrokke.

Venter sê om 'n werk te hê is 'n voorreg, nie 'n reg nie.
“Niemand skuld jou 'n werk nie. Neem verantwoordelikheid vir jou eie toekoms, tree nou op. Moenie wag tot jou naam op die lys verskyn van mense wat afgelê gaan word nie.”

Die boek Between Jobs, The Retrenched Person’s Handbook, is geskryf deur Henry Morgan en gepubliseer deur Steve Hoffman Publikasies.
Kontak hulle by 083 653 8025.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend