April 2009
Jaargang 1 Uitgawe 9

 

   Geldloos, vakansieloos en selfbeeldloos

joumenswees
hoofinhoud
terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel



Die Paasvakansie is tradisioneel die tweede grootste vakansie op Suid-Afrikaners se kalender, maar weens die knypende ekonomie sal baie dié maand as gevolg van finansiële redes hul lank-beplande vakansie moet kanselleer. Dit kan egter ernstige familie-spanning veroorsaak, en 'n uiters negatiewe uitwerking op jou selfbeeld hê indien dit nie reg hanteer word nie.  

Morné Gouws (17) is woedend: hy kners op sy tande en staar dikmond by die venster uit.
"Ag, maak net wat julle wil!" spoeg hy dit uit toe sy pa hom vra of hy enige alternatiewe voorstelle vir die April-vakansie het. "Ek gee nie 'n hel om nie! Alles is in elk geval nou bederf!"
Hy storm kamer toe – die klap van die deur weergalm deur die huis.
Sy pa sê niks: met geboë skouers bly hy sit.
Johan (46) het dié middag ná werk sy gesin byeengeroep met die skoknuus: die Paasvakansie by die see waaraan hulle so lank beplan het, is van die baan. Weens finansiële redes.
Johan werk vir 'n versekeringsmakelaar in Roodepoort. Hulle het reeds vir 'n geruime tyd besef dit gaan nie meer so goed in die bedryf nie, maar die ware toedrag van sake het hulle eers dié oggend gehoor.
Die bestuurder was saaklik: baie kliënte het die afgelope tyd hul versekering gekanselleer, en nuwe kliënte het met 45% afgeneem in vergelyking met twee jaar gelede.
"Julle Maart-salarisse sal eers teen 10 April oorbetaal kan word," het hy gesê. Verder gaan die maatskappy teen die einde van April die personeel met 30% sny. As ek vir julle raad kan gee: begin maar soek vir ander werk."
Met geen onmiddellike salaris én met die swaard van aflegging oor sy kop, moes Johan hul gesinsvakansie na die see kanselleer.
Hy klop aan Morné se kamerdeur – hulle móét dié saak deurpraat. Maar sy kloppe word deur die klipharde musiek uitgewis en die deur bly gesluit.

Kry perspektief

Daar is baie meer mense in Johan se situasie as wat ons besef, sê Leanne Naidoo, 'n kliniese sielkundige van die Break Through Today-praktyk in Port-Elizabeth.
"Mense moet dus besef dat hulle nie die enigste is wie se vakansie deur 'n finansiële krisis in die wiele gery is nie."
Haar advies is om eers self perspektief oor die situasie te kry voordat jy met jou gesin daaroor praat.
"Moenie in 'n emosionele toestand en met selfverwyte na jou gesin gaan nie, dit gaan die ontlonting van die situasie en die soeke na alternatiewe net bemoeilik. Moet ook nie opkrop nie: gaan praat met 'n vertroueling, soos 'n vriend of jou dominee, en wees eerlik oor jou emosies. Aanvaar dat jy teleurgesteld is en dat dit nie 'n lekker gevoel is nie. Maar neem dan ook 'n besluit om dié emosies te beveg."
Leanne verduidelik dat mense dikwels verkeerdelik dink dat die enigste manier om 'n lekker vakansie te geniet, is om weg te gaan.
"Maar jy kan duisende rande bestee aan 'n oorsese toer; iets kan verkeerd loop en aan die einde van die dag was dié vakansie toe nie so lekker as wat jy voorsien het nie."
Sy sê gesinslede moet besef hulle is almal in dieselfde situasie, en dat beskuldigings nie 'n oplossing gaan bring nie.
"Almal moet saamsit en gesamentlik 'n besluit neem: dít is ons situasie, wat gaan ons nou doen om dit in iets positiefs te verander."
Natuurlik gaan kinders baie teleurgesteld wees wanneer 'n vakansie op die nippertjie gekanselleer word, verduidelik sy.
Haar advies vir ouers is om hul kinders toe te laat om deur hul emosies te werk.
"Dit is belangrik dat hulle sê wat hulle voel. Jonger kinders wat nog nie in staat is om hul emosies te verwoord nie, moet aangemoedig word om 'n prentjie te teken. Gee vir hulle die opdrag om 'n skets te maak van hoe hulle die komende vakansie sien. Daaruit sal die ouer vinnig agterkom wat die kind se emosie is."
Maar sy waarsku ook dat ouers nie mag toelaat dat "moeilike tieners" hul ouers manipuleer nie.
"Só 'n tiener kan maklik met 'n houding kom van 'wat gaan jy nou doen om my gelukkig te maak?'. Die tiener moet egter besef dat om saam as 'n gesin te wees, baie meer waarde het as 'n duur weggaan-vakansie."

Joanna Kleovoulou, 'n kliniese sielkundige van die Bellavida-sentrum in Johannesburg, stem saam.
"As finansiële redes jou dié vakansie dwing om by die huis te bly, is dit die ideale tyd om meer tyd aan gesin se saamwees te spandeer. Liefde en samesyn kan nie met 'n duur vakansie gekoop word nie."
Sy verduidelik dat vir elke moeilike situasie wat ontstaan, daar ook 'n positiewe geleentheid ontstaan.
Ouers moet aanvaar dat hul kinders die kansellering van 'n vakansie moeilik gaan verwerk.
"Maar omskep dit in iets positiefs: verduidelik vir hulle dat julle steeds 'n vakansie gaan hê, maar dié keer met 'n verskil: julle gaan aktiwiteite as 'n gesin saam by die huis doen, en ook plekke in jul omgewing besoek waarvoor daar nooit tyd is nie."

Die familie wil kom kuier

Hoe gemaak met familie en vriende wat by jou wil kom afpak, maar jou finansiële situasie veroorsaak dat jy hulle nie kan ontvang en onthaal nie?
Leanne sê openlikheid en eerlikheid is die wagwoord.
"Wees eerlik met hulle en verduidelik jou situasie. Laat hulle besef jy wil hulle graag ontvang, maar dat hul geen duur uitstappies en vermaak, of eksotiese disse drie keer per dag moet verwag nie."
Sy stel voor dat wanneer jy wel familie ontvang, daar ooreengekom moet word om kostes te deel.
"Dit is niks om oor skaam te voel nie. Jy sal verbaas wees hoeveel begrip daar bestaan vir ander se finansiële situasie."

Kry hulp

Finansiële onsekerheid kan 'n vernietigende invloed op 'n mens se selfbeeld hê, wat dikwels met ernstige depressie gepaard gaan. Baie mense sien dan ook selfmoord as die enigste oplossing. Maar daar is hulp: kontak die anti-depressie-ondersteuningsgroep op 011-262-6396.
 

Finansiële redes kan 'n droomvakansie kelder – maar daar is (lekkerder!) alternatiewe. En dit is sommer in jou eie omgewing tot jou beskikking! Om uit te vind hoe, lees die artikel Pretvakansie met Jan Tuisbly se karretjie in dié maand se uitgawe van jouwêreld.

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] joutuisblad ] jougeskenke ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

Opsoek na enige
onderwerp in jouwêreld?
Deursoek ons hier!

Google
Custom Search

joutuisblad
jouhoofstories
joumenswees
joupolitiek
jouapplous
jouleefstyl
joukontrei
jou
jourubrieke
joufiksie
jougeskenke
 
gratis nuusbrief
vertel jou vriende
medewerkers
adverteer
wie is ons
 
ander uitgawes
jouwêreld Facebook-groep