Januarie 2009
Jaargang 1 Uitgawe 6

 

 


   Deur God verlaat

joumenswees
hoofinhoud
terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel


deur
Tilana Bester
 

Die Here het van jou vergeet, voel dit, en 'n gevoel van verlatenheid sak oor jou neer – wat nou?

 


(Foto: http://www.sxc.hu/)

Voel dit vir jou ook soms of God ver is? Die een dag is Hy nog hier naby aan jou waar jy Sy stem kan hoor en bewus is van Sy teenwoordigheid, maar die volgende dag wonder jy skielik of iemand 'n prop uitgetrek het.
Hierdie is seker 'n onderwerp waarmee enige Christen homself maklik kan vereenselwig – 'n skielike gevoel van verlatenheid. Daardie dag wanneer dit skielik voel of jou geestelike prop net uitgetrek is – wanneer jy voel of jy niks meer het om te gee of te bied nie.
Dit is 'n dag wat onverwags kom . . .


Jes. 49:14 "Die Here het my verlaat, die Here het my vergeet."

En dit tref almal – 'n gewone Christen soos ek en jy, maar ook vir pastore en predikante; selfs grotes soos Joyce Meyer, Angus Buchan en vele ander. 
Maar ons het ook hiérdie woestyntye in ons lewens nodig. Ons is juis in hiérdie tyd nie alleen en verlore nie. Dalk is dit so deur God beskik?

Markus 1:11-13a "Daar was ook 'n stem uit die hemel: 'Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.' Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, waar Hy veertig dae lank gebly en deur die Satan versoek is."

En soos wat dit met Jesus was, laat die duiwel ons ook nie alleen nie. Hy versoek ons met allerhande leuens. Hy laat ons verlore voel – Godverlate. Daarom dat jy moet vasstaan in die kennis wat jy het. Om 'n kind van God te wees, is 'n diepe wete en nie 'n gevoel nie. Jy moet jouself herinner aan God se beloftes, sy alomteenwoordigheid en sy liefde vir jou. Jy is nooit alleen nie – al voel dit so.

Jes. 41:10 "Moenie bang wees nie, Ek is by jou; moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou."

Ek dink God neem ons soms na die woestyn omdat Hy vir ons wil sê: "Stop my kind! Jy is te besig! Raak rustig. Word stil. Kom soek my aangesig en teenwoordigheid! Ek verlang na jou. Jy is besig met goeie werk, maar nie met dit wat ek wil hê jy moet doen nie."

Nou wonder ek: hoekom sal God dit nodig ag om ons weg te voer na die woestyn? Is dit dalk omdat . . . :
1. ons so besig is met dinge van die Here, dat ons ons tye mét Hóm afskeep? 
2. ons nie besig is met dit wat God se plan vir ons is nie? God het 'n plan en doel met elkeen van ons – 'n plan wat inskakel by Sy groter plan – en as ons nie Sy pad loop nie, is dit tyd vir Hom om ons te onttrek. 
3. God vir ons groter dinge in gedagte het en ons wil voorberei. Ester, Johannes, Moses en selfs Jesus is voorbeelde van persone wat woestyntye beleef en deur God voorberei is op groter planne wat Hy vir hulle gehad het.

Ps 37:7 "Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou."

Wanneer jy dus voel of jou geestelike prop uitgetrek is, weet dat God besig is met jou. Gebruik dié tyd vir selfondersoek. Doen 'n voorraadopname van jou geestelike lewe: ondersoek jou eie motiewe, rigting en doel in die lewe. Vra jouself weer: "Wat is belangrik?" en maak seker dat God die middelpunt van alles is. Stel jouself onvoorwaardelik tot God se beskikking en maak seker dat jy in tune met Hom is.

Onthou ook: Jy mag dalk so voel omdat jy van God weggedraai en weggestap het. Draai dan om en stap terug na Hom wat jou met ope arms sal inwag – Hy is nog net daar waar jy Hom gelos het!
 

Gebed:

Here Jesus, ons wil doen wat U behaag. Ons wil besig wees met die regte dinge; dit wat inpas by U planne. Wanneer ons voel of ons leeg en verlore is, herinner ons dat U besig is met ons; trek ons nader teen U bors sodat ons veilig kan voel en weet dat U ons net weer in U teenwoordigheid wil bring en herlaai met U Gees en krag vir die werk wat U vir ons in gedagte het. Dankie dat U ons so liefhet dat U die naam van elke persoon op U handpalms graveer het – daar waar U nie van ons kan vergeet nie. Ons loof U vir wie U is.

In Jesus Naam, Amen.
 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jougeskenke ] joukind ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

 

 




 

 
 



Lees ons ander
uitgawes
2008
Augustus
September
Oktober
November
Desember
2009
Januarie
Februarie